Assistente in winkel aangehou tydens rooftog

(Argieffoto: pixabay)

Altesaam ses winkelassistente en die bestuurder van die Ackermans-klerewinkel in Frankfort, Vrystaat, is Woensdag deur vier rowers aangehou terwyl hulle dié winkel beroof het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê volgens ’n 37-jarige winkelassistent was sy omstreeks 10:40 besig om klante in die winkel te help, toe vier mans die winkel binnegestorm het.

“Die rowers het die assistent, bestuurder, vier personeellede en die klante in een van die stoorkamers gedwing en hulle aangesê om te sit. Hulle het toe die mense met kabelbinders vasgebind,” sê Makhele.

“Die bestuurder van die winkel is beveel om die kas waarin die selfone toegesluit was, oop te sluit.”

Die rowers het al die selfone in die kas, geld en klere in ’n sak geprop, die winkel van buite toegesluit en gevlug.

Een van die klante wat vasgebind was, kon daarin slaag om homself te bevry en het met ’n knipmes die ander mense se kabelbinders losgesny.

“Mense wat buite die winkel gestaan het, is gevra om te help om die winkeldeur oop te sluit, waarna die polisie en veiligheidsmaatskappye na die winkel ontbied is.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

My siening ·

En waar is die sekuriteit dan? Maar soos die polisie geslaap auh!

Kokerboom ·

Dit gaan meer en meer ‘n algemene tendens word weens verarming van land deur ANC bestuur…totale sosio-ekonomiese verval

Cherokee ·

Klein persentasie van misdaad in die land haal koerantnuus. Dit gaan baie erger as wat gedink word. Verlede Saterdag is drie mense geskiet in ‘n verlenging van die straat waarin ek woon. Gisteraand gehoor dit is taxi verwant.
Maandag is die drankwinkel sowat vyf-en-twintig treë vanaf my kantoor beroof. Darem is daar nog vodka!
Dit gaan veel erger as wat die media vertel, omdat die grootste deel van misdaad nie die oë en ore van verslaggewers bereik, en koerante nie die spasie het om volledig te vertel, nie.

Elinette ·

Jy praat die waarheid, Worcester, waar ek woon, was voorheen ‘n baie rustige klein, plattelandse dorpie, maar dit is beslis nie nou meer die geval nie. Nou lig ek nie eens meer ‘n wenkbrou as ek van nóg ‘n inbraak, nóg ‘n sakeroof, nóg ‘n moord/verkragting/ aanranding (GBR) hoor nie. Dit is deesdae alledaagse gebeurtenis ….

Misky ·

Ek stem Cherokee, ons hoor net van ‘n druppel in die emmer. Indien dit werklik bekend gemaak word, gaan Cele se statistieke en gekookte syfers nie meer sin maak nie en watse liegstories gaan hy dan mee moet opdis

JM ·

En ons het gedink die Wilde Weste was erg! Hierdie rowers kom net te maklik weg. Waar kry hulle wapens? Kan net dink.

Karlahari ·

So maand gelede is die kluis by die FNB tak op Ladybrand oor n naweek oopgesny.
Ongeveer twee weke voor dit is die Nedbank tak na toemaak tyd beroof.
Lyk my daar is n groep wat hulle op die klein Vrystaatse dorpies toespits…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.