Ashton-brug geopen na verskuiwing

Die multi-miljoenrandse Ashton-boogbrug is Sondag amptelik ingehuldig nadat dit die vorige dag sowat 24 meter ver verskuif moes word na sy finale staanplek.

Die boogbrug vervang die bestaande brug wat in die dertigerjare gebou is. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, en Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke, het die brug amptelik geopen.

Die verskuiwing van die brug van R130 miljoen in die klein dorpie Ashton in die Wes-Kaap was die eerste van sy soort in Afrika.

Daar is reeds meer as vyf jaar terug met die konstruksieproses begin. Ten einde probleme met verkeersvlei te verhoed is die nuwe brug langs die ou brug gebou. Na voltooiing is die nuwe brug gebruik as ’n tydelike oorgang oor die Kogmanskloofrivier, terwyl die bestaande brug gesloop is en die ondersteuning vir die nuwe brug voltooi is.

Die brug van sowat 8 000 ton is Saterdag die sowat 24 meter geskuif deur gebruik te maak van ’n unieke sywaartse metode.

Die nuwe boogbrug bestaan uit ’n kabelsteun-betondek wat 110 meter tussen steunpunte strek met boogribbe wat 22 meter bo die asfaltpadoppervlak uitsteek.

Mitchell het gesê die doel van die projek is om verkeer- en voetgangersveiligheid te verbeter. Die ou brug het dikwels oorstroom en vloedskade opgedoen.

Die brug is 113 m lank en is uit 100 ton staal en 600 kubieke meter beton gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Buck ·

Ek dink hulle inligting is verkeerd. Met vloede was die brug na Montagu oorspoel. Nie die ou Ashton brug nie. Maar nou ja!

Boerkind ·

Lyk of dit ‘n over kill is vir daardie riviertjie… miskien bietjie spandabelrig??

Heila ·

Daar is soveel faktore wat inaggeneem is, soos die belangrikheid van die pad (kategorie), die vloed wat in die rivier afkom. As die ingenieur nie haar/sy “due diligence” doen nie kan hy/sy aangekla word. Net soos mediese dokters het Professionele Ingnieurs ‘n etiese kode om te volg. Kyk gerus op die ECSA webwerf.

JAN ·

Ek dink hulle het al die geld op een brug spandeer. Die brugkonstruksie op die N2 by George lughawe staan ALWEER stil. Nou al vier jaar se geploeter en gevaar…

Anthony ·

Great job meanse, kom doen dit asb by die brug op OldJoburg naby Wierda Str oorkant die glof club, asook die een oor die N4 by Lifestyle…..seblief manne

pieterweskaap ·

Met die geweldige vloed van Januarie 1981, is daar mense van die brug oor die Kogmanskloofrivier by Montagu afgespoel wat verdrink het. In die nabygeleë woonwapark was ook lewensverlies en groot skade.

Die brug by Ashton is oor dieselfde rivier.

jou gewete ·

dis n uitstekende brug en deel van die groter projek om die stuk pad na Montagu teen gedurige oorstromings te beveilig. Baie geluk aan AECOM en Haw & Inglis met die prestasie. Vir my is dit ekstra spesiaal, my twee seuns was altwee betokke by die projek

Tokkel ·

En vir wat is die boog oor die brug gebou? Dit is ‘n klein dorpie….kon liewers die geld op behuising of hospitale spandeer het.

jou gewete ·

dit gaan nie oor die dorp nie, wel oor die pad wat sowat 8000 voertuie per dag hanteer en die dorp betaal geen sent daarvoor nie. hulle kry n uitsonderlikke inginieurswerk heltemal gratis

FJ ·

Sonder die boog val die brug in die rivier. Daar is geen kolomme onder die brug om ‘n volgende vloed to akkommodeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.