Astral kry hofbevel teen regering oor dienslewering

Chris Schutte.

Die hoendervleisprodusent Astral het ’n hofbevel bekom teen die regering rakende ’n gebrek aan die lewering van basiese dienste aan ondernemings en gemeenskappe in die Lekwa-munisipaliteit.

Die munisipaliteit se gebrekkige dienslewering met betrekking tot water- en elektrisiteitsvoorsiening het ’n uiters ontwrigtende impak op Astral se bedrywighede in Standerton sowel as op die dorp se inwoners en gemeenskappe in die omliggende gebiede.

Dit het Astral genoop om met regsprosesse teen die provinsiale en nasionale regering te begin om hulle verantwoordbaar te hou vir die gebrek aan munisipale dienslewering in Standerton.

Ingevolge die hofbevel wat vroeër die week in die hooggeregshof in Pretoria verkry is, word die nasionale regering en tesourie nou verplig om by Lekwa-munisipaliteit in te gryp en moet ’n finansiële herstelplan ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies opgestel word.

Die bevel maak ook voorsiening vir Astral om die hof weer te nader vir verdere verligting indien hy van mening is dat die finansiële herstelplan nie geïmplementeer word nie.

“Ons bevestig ons volle steun aan die nasionale regering en die tesourie en sien uit daarna om verder saam te werk ten einde die baie ernstige kwessies wat die Lekwa-munisipaliteit tans in die gesig staar, op te los en die impak daarvan op ons bedrywighede en die gemeenskap,” het Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, gesê.

Astral het reeds vroeg in 2018 regstappe teen die munisipaliteit gedoen nadat infrastruktuur so agteruitgegaan het dat dit groot ontwrigting vir sy bedrywighede veroorsaak het. ’n Hofbevel is bekom waarvolgens die Lekwa-munisipaliteit verplig is om ’n langtermynplan op te stel waarin aangedui word hoe en wanneer hy munisipale infrastruktuur gaan herstel en opgradeer. Die plan het egter nooit gerealiseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Hoekom moet ons die ANC regering sirkus betaal vir dienste wat ons nie kry nie. Wens net ons wil wakker skrik en begin standpunt in neem

Elsabe ·

Ek verstaan nie jou ‘wakker skrik’ nie. Wat bedoel jy daarmee? Wie moet wakker skrik?

Adri ·

Miskien is hierdie die begin van wat jy noem “wakker skrik”. Ons kan net nie almal die regskoste bekostig om hofbevele te kry nie.

Stefan ·

En dan?
Hulle gaan waarskynlik ‘n hofbevel kry dat dienste gelewer moet word en dan gaan niemand hom daar aan steur nie.

Ek verstaan in elk geval nie hoe so’n hofbevel nodig is nie, dis mos reeds in die wet en hulle moet daaraan voldoen.
Nes daar soms ‘n hofbevel gekry word dat stakers nie mag verniel en plunder, dis REEDS die wet en moet net toegepas word.

Ian ·

Sterkte met julle dienslewering oorlog. Kimberley sit met dieselfde onbevoegde ANC lede wat nepotisme najaag en hul ideologie is kommunisme alles net politieke balspel en geen dienslewering omdat hulle nie weet hoe nie want hulle het nie die nodige geleerdheid nie.

Blikkies ·

Instansies en publieke groepe bly hulle na die Howe wend om in te gryp, maar dit help absoluut niks. Die Munisipaliteite dink hulle is ontasbaar en vee hulle agterente af aan die howe, maak nie saak hoeveel keer hulle hof toe gesleep word nie. Dit bleik die Howe is ook nie gretig om voorbeelde van hulle te maak nie? Al hierdie goed vat baie, baie tyd en die omstandighede vergerger by die uur en dag terwyl hulle op en af howe toe sloer, en die Munisipaliteite suiker maar net aan vir self verryking en basta met die res. Miskien moet Standerton se mense ook soos in die NW maak en die werk oorvat. Se maar net?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.