Asem vir Covid-19 pasiënte in Namibië

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Minstens 150 nuwe suurstofkonsentrators sal na verwagting broodnodige suurstof aan Namibiese gemeenskappe bring wat nog gebuk gaan onder dié land se derde koronavirusvlaag.

Die gemeenskappe van plattelandse dorpe soos Gobabis, Mariental en Tsumeb is weens die omvang van die derde vlaag genoop om beskikbare persele soos skoolsale in sorgsentrums te omskep waar ernstige siek Covid-19-pasiënte behandel kan word.

Die Namibiese landbou-onderneming Agra, die supermarkte Woermann, Brock & Co. Inland, Woermann Brock Coastal en die Suid-Afrikaanse maatskappy EST Africa skenk nou in ’n gesamentlike poging suurstofkonsentrators ter waarde van sowat 2,5 miljoen Namibiese dollar (sowat R2,5 miljoen) aan dié sentrums.

Piet Stoman, kommunikasiebestuurder van Agra, het Dinsdag aan Maroela Media gesê meer as 100 suurstofkonsentrators is die afgelope twee weke reeds in verskeie Namibiese dorpe versprei as deel van die veldtog Breathe Namibia.

Nog tientalle masjiene sal na verwagting vandeesweek versprei word.

Suurstofkonsentrators word geskenk as deel van die veldtog Breathe Namibia. (Foto: Verskaf)

Volgens Stoman is meer as 50 suurstofkonsentrators in die eerste week van die veldtog aan Covid-19-gemeenskapsentrums in Mariental, Rehoboth, Gobabis, Ondangwa, Opuwo, Tsumeb, Outjo, Grootfontein en Otavi geskenk.

Daarna is nog minstens 50 suurstofkonsentrators in die tweede week aan Covid-19-gemeenskapssentrums sowel as paramedici in Windhoek, Kamanjab, Grootfontein, Gobabis, Okahao, Outapi and Oshakati uitgedeel.

Stoman sê sommige suurstofkonsentrators is ook aan staatsklinieke en hospitale uitgedeel namate die nood ook by dié fasiliteite geblyk het.

“Dit is van kritieke belang dat ons [maatskappye] gemeenskappe bystaan wat hard geslaan word,” meen Stoman.

Namibië beleef net soos Suid-Afrika ’n derde Covid-19-vlaag te midde van die hoogs aansteeklike delta-variant.

Luidens die Namibiese departement van gesondheid se jongste verslag word Covid-19 gevalle in dié stadium nog in al 13 van die land se streke aangemeld.

Die land het tans byna 21 000 aktiewe gevalle met meer as 500 Covid-19-pasiënte in hospitale regoor Namibië. Sowat ’n vyfde van dié pasiënte word in dié stadium in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel.

Nog 37 sterftes is intussen aangemeld. Die land se dodetal staan nou op 2 871.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Keith ·

Er …em .. verskoon my, maar wat van mense wat nie covid het nie, maar nogtans daai tiepe masjiene broodnodig het net om te kan oorleef , en nie kan bekostig om een te koop nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.