AstraZeneca: Bloedklonte moet aangedui word as ‘uiters seldsaam’

(Foto: Justin Tallis/AFP Photo)

Die Europese Medisyne-agentskap (EMA) het Woensdag gesê bloedklonte moet as ʼn “uiters seldsame” newe-effek aangedui word van die AstraZeneca-entstof teen Covid-19, maar dat die inenting se voordele steeds swaarder weeg as die risiko’s.

“EMA se veiligheidskomitee het vandag beslis dat ongewone bloedklonte met lae bloedplaatjies as uiters seldsame newe-effek aangedui moet word,” het Emer Cooke, hoof van die Amsterdam-gebaseerde EU-medisynereguleerder, Woensdag tydens ʼn perskonferensie gesê.

Cooke het bygevoeg daar is geen spesifieke risikofaktore, insluitend ouderdom, is geïdentifiseer vir bloedklonte nie en dat dit moontlik kan spruit uit ʼn immuun-reaksie. “Spesifieke risikofaktore soos ouderdom, geslag of mediese geskiedenis kon nie bevestig word nie, aangesien die seldsame voorvalle onder alle ouderdomsgroepe voorgekom het. ʼn Waarskynlike verduideliking vir dié seldsame newe-effekte is ʼn immuunreaksie op die entstof.”

Daar was tot dusver 79 gevalle van bloedklonte wat tot 19 sterftes gelei het in mense wat die AstraZeneca-entstof in Brittanje ontvang het. “Teen 31 Maart is meer as 20 miljoen dosisse toegedien en 79 gevalle is aangemeld. Uit die 79 gevalle het 19 mense ongelukkig gesterf,” het June Raine, uitvoerende hoof van die Reguleringsagentskap oor Medisyne en Gesondheidsorgprodukte (MHRA) tydens die perskonferensie bygevoeg.

Wei Shen Lim van die gesamentlike komitee oor inenting en immunisering, het aanbeveel dat mense jonger as 30 ʼn alternatief aangebied moet word tot die AstraZeneca-inenting, indien moontlik. “Volwassenes tussen 18 en 29 jaar oud, wat nie enige onderliggende gesondheidstoestand het nie, moet ʼn alternatiewe Covid-19-entstof aangebied word indien dit beskikbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.