‘Asseblief, skrap BTW op sekere hoenderprodukte’

(Argieffoto: pixabay)

Voortdurende beurtkrag, kragtariefverhogings, ʼn verhoging in die rentekoers en brandstofprysstygings het talle Suid-Afrikaners op hul knieë en die stygende pryse van basiese voedselitems maak oorlewing vir talle al hoe moeiliker.

Die pluimveeprodusent Astral Foods het vandeesweek gesê hy verwag dat sy inkomste vir die eerste helfte van die boekjaar weens beurtkragontwrigtings beduidend gaan daal. Beurtkrag veroorsaak dat die pluimveebedryf miljoene rande aan diesel vir kragopwekkers moet opdok, met geen verligting in sig nie.

Die koste van pluimveeproduksie oorskry tans die prys waarteen hoendervleis verkoop word.

Die DA vra dus opnuut dat BTW op die prys van hoender wat nog aan die been is, geskrap moet word.

“Die kwytskelding van BTW op hoender aan die been sal die armste Suid-Afrikaners (50% van Suid-Afrikaners) help wat reeds sukkel om kos op die tafel te sit,” sê Noko Masipa, die DA se woordvoerder vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Pluimveeboere moet hul pryse weens die uitwerking van beurtkrag verhoog om hul uitgawes te dek. Verbruikers kan egter nie meer hierdie prysstygings bekostig nie, veral nie vir ʼn stapelitem in die meeste huishoudings nie.

“In baie landelike en stedelike gebiede maak arm burgers baie staat op pluimvee en eiers vir veilige voedingsproteïen in hul daaglikse dieet. Dit hou ʼn groot bedreiging vir nasionale voedselsekerheid in.

“Dit is die regering se plig om sy arm burgers te beskerm deur die beskerming van sy landbou-kommoditeitsgroep, pleks daarvan om dit bloot te stel aan markkragte wat tot sy ondergang sal lei. Die regering doen tans die teenoorgestelde.”

Beurtkrag is besig om die landboubedryf in die geheel te vernietig, wat ’n ramp vir die land se ekonomie sal wees, waarsku Masipa.

“Terwyl die landbou se bydrae tot BBP 2% is, dra die hele waardeketting van landbou tot soveel as 30% tot BBP by. Dit geld vir alle sektore, insluitend die pluimveebedryf.”

Indien daar nie gou ingegryp word nie, kan die verliese tot die BBP rampspoedig wees.

Die DA het aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou geskryf en gevra dat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, en Eskom se bestuur genooi word om die komitee op die hoogte te bring van planne om ʼn voedselsekerheidsramp te verhoed en werksverliese te voorkom.

Die DA het vandeesweek ook gevra dat die landboubedryf as ʼn noodsaaklike diens verklaar moet word sodat dit van beurtkrag kwytgeskeld kan word.

TLU SA en Agri Wes-Kaap het verlede week aan ʼn vergadering deelgeneem waar die land se energiekrisis deur verskeie partye bespreek is. Die organisasies het voorstelle gemaak om die toekoms van voedselsekerheid te verseker te midde van die kragtariefverhogings en -onderbrekings. Lees meer hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianna ·

Ek kan nie verstaan waarom ons BTW moet betaal op kos, medisyne en water nie. In Engeland betaal jy nie belasting op kos nie. Ons word dubbel en dwars belas. Jou inkomste word belas en dan moet jy weer belasting betaal wanneer jy kos koop. Skande!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.