As die aarde bewe

(Grafika: Volcano Discovery)

Net toe die spreekwoordelike stof gaan lê het na verlede naweek se aardskuddings in Kaapstad het nog vyf skuddings Donderdag in Suid-Afrika voorgekom.

ʼn Aardskudding van 2,8 het naby Randfontein aan die Wes-Rand voorgekom, een in Odendaalsrus in die Vrystaat van 2,7 en die drie in Emalahleni in Mpumalanga wat tussen 2,1 en 2,7 gemeet het.

ʼn Aardskudding van 6,2 het die aand van 26 September byna 2 000 km van Kaapstad in die Indiese Oseaan plaasgevind. Dit is gevolg deur ʼn skudding van 2,5 later die aand wat 10 km noord van Malmesbury voorgekom het terwyl nog ʼn skudding van 2,3 vroeg Sondag sowat 5 km noord van Durbanville voorgekom het.

Die skielike baie skuddings het sosiale media laat gons veral omdat aardskuddings nie juis ʼn alledaagse gebeurtenis in die Wes-Kaap is nie. “Jy is bewus dat wat onder jou gebeur abnormaal is want jy word letterlik geskud. Jou instink maak dat jy net uit die gebou wil kom en as dit ophou voel dit onwerklik, of dit net ʼn droom was,” was een van vele beskrywings op Facebook.

Prof. Raymond Durrheim. Foto: Wits

“Groot aardbewings is relatief skaars in Suid-Afrika,” sê prof. Raymond Durrheim van Wits se navorsingsleerstoel vir eksplorasie, aardbewing- en mynbou-seismologie.

In ʼn artikel wat in November verlede jaar in die tydskrif The Conversationist verskyn het, het hy Suid-Afrikaners juis gemaan om nie selfvoldaan daaroor te wees nie want selfs ʼn aardbewing van gematigde sterkte wat vlak en naby ʼn stad voorkom kan verwoestend wees, veral as die geboue nie ontwerp is om aardbewingbestand te wees nie.

“ʼn Lae mate van seismisiteit beteken ook nie dat die maksimumgrootte van ʼn aardbewing klein sal wees nie, dit beteken net dat aardbewings minder gereeld voorkom,” sê hy.

Durrheim was in 1969 ʼn tiener in Kaapstad en het persoonlik die dodelikste aardbewing wat in Suid-Afrika opgeteken is, beleef. Dit het die Boland op 29 September getref en 6,3 gemeet. Aansienlike skade is aangerig en 11 mense is dood.

“Dit is duidelik in Kaapstad gevoel hoewel dit 120 km ver in Tulbagh, Ceres en Wolseley voorgekom het,” sê hy. “En die sowat 2 000 naskokke is steeds vir etlike maande daarna nog gevoel.”

In Tulbagh is geboue in die historiese Kerkstraat feitlik vernietig en verdere skade is ook aangerig tydens ʼn sterk naskok in April 1970 wat 5,7 gemeet het. Kerkstraat se geboue is later herbou en vandag huisves dit ook die Tulbagh-aardbewingmuseum.

‘n Vyfjarige Simon Rademan.

Die Pretoriase modeontwerper Simon Rademan was vyf jaar oud en reeds in die bed in sy ouerhuis in Ceres toe die aarde daardie aand begin bewe het. Hy sê dis tot vandag toe vir hom onmoontlik om die gebeure te vergeet.

“Ek onthou hoe warm dit was die aand en hoe die honde nie wou ophou blaf nie. En dan onthou ek ook hoe my pa gebloei het omdat ʼn skoorsteen-baksteen hom teen die kop getref het op pad by die huis uit.”

Die berge wat Ceres omring was letterlik aan die brand soos rotse verskuif en loof aan die brand laat slaan het. Ligdag was die mense stomgeslaan oor die skade wat aangerig is en inwoners wat nie na hulle huise kon terugkeer nie het in ʼn laagte buite die dorp saamgetrek en in kombi’s, motors en weermagtente geslaap vir ʼn hele paar weke daarna.

Rademan vertel die tydelike verblyf het gou die naam “Bangbroeklaagte” in die volksmond gekry. “Ons het eers twee tot drie jaar later weer ʼn huis gekry en tot dan het ons in asbeshuise in die Dennebos gebly en ek onthou my eerste skooldag was vanuit die Denneboshuis.”

Die gebeure het ook ʼn positiewe gevolg gehad. Die Nasionale Seismografiese Netwerk is kort daarna gestig en met die beplanning en oprigting van die Koeberg-kernkragsentrale is spesiale voorsorg getref om dit teen aardbewings bestand te maak, veral omdat een van die foutlyne in die Wes-Kaap naby Koeberg verbyloop.

Ondanks massiewe vooruitgang in kennis en tegnologie in die vorige eeu kan die presiese tyd en plek van aardbewings egter steeds nie voorspel word nie. Maar wetenskaplikes kan die waarskynlikheid bepaal dat ʼn aardbewing wel sal plaasvind.

Durrheim sê dat hy sy kennis toepas om die risiko’s verbonde aan natuurlike en mynbou-geïnduseerde aardbewings in Suid-Afrika te verminder. Hy het onlangs so ʼn risiko vir ʼn voorgestelde nuwe gaspyp en uitbreidings aan die elektrisiteitsnetwerk beoordeel.

Werk van wêreldgehalte word ook in Suid-Afrika gedoen omdat die land se goudmyne ʼn unieke natuurlike laboratorium bied om die fisika van aardbewings te bestudeer. Dit lok seismoloë van Duitsland, Japan en die Verenigde State hierheen wat dit wat aardbewings voorafgaan navors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cornelius

Kan die Ceres aardbewings en skade goed onthou. My pa het daar gebly en ek was in my eerste jaar op Kovsies.

Carina

My ma was 6mnde swanger met my in Sept 69. Maar ek onthou ook so 5jaar later was daar ook ‘n aardbewing wat in die Paarl gevoel is. Ek was 5j oud en ek en my suster het buite gespeel die oggend toe dit gebeur het. Ons het ons dood geskrik want nie geweet wat dit was nie. Die vensterrame het geratel en een venster het gekraak. Ek weet nie hoe sterk dit was nie, maar vir ons kinders het dit nogal erg gevoel.