Aros verkry volle registrasie

Aros-opedag (13 Mei 2017) Foto: Aros

Die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) het Dinsdag sy volle registrasie dokumentasie van die departement van hoër onderwys en opleiding ontvang. Die instelling beskou dit as ʼn reusestap in die proses om Aros as ten volle private Christelike hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika en internasionaal te vestig.

Enige private geregistreerde hoëronderwysinstelling verkry eers voorwaardelike registrasiestatus wat slegs deur ’n proses van voldoening aan al die voorwaardes en vereistes wat deur die raad op hoër onderwys (RHO/CHE) en die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) gestel word, omgeskakel kan word na volle registrasie. Dit bied dus aan so ’n instelling onvoorwaardelike goedkeuring om geakkrediteerde grade en ander kwalifikasies aan te bied.

Volgens dr. Morné Diedericks, Aros se akademiese hoof, ondersteun Aros se voldoening aan hierdie minimum vereistes dié instelling se strategie om wêreldklas navorsing en programontwikkeling verder uit te brei.

“Die Aros-bestuur se skakeltoer vroeër vanjaar na verskeie internasionale universiteite is juis onderneem om Aros internasionaal te meet, en ook seker te maak dat Aros die beste internasionale praktyke toepas”, aldus Diedericks.

Niclaas Roets, Aros se uitvoerende hoof, beskou hierdie historiese gebeurtenis as ʼn belangrike geleentheid. “Die volle registrasie van Aros as volwaardige private hoëronderwysinstelling bied aan Aros die geleentheid om met sy unieke opleidingsmodel ook goedbegronde, karaktervaste vakspesialiste in onderwys en ander velde op te lei, en so die Suid-Afrikaanse gemeenskap nog beter te dien”, sê Roets.

Hierdie proses is volstoom aan die gang met twee verdere kwalifikasies in die onderwysveld wat reeds vroeër vanjaar by die raad op hoër onderwys en die departement van hoër onderwys en opleiding ingedien is. Die senior VVO-onderwysgraad sal aan gegradueerdes van hierdie kwalifikasie toelating bied om by hoërskole vir onderwysposte vanaf graad 8 tot 12 aansoek te doen. Die nagraadse gevorderde onderwys sertifikaat (NGOS) is ʼn NQF 8-kwalifikasie wat aan reeds gegradueerdes uit ander rigtings toegang tot onderwys bied. Terugvoer oor albei kwalifikasies word vroeg in 2018 verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Wie is Aros en waar kom hul vandaar? Is dit uitsluitlik gerig op die onderwys kwalifikasie? Geen betrekking op Akademia nie? Hoekom kombineer hul nie krag te met Akademia nie?

jaco ·

Die een is seker vir Doppers en die ander een vir NG Kerk mense. Gaan kyk net na orania: 1200 mense en daar is AG kerke! G’n wonder ons Afrikaners is in ‘n gemors. Ons kon nog NOOIT ons onderlinge relatief klein onbenullige verskille uitstryk en saamstaan nie.

Praatsaam ·

Gaan loer gerus na hulle webwerf en waarvoor Aros staan. Daar is plek vir baie private instansies in ons land en hoe meer verskeie sulke instansies hoe beter vir die aanvraag. Aros fokus op kwaliteit hoër onderwys opleiding uit ‘n Christelike karakter (en is nie slegs vir doppers of ng nie) en met moedertaal Afrikaanse opleiding. Tans net onderwys…

Anti spur ·

Nice waneer gaan n sentrum vir mediese en wetenskap studente begin word die wat nou daar is diskrimineer teen die huidige benaadeeldes

stella ·

Niks met NG of Doppers te make nie. Gaan doen bietjie jou huiswerk.

Praatsaam ·

Gaan loer gerus na hulle webwerf en waarvoor Aros staan. Daar is plek vir baie private instansies in ons land en hoe meer verskeie sulke instansies hoe beter vir die aanvraag. Aros fokus op kwaliteit hoër onderwys opleiding uit ‘n Christelike karakter (en is nie slegs vir doppers of ng nie) en met moedertaal Afrikaanse opleiding. Tans net onderwys…

1+1 ·

Aros se begronding wat opvoeding en onderwysersopleiding aanbetref is stewig gevestig. Studente wat daar studeer is in aanvraag by alle skole.

Ek stem saam met diegene wat aanbeveel om hulle webwerf te besoek.

koos ·

Waar gaan aros se studente eendag werk kry? Weet hulle nie van regstellende aksie nie? Weens my “verkeerde” velkleur is ek vanaf soveel werke weggewys en afgekeur, dat ek maar later my 2 universiteitsgrade van my cv afgehaal het. Anders was ek seker nou nog werkloos. Ek doen glad nie waarvoor ek opgelei is of veel ondervinding in het nie, maar ek werk darem en daars geld om aan die gang mee te bly. Aros se studente moet maar mooi dink oor wat wag eendag op hulle in ons hiper-rasbewuste land. Verkeerde velkleur is n stuk bagasie wat lewenslank kan pla en mens kan NIKS daaraan doen nie. So moenie die bagasie nog swaarder maak met “indrukwekkende” kwalifikasies nie. Dis nag om R300 000 studieskuld SONDER werk terug te betaal.

OudAros ·

Koos…dis juis Aros se benadering wat ‘n veranderende mentaliteit kan voortbring. Met ‘n onderwyskorps wat só opgelei word, skep dit ‘n kans dat die nuwe generasie skoolgaandes se denke vernuwe kan word en ‘n goeie grondslag gelê kan word. Ek sukkel om in te sien wat Aros se nuwe sukses met regstellende aksie en “velkleur” uit te waai het. Dis ‘n Christelike, Afrikaanse universiteit…ons moet ophou dink dat dit insinueer ons bou net die “blanke” nasie hierdeur op. Die visie strek verder as dit…

Blom ·

Ek het by Aros studeer en is baie trots op my kwalifikasie. Ek werk nou selfs in ‘n ander omgewing as onderwys in ‘n baie goeie posisie. Ek het baie waardevolle denkpatrone aangeleer en die praktiese ervaring tydens my studies het my geleer om opbouende kritiek te hanteer en te gebruik om myself te verbeter. Gaan kyk op hulle webwerf en maak ‘n afspraak by bemarking om te sien hoe dinge daar werk voordat jy aannames maak.

PG ·

Dankbaar dat hardwerkende en roepingsgedrewe persone ‘n verskil in kinders van regoor die wêreld se lewens kan maak. Aan God al die eer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.