Artikel 25 Ad Hoc-komitee wil sperdatum uitstel

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) is gekant teen die Artikel 25 ad hoc-komitee se versoek vir uitstel van die sperdatum vir voorlegging van hul finale verslag, welke sperdatum om middernag vandag verstryk.

“Die uitstel word versoek omdat die ANC en die EFF nog nie ooreengekom het oor radikale voorstelle wat hulle in die wysigingswetsontwerp probeer insmokkel nie, soos onder meer die verwydering van die howe uit die geskilbesleggingsproses,” het Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, in ʼn verklaring gesê.

“Die oponthoud is onnodig, en kon voorkom gewees het as die ANC nie in die eerste plek geswig het voor populistiese vurigheid en die wysiging aan die Grondwet voorgestel het nie. In plaas daarvan om hul eie tekortkominge in grondhervorming aan te spreek het die ANC gekies om eerder die Grondwet te blameer, en sodoende die deur oopgemaak vir die veglustige EFF, wat graag die fondasies van ons demokrasie wil vernietig,” het Lotriet bygevoeg.

Sy sê die DA verwerp steeds ten sterkste die voorgestelde wysiging van Artikel 25, wat reeds in sy huidige formaat genoegsame voorsiening vir grondhervorming maak. “Die ANC, wat kop in een mus is met die EFF, gebruik nou hul kans om wysigings in te smokkel wat nie net Suid-Afrikaners se eiendomsregte benadeel nie, maar ook die reg om gelyke beskerming voor die Reg.”

Deur wysigings voor te stel wat die howe uit die onteieningsproses uitsluit, is die ad hoc-komitee besig om buite hul grondwetlike perke op te tree, aangesien die parlement nie aan die howe mag voorskryf watter sake hul mag en nie mag aanhoor nie. “Die DA staan sterk gekant teen enige poging om die rol van ons howe te verminder, omdat dit burgers se beskerming teen die aksies van die staat sal verswak.”

Sy voeg by hierdie ongrondwetlike optrede van die ad hoc-komitee is maar slegs die jongste voorval, en is simptomaties van ʼn komitee wat reeds van die begin af sy perke gereeld oorskry het – onder andere deur substansieel af te wyk van die oorspronklike wysigingswetsontwerp wat in die Staatskoerant gepubliseer is. “Die wet skryf voor dat materiële veranderinge aan die gepubliseerde wetsontwerp eers weer na die parlement en na ʼn openbare deelnameproses verwys moet word.”

Die ANC is nou besig om radikale toegewings aan die EFF te probeer maak, ten einde hulle steun te werf vir die wysigingswetsontwerp, wat ʼn tweederdes meerderheid in die nasionale vergadering benodig. “Hulle optrede is nie net roekeloos nie, maar ook insiggewend, en illustreer duidelik hoe hulle die kwessie van grond gebruik om politieke punte te wen ten koste van die land se ekonomiese stabiliteit.”

Lotriet sê die Parlement het ʼn verantwoordelikheid om die Grondwet te beskerm en die oppergesag van die Reg te respekteer. “As ʼn beginselsaak moet dit die ad hoc-komitee se verslag verwerp omdat die voorgestelde wysigings aan die Grondwet die regte van burgers en ook die skeiding van magte tussen die nasionale vergadering en die gereg verontagsaam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

En ons blankes is leier loos en die anc kommuniste maak net soos hulle wil

Hendrik ·

Pieter in die huidige demokratiese stelsel het minderheidsgroepe se politieke leiers nie baie invloed nie. Afriforum en kie kry baie meer reg as selfs die amptelike opposisie. Indien jy nie deel is van ‘n gemeenskap sal jy ook nie leiers he nie.

Hendrik ·

Wel ek kan sien hoekom die mense in die Wes Kaap wil afstig van Suid-Afrika. Hoe kan daar politiek bedryf word met onverantwoordelikes en die ergste van alles as die meerderheid van die bevolking die aksies goedkeur deur vir die partye te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.