‘Asseblief, ek wil net huis toe gaan’

Gerco van Deventer en sy vrou, Shereen. (Foto: Facebook)

Die familie van ʼn Suid-Afrikaner wat sedert November 2017 in Libië aangehou word, sê hulle weet dat sy bejaarde ouers hom waarskynlik nie weer lewend gaan sien nie – maar hulle hou aan hoop.

“Jy leef op genade. Jy leef op hoop, want daarsonder kan jy nie deur ʼn dag kom nie. Dis verskriklik,” sê Carlé Weber, Gerco van Deventer se suster.

Van Deventer (43) is ʼn ervare paramedikus wat voorheen onder meer in Afganistan gewerk het. Hy is in 2017 op ʼn een maand kontrak na Libië, maar is op die eerste dag by sy nuwe werk saam met drie Turke ontvoer. Dié drie is sedertdien vrygelaat nadat ʼn losprys vir hulle betaal is.

ʼn Video van Van Deventer is in Januarie uitgereik. Daarin pleit hy dat die losprys vir sy vrylating betaal word sodat hy kan terugkeer na sy gesin.

“Ek het baie probleme. My bloedsuiker, ek kan dit nie beheer nie. Ek het ʼn probleem met my hart. Ek het al drie hartpyne gehad, moontlike hartaanvalle … daar is bloed in my urine. Ek moet dringend ʼn dokter by ʼn hospitaal besoek. Ek moet so gou moontlik vrygelaat word…. Asseblief, betaal die geld sodat ek vrygelaat kan word.

“Laat my toe om huis toe te gaan na my gesin in Suid-Afrika. Dit is nou al ʼn baie lang tyd. Ek het in dié tyd nie met my drie kinders gepraat nie, ek het nie met my vrou gepraat of haar gesien nie…

“Ek wil net huis toe gaan. Asseblief, asseblief, asseblief…,” pleit hy huilend in die video.

Dr. Imtiaz Sooliman, woordvoerder van Gift of the Givers het aan News24 gesê die organisasie is sedert die begin van die jaar betrokke by onderhandelings vir Van Deventer se vrylating. Sy ontvoerders is klaarblyklik ʼn Islamitiese splintergroep met bande met Al-Kaïda.

Sooliman het vroeër aan News24 gesê volgens sy inligting is Van Deventer steeds lewend. Sy ontvoerders eis sowat R23 miljoen ($1,5 miljoen) vir sy vrylating, ʼn bedrag wat haas onmoontlik deur sy familie betaal kan word.

“Ek dink nie dis ʼn haalbare bedrag nie. Ons is ʼn gewone middeklasfamilie, ons almal doen gewone werk,” sê Weber.

Sy sê hulle het intussen ʼn skarefinansieringsinisiatief begin om Van Deventer te help om sy lewe te herbou wanneer hy – soos hulle bly glo – gaan terugkeer huis toe en nie vir ʼn losprys nie.

Van Deventer se vrou, Shereen, woon in die Wes-Kaap, saam met die jongste van sy drie kinders. Hy het ook twee kinders uit ʼn vorige huwelik.

Weber sê haar ouers, Jan (77) en Marita (74), verwerk Van Deventer se verdwyning bitter moeilik. Hoewel die familie aanvanklik aangeraai is om die nuus oor Van Deventer se verdwyning uit vrees vir sy veiligheid stil te hou, het hulle in April vanjaar, op sy 44ste verjaardag, besluit om nie langer te swyg nie.

“Dit is ʼn moeilike ding en elkeen hanteer dit op sy eie manier. In ʼn stadium het die gebeure gevoel soos goed wat net in flieks gebeur. Jy is heeltemal hulpeloos. Wie bel jy? Jy het géén verwysingsraamwerk vir wat met jou gebeur nie,” sê sy.

Sy sê hoewel die regering nie met terreurgroepe onderhandel nie, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering (Dirco) ʼn taakspan saamgestel om die gebeure rondom Van Deventer se verdwyning en aanhouding te ondersoek.

“Ons hoop dat Dirco sy werk doen, maar ons kry maar bitter min terugvoer,” sê Weber.

Sy sê volgens kenners kan die proses om iemand in Van Deventer se posisie te laat vrylaat, jare lank duur.

“Ons hou aan bid vir verlossing.”

Van Deventer is een van verskeie Suid-Afrikaners wat die afgelope paar in die buiteland ontvoer is.

Die Suid-Afrikaners sluit in Christo Bothma, wat in September verlede jaar in Burkina Faso ontvoer is. Twee tussengangers het sedertdien onafhanklik van mekaar gesê dat Bothma reeds op 19 Junie vanjaar dood is.

Die fotojoernalis Shiraaz Mahomed is in 2017 in Sirië ontvoer en word steeds aangehou.

Stephen McGown is ses jaar lank deur Al-Kaïda-militante in Mali gevange gehou voordat hy in 2017 vrygelaat is.

Pierre en Yolande Korkie is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen, ontvoer. Yolande is op 10 Januarie 2014 vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het. Pierre en die Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers is op 6 Desember 2014 dood ná ʼn mislukte poging om hulle van Al-Kaïda-militante te bevry.

Die sogenaamde Bagdad-vier, André Durant, Callie Scheepers, Hardus Greeff en Johann Enslin is op 10 Desember 2006 by ʼn polisieblokkade in Irak ontvoer en is nooit weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Lee ·

EK SAL BID DAT DAAR UITKOMS KOM!! Jy sal weer jou mense sien!!

Dan ·

Dit is vreeslik..
Ons bid, dit is wat ons het, ons Geloof en ons God!

Suid-Afrikaners is nerens meer veilig nie, nie in SA nie en ook nie in die buiteland nie. Sterk staan en moed hou familie en Gerco, God sal jou uitkoms gee.

Linda ·

As die losprys nie betaal word nie, maak hul jou gewoonlik dood, dis vreeslik baie geld wat niemand kan bekostig nie !!

Lee ·

Was daar tot vandag nog geen verdere nuus oor die Bagdad 4 nie??

Realisties ·

Nonsens. Hys besig met emosionele manupulasie. Hy s spekvet op die video met n gesonde kleur in sy gesig.
Daars beskaafde lande waarheen Suid Afrikaners kan gaan vir werk. Ons weet almal dis dobbel met jou eie lewe in daardie lande. Verder, hiers ook bitter siek mense in SA SONDER hulp- dis skreiend gewetenloos on te verwag dat so n bedrag betaal word vir e en onverantwoordelike persoon- merely derduisende van ons mense hier ten gronde gaan.
As dit my familie is? Jammer, TUFF-
Dat die gevolge van jou dade self.

Chanel ·

Luister….. Jy het nie ‘n idee waardeur die familie gaan nie!! Hy het klein kindertjies!! Het jy geen respek nie!! As jy biljoene in jou bank het deel graag dat ons die man kan huistoe bring!! Sy familie en vriende kry bitter swaar!!

Frik ·

Ek neem aan die patetiese regering van die dag se bydrae om hom vrygelaat te kry is weereens n ronde nul.

Stephen ·

Lees aub die boek “Merchants of men” en julle sal beter verstaan hoe hierdie goed werk. Westerlinge word “verkoop” aan splintergroepe gewoonlik deur hulle gidse en motorbestuurders wat vooraf weet wanneer die persoon daar aankom.
Verdere “transaksies” word dan gedoen met die gyselaars wat na ander groepe Jihadiste aangestuur word wat dan uiteindelik die losprys eis. Gewoonlik ISIS
Geen westerling is meer veilig vanaf Wes Afrika tot Midde ooste nie.

Die Suid Afrikaners word aangetrek deur die goeie salarisse maar dis nie die moeite en hartseer werd nie.

pieter ·

Ek hou die regering direk verantwoordelik hiervoor. Dink julle daai man het vir sy plesier daar gaan werk? Die regering druk ons blankes uit die wersmarkte met julle vertraagte BBEEE.
Ek bid vir jou my vriend en ek hoop jy sal weer jou mense sien

Nix ·

Dis baie maklik om agter julle skerms te sit en ‘keyboard warriors’ te wees! Weet elkeen van julle wat gaan die familie deur, praat julle uit ondervinding? Bid eerder vir Gerco en sy gesin dat hy kan huis toe kom! Nooit is ‘n baie lang tyd….

Bekommerde ma ·

En al hierdie goed lees ek nou op die vooraand wat my kinder Abu Dhabi toe gaan……..

STOP ! ·

Wanneer gaan ons leer- bly weg uit hierdie lande! En dan, word daar gese”asb betaal net die geld” regtig, dis nie kleingeld nie, en WIE moet dit betaal!
Verder- as dit betaal word- word nog n kanaal oopgemaak vir ontvoerders!
Nee. Moet nie betaal nie. Jammer.

MJ ·

Ek het ‘n broer, kan net dink hoe moeilik dit vir julle almal is… Sterkte!

Pieter ·

Sterkte gaan niks help nie kom ons staan saam asb en kry die man by die huis waar is die slim mense laat ons n prok kry wat kan help dan betaal ons die geld by hom of haar in praat gaan hom nie huis toe bring nie

Andrea ·

Ek kry hierdie ou só jammer! Wie sou nie pleit om net weer vry te wees en by sy mense te kan wees nie? Sterkte aan hom en sy familie. Mag die Here almal se gebede verhoor en hom veilig terugbring na sy geliefdes

Lana ·

@Realisties, jy klink na ‘n bakgat persoon. Regtig. Jou lewe is seker 100% agtermekaar en jy het nog nooit ‘n fout gemaak nie? Jy oordeel baie maklik en is ook duidelik ‘n begaafde dokter — die dat jy sommer op ‘n video kan sien of iemand gesond is. Suid-Afrikaners sukkel darem om mekaar te ondersteun – dit is hoekom dit so gaan in die land. Mag so iets nooit met jou of jou familie gebeur nie.

Lia ·

Realisties…..watter tipe mens is jy om sulke uitlatings te maak???
Ek is geskok tot in my siel! Die ander van julle ook wat hom so oordeel. Skaam julle!

wiewilweet ·

Come on mense …..hierdie is n saak vir lewe of vir dood….hou op om jammer te kry en dink aan allerhande dinge wat kon verkeerd gegaan het asb tog. Dis waar oplossing vandaan kom. Sodra jou mindset reg is kan jy helder dink. Soos ek sien en lees kry almal jammer ….julle almal is human….Ja ek het ook in die begin maar kyk na die wye prent asb

Waarheid ·

CIA is dalk enigste hoop …kan per toeval nog opdrag daaikant toe …bly glo… maar dit sàl help regeringki en soliman moet saampraat????sterkte.

Magaretha van Heerden ·

Ek stuur nou n verkorte weergawe van my kommentaar en hoop dit gaan deur. Kan iemand nie deur Afriforum of Solidariteit werk om die jong man terug te kry nie. Wat van die Politici wat ons nog goedgesind is soos Lekota Kan hy nie deur middel van die Regering die saak bepleit nie. Ander lande sou al lankal n plan gemaak het. My hart gaan uit na die ouers wat sekerlik bitter swaar kry. Realisties jy is n hartelose, hatige mens . Wat sal van jou word as jy andere so veroordeel.

Monique ·

Ek kan nie glo party mense is so ongevoelig nie, om te se TUFF! Laat hy daar bly? Watse soort mens is jy? Hoeveel van ons mense gaan nie oorsee om net genoeg geld te kan maak om vir hulle gesinne te kan sorg nie, as ons land nie so treurig was nie, was dit nie nodig nie. My man is self nou al 6 maande in Amerika, ek kan myself nie voorstel hoe dit moet wees as hy iets moet oorkom nie, wat nog ontvoer word! Die mense moet begin wakker word en die realiteit besef, ons bly nie in n “fairytale” nie. Dis n donker wereld daar buite!
Baie sterkte Shereen en Familie, ons bid saam julle.

Ook 'n Ma ·

Van ‘n moeder hart kan ek net vra: Wat gebeur met sy vrou en kinders! Die broodwinner bring nie geld in nie! So waarmee moet sy nie alles deel nie, hoe vaar sy finansieel! Hy het gegaan om vir hulle te voorsien en nou rus alles op haar skouers. So hou op om so sarkasties en ongevoelig te wees, dit is mense se lewens wat kosbaar is.

Wil nieweet nie ·

Ek stem 100% saam Realisties….daars niks gevoel in die boodskap wat hy uitgee nie en boonop alles NIKS TRANE nie….come on ou boet jy speeel met joun eie lewe asook met jou familie sinne…hierdie was n hele opset

lh ·

Jy kon my seun gewees het Gerco. . . ek bid God se genade en beskerming oor jou, mag jy veilig huistoe kom!

Karen ·

Sterkte aan die familie, ons weet presies waardeur julle gaan. Bid dat Gerco veilig huis toe sal kom. Jammer vir al die ongevoelige mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.