Aspirant-model in hospitaal ná bakkie haar tref

Fiona le Corre in die hospitaal. Foto: Verskaf

Fiona le Corre in die hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Tiener se droom om ʼn model te word lê dalk aan skerwe nadat sy Woensdagmiddag ná skool op pad na haar ma se werkplek deur ʼn bakkie raakgery is en erge beserings aan haar gesig opgedoen het.

Mina van Zyl, die ma van Fiona le Corre (17), het Vrydag aan Maroela Media gesê Fiona is al van graad 1 af ʼn leerling aan die Dr. W.K. du Plessis-skool in Springs. Sy is tans in graad 10. Sy stap gewoonlik ná skool na haar tannie waar sy kuier en huiswerk doen. Daarna stap sy na haar ma se werkplek in Geduld om saam met haar huis toe te ry.

Fiona het Woensdag klaar eksamen geskryf en is direk ná skool na haar ma se werkplek. Die ongeluk het omstreeks 14:15 in Vierde Laan gebeur, skaars twee blokke van haar ma se werkplek.  “Ek het deur omstanders gehoor dat sy die pad by ʼn verkeerslig oorgesteek het. Hulle het vir my gesê die bakkie het gejaag toe dit haar getref het.”

Sy het gesê sy dink die bakkie was ʼn wit Nissan. Die bestuurder van die bakkie het glo meters verder tot stilstand gekom.

Van Zyl het kort daarna die skokkende nuus ontvang.

“Mense het na my werkplek gehardloop om te kom sê Fiona lê leweloos in die straat,” het Van Zyl gesê. “Ek het na haar toe gehardloop en gebid dat die Here haar moet spaar. Haar hele gesig was opgeswel ek kon haar skaars herken.”

Van Zyl was die heeltyd aan haar dogter se sy terwyl paramedici haar behandel het. Sy is met ʼn ambulans na die Verre Oos-Rand-hospitaal geneem, waar sy tans in die hoësorgeenheid aansterk. Volgens Van Zyl was die manlike bestuurder van die bakkie heeltyd op die toneel, maar hy het in geen stadium met haar kontak gemaak nie.

Fiona se bors is erg gekneus en bene in haar gesig is vergruis. “Toetse het darem gewys dat sy nie bloeding op haar brein het nie,” het Van Zyl bygevoeg.

Fiona le Corre voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Fiona le Corre voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Van Zyl het gesê haar dogter is sedert die ongeluk in ʼn ligte koma. Fiona kan haar oë beweeg, maar het nog nie een keer ná die ongeluk gepraat nie.

“Omdat dit ʼn openbare hospitaal is, kon ons nog nie baie met haar dokters gesels nie omdat hul gedurig skofte ruil. In ons laaste gesprek is vir ons gesê sy is stabiel en gaan oukei wees, maar ek is baie bekommerd oor haar en dat haar beserings haar drome om modelwerk te doen, gaan raak. Ons weet glad nie of sy enige permanente skade opgedoen het nie. Ons hoop om later vandag weer van ʼn dokter te hoor.”

Fiona wil ná matriek begin modelwerk doen. In haar spaartyd hou sy daarvan om na musiek te luister en naels te doen. Sy speel ook netbal en neem aan atletiek deel.

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn klag van roekelose of nalatige bestuur. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort,” het Ramphora gesê.

Die Johannesburgse metropolisie het die dossier oopgemaak, waarna dit na die polisie oorgeplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christa Erasmus ·

Dis baie erg wat gebeur het maar waarom nou so negatief wees oor die toekoms van model? Sover ek kan sien is haar gesig nie vermink nie, daardie bloukolle en letsels behoort mos mooi te herstel. Ek het by n Trauma Eenheid gewerk en hierdie lyk werklik nie blywend nie. Voorspoed!

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

I understand the concern of this, parent and this is, but only natural. I would ‘ve reacted in exactly thw same way as these people. My passionate plea to you is, to have absolute compassion and empathy with one another. She will be alright as Christa, mentioned in her comments. I am hoping that, she will be much better real soon.

CHRISTA ·

Soos telke male voorheen sê ek weer: ek rapporteer ELKE WEEK aan Ekurhuleni se Metropolisie areas waar roekeloos bestuur word – veral op die Modderfonteinpad tussen Kemptonpark en Edenvale waarop ek 2 maal per week ry. Vrydag het ‘n taxi my van die pad af probeer druk!! Ek het net reg voor my gekyk en gemaak of ek hom nie raaksien nie. Hulle gebruik die “left turn only” en “right turn only” bane om voor ander verkeer in te druk, hulle ry oor ROOI VERKEERSLIGTE, maar NIEMAND gee ‘n duit om nie. Hulle moet net onthou: hulle het OOK familielede op die pad!!!

Janine ·

Daai hoofstraat in Geduld is jare terug na ‘n 50 kph verander JUIS omdat skoolkinders raakgery word! Maar slaan mense ag daarop? Nee! Daar word gejaag dat die stof staan, oor rooi ligte gefoeter want mense kan nie stop nie. Magtig, instede vir kwaadgeld langs die pad sit om omkoopgeld in te oes, laat die Metro hul verdomde werk begin doen!

Ek hoop die meisiekind herstel vinnig en sterkte aan almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.