Artikel 25-komitee kry wéér uitstel

(Argieffoto ter illustrasie: Morné van Rooyen)

Die artikel 25- ad hoc-komitee oor grondonteiening het nou tot 10 September kans om sy werk af te handel.

Dié komitee, wat aangestel is om met wetgewing te begin om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het Donderdag in ’n kort verklaring gesê die Nasionale Vergadering het dié uitstel verleen, sodat verdere openbare insae ingewin kan word.

Om dié rede sal die komitee glo nie in staat wees om sy werk teen volgende week af te handel nie.

Die sperdatum is al verskeie kere uitgestel en sou dié keer op 30 Augustus verstryk het.

Luidens die verklaring is ʼn derde weergawe van die Grondwet se 18de wysigingswetsontwerp nou aan komiteelede verskaf.

“Die besluit om ons lewensduur met twee weke te verleng is deur die programmeringskomitee van die Nasionale Vergadering geneem sonder dat die komitee dit versoek het. Ons is dankbaar vir die ekstra tyd om ons werk af te handel.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum, wat die wysigings aan artikel 25 verwerp, het Donderdag sy insette aan die parlementêre komitee gelewer.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n vorige sperdatum van 31 Mei uitgestel is omdat die ANC en EFF nog nie ooreengekom het oor radikale voorstelle wat hulle in die wysigingswetsontwerp probeer insmokkel nie, onder meer die verwydering van howe uit die geskilbesleggingsproses.

Die DA het vroeër vandeesmaand in ’n verklaring aangedui dat die komitee glo sy leeftyd tot einde Oktober vanjaar wou uitstel om sy werk af te handel.

Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, het in dié verklaring gesê die uitstel is bloot ’n taktiek van die ANC om te tyd te wen.

“Dit is tyd dat die ANC besef dat hierdie skadelike wetsontwerp ondeurdag is en dat dit slegs geld in die water sal wees om die komitee se lewensduur te verleng in ’n poging om die onvermydelike mislukking van sy wysigingswetsontwerp uit te stel.”

Die DA het op 18 Augustus ’n nasionale beraad oor grondonteiening gehou waartydens talle kenners hulle oor die vernietigende gevolge van dié voorgestelde wysigingswetsontwerp uitgespreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Schalk ·

Daar sal geen goed uit die uitstel kom nie. Bloot uitstel taktiek.

Henri ·

Ek kan nie verstaan dat die EFF nog kan deelneem in die verband nie. Wat het geword van die saak teen Floyd oor sy uitlatings dat die onluste van laasmaand soos ‘n piekniek sal lyk teen die geweld waarmee die EFF grond sal beset? Is dit nie aanhitsing tot geweld in die ergste graad nie?

Swerwer ·

Wat wil hul afhandel? Dit is nie implementeerbaar nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

David ·

So, daar is nog te veel teenkanting?

Gaan seker aanhou uitstel tot hulle die antwoord kry wat hulle wil hê

Werner ·

Ons loop presies dieselfde pad as Zim .Die wet sal deurkom dis al hoe die anc nog stemme kan behou.En onthou as die wet verander word kan hulle al jou bates vat geld in die bank jou huis in die dorp.Dit is nie net plase nie dit is alles van jou.

Jr ·

Goed en wel maar hulle sal dit nie kry in sy “original” state. Scorched earth policy

Althes ·

Ek wonder wat gaan die buitelandse koper van Morgenhof wynlandgoed indien die ANC voortgaan met hierdie nonsens.
Wat gaan ander buitelanders doen om hul eiendom te gaan beskerm.
Ons moet buitelandse hulp kry teen hierdie ongeregtigheid.

Jr ·

Wanneer gaan ons besef dat hulle gaan dit doen sonder jou “INSAE” of nie. Hulle is kommuniste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.