Asbeskontrak: Sewende verdagte gee hom oor

Argieffoto

’n Sewende verdagte het hom in KwaZulu-Natal aan die polisie oorgegee in verband met die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak.

Dít nadat die Valke Woensdag drie staatsamptenare en drie sakemanne in hegtenis geneem het vir hul beweerde betrokkenheid by dié kontrak van miljoene rande om behuisingseenhede met asbesdakke wat voor 1994 in die Vrystaat gebou is, te beoordeel en te oudit.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die sewende verdagte het hom vroeër vanmiddag aan die polisie oorgegee nadat hy glo Woensdag op die vlug geslaan het in die lig van die ander ses inhegtenisnemings.

’n Lasbrief is ook vroeër uitgereik vir dié verdagte se inhegtenisneming.

Volgens Mulaudzi sal die sewende verdagte later vandag na die Vrystaat vervoer word sodat hy Vrydag saam met sy medebeskuldigdes in die Bloemfonteinse landdroshof kan verskyn.

Luidens mediaberigte is Edwin Sodi, ʼn sakeman, en Olly Mlamleli, tot onlangs nog die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, onder diegene wat reeds in hegtenis geneem is.

“Die beskuldigdes sal op 60 aanklagte teregstaan, wat insluit korrupsie, bedrog en geldwassery ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) én oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).”

Die inhegtenisnemings spruit uit ’n gesamentlike ondersoek deur die Vrystaatse Valke, die spesiale ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die bewerings hou verband met ’n kontrak wat glo op ʼn bedrieglike en korrupte wyse toegeken is. Daarbenewens het sekere regeringsamptenare glo voordele van die gekontrakteerde maatskappy en/of ’n individu ontvang wat gelei het tot verskeie aanklagte van korrupsie.

Die kontrak was bedoel om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te verwyder, maar die nodige omsigtigheidsproses is nie gevolg nie.

“Dit word beweer dat die provinsiale departement van menslike nedersettings die indruk gewek het dat hy deelgeneem het aan ’n kontrak wat deur die Gautengse nedersettingsdepartement gesluit is, terwyl die dienste nie dieselfde was as wat in die bestaande kontrak gespesifiseer is nie, en ook dat die prys van die kontrak hoër was, wat strydig is met tesourieregulasies.”

In die tydperk het die Vrystaatse departement ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as R255 miljoen aangegaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Ace se moed het hom seker begewe?

Frederik C

Sodi wiel draai !!!!!

Scalla

Goeie nuus, lê beslag op hul bates en vorder die geld, stuur hul na die oranje uitrusting bende hotel vir n paar jaar.

Androclus

Waar is mnr 10% Ace met coke dan?

MCL

Hulle moet nou net vir ACE vastrek. Almal van hulle gan goed lyk in hulle oranje pakkies!