Asbes-ondersoek: Staat bevries eiendom, bankrekeninge

(Argieffoto)

Die hooggereghof in Bloemfontein het ʼn bevel aan die batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) toegestaan om bates van meer as R300 miljoen te bevries wat behoort aan die sewe verdagtes wat vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak.

Die sakeman Edwin Sodi is op borgtog van R500 000 vrygelaat terwyl sy medebeskuldigdes, Nthimotse Mokhesi, Vrystaatse departementshoof van menslike nedersettings, die sakeman Sello Joseph Radebe, Thabane Wiseman Zulu, voormalige direkteur-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings, en Sarah Matawana (Olly) Mlamleli, voormalige Vrystaatse LUR van menslike nedersettings en voormalige burgemeester van Mangaung, elkeen reeds borgtog van R100 000 in die Bloemfonteinse landdroshof toegestaan is.

Mahlomola John Matlakala, direkteur van verskaffingskettingbestuur by die departement van menslike nedersettings, en die Pretoriase sakeman Abel Kgotso Manyeki is elk op borgtog van R50 000 vrygelaat.

Die inhegtenisnemings spruit uit ’n gesamentlike ondersoek deur die Vrystaatse Valke, die spesiale ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Die bewerings hou verband met ’n kontrak wat glo op ʼn bedrieglike en korrupte wyse toegeken is. Daarbenewens het sekere regeringsamptenare glo voordele van die gekontrakteerde maatskappy en/of ’n individu ontvang wat gelei het tot verskeie aanklagte van korrupsie.

Die kontrak was bedoel om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te verwyder, maar die nodige omsigtigheidsproses is nie gevolg nie.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die NVG, het Vrydag gesê die bedrag wat bevries is sluit in R225 miljoen plus rente wat verdien is sedert die oortredings waarvan die sewe beskuldig word gepleeg is, tot 30 September.

Die hof het ook beveel dat ʼn kurator beslag moet lê op eiendom wat aan die sewe behoort, of wat namens hulle deur ʼn ander party gehou word.

Dit sluit in eiendomme, huise, luukse voertuie, bank- en familietrustrekeninge, huishoudelike items en aandele. Die beskuldiges mag volgens Ngwema voortgaan om die eiendom te gebruik en moet dit onderhou hangende ʼn permanente bevel daaroor.

“Hulle word verbied om enige veranderings aan te bring, dit te verkoop, of om eienaarskap van die eiendom oor te dra sonder die toestemming van die kurator en na beraadslaging met die kurator. Hulle moet egter ten alle tye die eiendom beskikbaar stel vir inspeksie deur die kurator of ʼn verteenwoordiger van die batebeslagleggingseenheid,” het Ngwema gesê.

Die staat beoog om na afhandeling van die strafsaak aansoek te doen dat daar permanent op die eiendom beslag gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Kom ons begin eers te sê dat hou op om hulle sakeman of sakevrou te noem. Hierdie is korrupsie op groot skaal.

Pieter

Edwin Sodi het R8 miljoen aan die ANC geskenk. Gaan dit terugbetaal word, dit is misdadige geld. Die ANC is ‘n misdadige organisasie. Hulle hele wese word deur korrupte praktyke gefinansier.

FM

Ek hoop dat geregtigheid suksesvol afgehandel sal word.

Rookskerms het ‘n manier om nie lank te hou nie.

Ons het op alle gebiede nodig dat die korrupsie uitgeroei word.

AlWeerSo

En so plunder hulle met arrogansie voort…

ElizeK

Ek noem AL hierdie skielike vervolgings en uitdeel van landbou grond op huurpag stelsel (wat n grap)
“WINDOW DRESSING”
ANC moet iewers begin om volgelinge wat dalk daaraan dink om af te dwaal, weer in te katrol. Verkiesing lê voor!!!