Arthur Fraser ‘wou nie’ voor Zondo getuig

Arthur Fraser is ‘n bekende bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma. (Foto: DKD)

Die Zondo-kommissie na staatskaping het Arthur Fraser, ʼn noue bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma en omstrede voormalige intelligensiehoof, se stelling weerlê dat hy nie toegelaat is om voor die kommissie te getuig nie.

Fraser het vroeër amptelik beswaar gemaak teen adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, se benoeming as hoofregter.

Hy beweer Zondo het seker gemaak dat hy nie sy weergawe voor die kommissie stel of die geleentheid kry om diegene wat bewerings teen hom gemaak het, te kruisondervra nie.

Hy sê voorts geen onafhanklike regter sou op dié manier optree nie.

Fraser is ʼn omstrede figuur en het as direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) onder Zuma gedien. Verskeie getuies by die Zondo-kommissie het hom by ongerymdhede betrek en daar is onder meer aangevoer hy het intelligensiestrukture gebruik om sy eie persoonlike en politieke doelwitte te bereik.

Hy is later uit die pos verwyder en is as nasionale kommissaris van korrektiewe dienste aangestel. Hy het kort voor sy aftrede toestemming gegee dat Zuma, wat 15 maande tronkstraf moes uitdien, op mediese parool vrygelaat word.

Die Zondo-kommissie het Donderdag teruggekap en sê Fraser se stellings is onwaar.

Die kommissie sê in ʼn verklaring ten spyte van herhaalde oproepe aan voormalige direkteurs-generaal en ministers met kennis van beweerde staatskaping en korrupsie om na vore te kom, het Fraser “vir meer as twee jaar lank nie na vore gekom om sulke inligting met die kommissie te deel nie”.

“Mnr. Fraser het nog nooit ʼn aansoek by die kommissie ingedien om getuienis te lewer nie.”

Die kommissie sê dit is onduidelik hoekom Fraser, as hy gevoel het sekere getuies betrek hom by ongerymdhede, nie gevra het om te getuig nie.

Die kommissie het boonop Fraser se (vorige) regsverteenwoordiger gekontak nadat hy bewus geword het van stelings deur Fraser dat hy “geheime oor presidente en regters oor staatskaping/korrupsie sal bekend maak”.

Die ondersoeker betrokke het gevra om ʼn verklaring by Fraser af te neem, maar volgens die Zondo-kommissie wou die regsverteenwoordiger nie sy samewerking gee nie en het hy gesê Fraser wil nie saam met die kommissie werk nie en dat hulle hul “eie kanale en metodes” sal gebruik.

Fraser het in April vanjaar wel aansoek gedoen vir toegang tot dokumente wat hy glo benodig het voor hy voor die kommissie kon verskyn. Hy is weer gevra om saam met die kommissie te werk. ʼn Aansoek oor toegang tot die dokumente is uitgestel sodat die SVA kon bepaal watter dokumente aan Fraser gegee kan word. Indien hy ontevrede was met die besluit, sou die kommissie die aansoek oor toegang tot die dokumente aanhoor.

Fraser het volgens die kommissie nooit terugvoer aan die kommissie gegee oor hoe daardie proses verloop het nie.

“Dit is net mnr. Fraser wat kan verduidelik waarom hy nooit ʼn aansoek ingedien het om voor die kommissie te getuig nie,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Hierdie vent is net so groot krimineel soos Zuma. Watse dokumente wil hy nou sien voor hy getuig? Seker sodat hy dieselfde kan lieg as sy pelle. As jy iets weet, gaan praat jy en getuig wat jy weet – niks nodig om in dokumente te sien nie. Sluit hom ook toe asb

Juffrou ·

Wat worrie die kommissie enigsins oor dié vent se opinie? Ignoreer hom. Hy soek net lugtyd saam al sy kronies.

JM ·

Lieg net soos Zuma. Voëls van dieselfde vere. Is korrup, wil homself verontskuldig en soek dan die fout by ander. Hy het sowaar in ‘n vorige berig, regter Zondo se integriteit bevraagteken!

Kokerboom ·

Die krimineel MOET swaar gestraf word. Hy is nou arrogant en vermetel verby!!
Lagwekkekkend is ook dat kaders soos hy asook Cele hoogste range as siviele persone toegeken word.. iets wat hul NOOIT verdien het. ‘n Skande. Wat ‘n klap in gesig van ander wat hard werk om range te verdien. Absolute klug. ANC het rangstruktuur goedkoop en belaglik gemaak!!

JohanR ·

Hierdie ou moet ook aangekla word. Bek is net te groot! Maar in die wereld van die ANC kan die ou die volgende onder-president wees.

annie ·

Enigiemand wat nog glo ons regering en regstelsel word/of mag deur edele engele van aardse faam beman (word), is een van dieselfde formaat óf woon op Mars. Die land is gekaap vanaf die Reserwebank se kluis tot by die vuil kantien vir die parlement se ewig arm uitgehongerdes. ‘n Misoes calor ~ onherstelbaar verwoes. En ons so vrome prez gaan staan sowaar in die Kaap op sy kassie en belowe beter-as-dié. ‘n Mens hoop DeK het ‘n groot tv-skerm om sy resep se voltooide opgeklitste briljante konkoksie se laaste stuiptrekkings in die Eskom-buiteoond te aanskou.

Nie Verbaas ·

Is daar een van hulle wat nie lieg nie? Uiteindelike voorbeeld van lafaards.

Inkpot ·

Tipies ANC regering.
Jy word uit een pos verwyder weens ongerymdhede net om in ‘n ander belangrike pos aangestel te word.

Wielspore ·

Op skool het ons ‘n eerste taal gehad wat gewoonlik jou huistaal is en dan jou tweede taal wat gewoonlik Engels was indien jy Afrikaans sprekend was, daar was ook uitsonderings.
Die ANC het ook twee tale, die een is “wat ek sê” en die ander is “wat ek doen”. Dit kom uit die dieselfde mond (persoon) maar verskil van mekaar soos Afrikaans en Engels.
Mnr. Fraser praat die twee tale vlot.

Piet ·

Hy is n anc mafia korrupte boef wat agter tralies hoort soos zuma!!!!!!

Shakespeare ·

Zunami loop vry rond en lag vir die regstelsel. Ek glo nie die opperste skelm was n dag lank in die tronk nie.

Jaco ·

Zuma het darem 1 goeie eienskap: hy is vriende met kleurlinge en Indiërs en hy laat hulle selfs in die opbrengs van sy korrupsie deel. Die res van Zuma se ANC is egter heel anders: wanneer kleurlinge en Indiërs vir werk aansoek doen, hoor hulle dikwels “geen werk vir jou nie, want ons personeelsamestelling moet die nasionale demografie weerspieël”, of hulle hoor sommer reguit “you are not black enough”.
En VOORDAT almal my nou vir my stelling kruisig: ek hét bewyse.

AW ·

Daar is mense op hierdie aarde wat nie weet wat die woord Skaamte beteken nie.

My siening ·

Jou dag kom vinniger as wat jy dink jou korrupte kader. Jy gaan ook nog in jou broek lêk vaagsel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.