‘As dít liefde is …’ – ma van vermoorde Maryna Venter getuig

‘n Foto van Abraham Fourie en Maryna Venter in 2018 (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

Maryna Venter (49) se ouers wou haar in die verloop van haar en haar lewensmaat, Abraham Fourie (52), se verhouding meer as 20 keer gaan haal en huis toe bring omdat hulle vermoed het hy rand haar aan.

Maar die hof het Dinsdag gehoor die vermoorde Venter het elke keer geweier om saam met haar ouers te gaan.

“Elke keer het sy gesê: ‘Nee, Ma, ek gaan nie saam nie, ek is lief vir Brahm,’” het Venter se ma, Jacomina Elizabeth Erasmus, Dinsdag in die rondgaande hof op Bethlehem getuig.

“As dít liefde is, weet ek nie eintlik wat liefde is nie.”

Fourie staan nou tereg op aanklag van Venter se moord. Haar liggaam is op 13 Junie vermink en erg gebrand in die paartjie se huis in Waterstraat op Senekal gevind.

Erasmus het dit in die hof duidelik gestel dat hulle, wanneer Fourie met sy vragmotor gery het en nie tuis was nie, vir Venter gevra het of hulle [Venter se ouers] haar moet kom haal.

“Sy wou nooit weggaan nie. Sy het gesê ons moet wag. Ons kan haar gaan haal wanneer sy nie meer kan nie.”

Erasmus het getuig sy het op 8 Junie – vier dae voor haar dood – vir Venter gevra of hulle haar moet kom haal. Fourie was juis op die pad met die vragmotor en Venter was in daardie stadium erg siek.

“Ek weet nie of dit verkoue of griep was nie, maar sy het baie gehoes en genies. Ek kon hoor sy het pyn gehad.”

Erasmus het Maandag reeds getuig dat Fourie vir haar en haar man, Adriaan Willem Erasmus, tydens die paartjie se nege jaar lange verhouding telkens gebel het om Venter te kom haal omdat hy glo nie meer haar drankprobleem kon hanteer nie.

Venter het dan ook elke keer volgens Erasmus geweier om saam met haar ouers te gaan.

“Sy het wel nooit vir haarself gepraat nie. [Fourie] het altyd gepraat. Sy het ook nooit vir my dronk gelyk of na drank geruik nie,” het Venter se ma voorts getuig.

Abraham Fourie word aangekla van die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens Erasmus het haar dogter elke keer nuwe merke aan haar gesig gehad, waarna Fourie volgens haar getuienis beweer het dat Venter gedrink en geval het.

“Ek vermoed sy wou nie hê ons moet haar gaan haal nie, want dan weet sy daar sal ’n aanrandingsaak wees. Ek dink ook sy wou nie saam met ons terugkeer na Hennenman, haar grootworddorp, nie omdat sy te skaam was dat mense moes sien hoe sy toe gelyk het.

“Want almal weet hoe sy eens op ’n tyd gelyk het.”

Erasmus het getuig hoe haar dogter fisiek agteruitgegaan het. Sy het getuig dat sy die sig in haar regteroog verloor het en dat sy self aan haar ma erken het dat sy nog net sewe tande in haar mond het.

“Ek het haar gepols om saam met ons Hennenman toe te gaan en by ’n dokter uit te kom om na haar tande en oog te kyk. Sy wou nie.”

Venter het nooit self aan haar ouers erken dat Fourie haar aanrand nie, maar op WhatsApp-boodskappe vir haar ma gesê “die blou kolle is nie so erg nie”.

Maroela Media het Maandag berig Venter het op 8 Junie indirek in ’n stemboodskap aan haar erken dat Fourie haar slaan. Sy het ook vir haar ma gevra om hierdie boodskappe te bêre vir “as sy wegraak”.

Erasmus sê sy het Venter ook aangemoedig om ’n aanrandingsaak teen Fourie aanhangig te maak, maar sy wou nie.

“My man het by die polisie op Hennenman raad gevra, en hulle het gesê ons hande is afgekap omdat Maryna self moet erken dat hy [Fourie] haar slaan. Ons het geweet hy is besig om haar te verniel, maar kon niks doen nie.”

Vulgêre boodskappe

Erasmus het in die hof stemboodskappe hardop gespeel wat Fourie vir haar gestuur het. In die boodskappe kan gehoor word hoe hy op Erasmus skree en vulgêre taal gebruik.

“Hy het in die meeste van sy boodskappe só met ons gepraat. Geen respek vir enigiemand gehad nie.”

Volgens Erasmus het Fourie baie sulke boodskappe vir haar gestuur. Sy getuig hy het op een dag selfs 71 sulke boodskappe vir haar gestuur.

Erasmus het getuig Fourie het nie ’n goeie verhouding met haar, haar man of Venter se broers – wat in die VSA en Australië woon – gehad nie. Volgens haar het hy hulle selfs die laaste ruk belet om Venter te besoek.

Volgens Erasmus moes hulle vir Fourie toestemming vra of ’n afspraak maak om Venter te besoek.

Erasmus sê sy kon slegs deur middel van WhatsApp-boodskappe met haar dogter kommunikeer.

Fourie het hierdie stelling in die hof betwis en aangevoer hy het dit nooit gesê nie en ook nie gekeer wie vir Venter besoek nie, aangesien hy self heeltyd op die pad was.

“Ons kon haar ook nie in die geheim besoek nie, want volgens Maryna was sy bang hy [Fourie] kom skielik terug. Volgens haar was hy nooit lank weg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mariaan ·

Siek storie…dat een mens so houvas op iemand anders kan he…arme vrou..as sy maar net hulp wou aanvaar…hy verdien nie om ooit weer daglig te sien nie..monster

Mariaan ·

Net nog iets…wat op dees aarde het sy in die man gesien…hy LYK soos hy is

VaalDonkie ·

Ek ken iemand wat presies dieselfde bloutjie geloop het. Hulle stories is amper identies. Ek dink dis oor trokdrywers redelik goed geld maak. Veral gemeet aan plattelandse inkomstes (as jy nie ‘n dokter of iets is nie). En ek mag dit maar se want ek het 18 jaar lank gespook om uit die Vrystaatse platteland te kom. En dis nie asof hulle met daai houding begin nie. Hulle is gewoonlik baie vriendelik en liefdevol aan die begin. Dis eers wanneer die ringetjie aan die vinger is wat die ware kleure na vore kom.

SomeOne ·

fourie laat my dink (houding en gesig) aan ‘n ander persoon wat ook nie lank terug moeilikheid veroorsaak het, waarvan daar ook baie nuus in MM was/is

Niklaas ·

Daar is ongelukkig duisende sulke situasies en gevalle. Baie word verdoesel en is agter die skerms.

Kattebol ·

My dogter was 14jr met so n man getroud. Die drank probleem was aan sy kant. Ek was ook vele kere by die polisie sonder sukses. As mens ouer as 16 is mag niemand namens jou n klag lê nie, tensy jy verstandelik gestrem is. Hulle het, dank die Vader, geskei en hy is later dood.

Kensy ·

Daar behoort n wet afgevaardig te word waar die familie / vriende van n persoon wat mishandel word, n aansoek by die hof kan indien wat die persoon onbevoeg verklaar om besluite te neem aangaande sy/haar eie welstand.
Daar is baie faktore wat n mishandelde persoon verhoed om so n verhouding te verbreuk.
Munipilasie/vrees/ finansiele afhanklikheid ens…

sopbeen ·

Is dit nie waarvoor die vroueunie en maatskaplikke werkers voor is nie?

Toy ·

Ek sal nie eers 1 keer vir hom kyk nie.. sal hom gladnie vertrou nie. Hy het seker die son, maan en sterre belowe en elke keer gese hy is vreeslik jammer nadat hy iets aan haar gedoen het, gese hy sal nooit weer nie. Nou is sy dood en haar ouers sit met die hartseer.

Jr ·

Jy kan my sensuur so veel soos julle wil mm maar hierdie ou is gemors en die wêreld moet dit weet. Maar julle wil hê ons moet dit mooi stel om julle liberale denke te pas. En u wat dit sensuur weet dat hy gemors is. Moeg om n leeu, n kat te noem om die wêreld te paai. Charlize Theron het gesê dat alle SA se mans is verkragters omdat ons nie uitpraat of bly stil oor gbv. So om ons altyd te sensuur dra JULLE MM verantwoordlikheid ook vir gbv. Ek weet julle sal hierdie nie plaas maar neem kennis mnr of mev sensor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.