Arres van Mosambiek se oudminister van finansies wél wettig

Manuel Chang, Mosambiek se gewese minister van finansies, in die Kemptonparkse landdroshof. Foto: ANA

ʼn Landdros van Kempton Park het Woensdagmiddag ná ure se argumente en teenargumente tussen die regsverteenwoordiger van Mosambiek se gewese minister van finansies en die staatsaanklaer beslis die lasbrief vir sy inhegtenisneming was wettig.

Die VSA werk aan formele uitleweringsdokumente om oudmin. Manuel Chang na Amerika te laat bring om saam met vermeende medepligtiges op aanklagte van bedrieglike lenings ter waarde van R28 miljard verhoor te word.

Chang was minister van finansies toe hy na bewering in gebreke gebly het om regeringswaarborge van R28 miljard bekend te maak in buitelandse lenings aan staatsfirmas en word sedert 29 Desember aangehou nadat ʼn landdros in Pretoria ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het.

Woensdag het ʼn bedompige landdroshof in Kempton Park wat stampvol was van onder andere Interpol-beamptes, plaaslike en buitelandse media, polisiebeamptes en amptenare van Mosambiek se ambassade, ure lank in besonderhede geluister terwyl die verdedigingsprokureur, Willie Vermeulen, en staatsaanklaer, Elivera Dreyer, oor die wettigheid van die lasbrief geargumenteer het.

Vermeulen het aangevoer dat Chang se arrestasie op grond van die voorlopige lasbrief onwettig was omdat Amerika nie ʼn amptelike, skriftelike uitleweringsversoek aan Suid-Afrika gestuur het nie en nie die land se wetgewing oor uitlewering gevolg het nie.

Maar Dreyer het aan African News Agency gesê dat ingevolge die uitleweringsverdrag tussen Suid-Afrika en Amerika was die inhegtenisneming wettig.

“Dis ʼn ingewikkelde saak veral wanneer hoëprofiel-individue betrokke is. Mosambiek het geen uitleweringsverdrag met die VSA nie; toe Chang dus in Suid-Afrika was, het dit dringend noodsaaklik geword om hom in hegtenis te neem.”

Nadat die hof ten gunste van die staat beslis het, het die landdros die hof verdaag om te besluit of Chang op borgtog vrygelaat moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AJ ·

Willie Vermeulen en Elivera Dreyer het die reg sy loop laat neem. Reg en geregtigheid het geseevier!

As Tambo of Sithole (fiktiewe name) betrokke was sou die krimineel ‘skotvy ‘ losgeloop het?

Cherokee ·

Lees weer wie is Willie Vermeulen en waarom hy daar was. Dan kan jy jou eie kommentaar korrigeer.

Elbie Naude ·

Dit verstom my telkens dat oortreders wat so skuldig soos ‘n R3 noot is altyd een of ander tegniese punt wil gebruik om vervolging vry te spring. Hy weet goed dat as hy aan Amerika oorgelewer word, sy turf gaan sit.

Jepetto ·

Elbie jys reg ek kannie glo die man is inhegtenis geneen .Dit laat dink my aan Grace Mugabe tog is daar lig in die tonnel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.