Athlone-drama: ‘Kluisenaar was uiters intelligent’

misdaadtoneel

Argieffoto

Die 61-jarige man wat Woensdag selfmoord gepleeg het tydens ʼn beweerde “gyselaarsituasie” in Athlone buite Kaapstad was volgens bure bekend in die omgewing as “die honde-fluisteraar”.

Michael Volkwyn se honde, wat glo vir hom die wêreld beteken het, is ná gister se gebeure deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ingeneem.

Volkwyn, ʼn ingenieur, het Woensdag selfmoord gepleeg toe polisie ná ’n 12 uur lange onderhandeling sy huis probeer binnegaan het.

Die polisie is Dinsdag omstreeks 18:30 na Volkwyn se huis ontbied nadat ʼn inwoner ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak het dat een van sy honde iemand aangeval het. Hy het glo 13 honde op die erf aangehou. Toe die polisie by die huis opgedaag het, is skote uit die huis op die beamptes afgevuur. ’n 27-jarige konstabel is gewond en hy is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

ʼn Skare mense het in die straat saamgedrom terwyl die drama ontvou het en van die inwoners het selfs kratte aan die omstanders verkoop wat gesukkel het om te sien wat gebeur. Volkwyn se suster, Diane, het aan joernaliste gesê hy het homself en een van sy honde doodgeskiet.

ʼn Inwoner het aan News24 gesê Volkwyn het talle rondloperhonde ingeneem. “Sy mensekennis was baie swak, maar Volkwyn het ʼn spesiale band met honde gehad. Hulle het na hom gestroom,” het hy gesê.

Sy honde was egter aggressief teenoor enigiemand wat naby die huis gekom het, het ander inwoners gesê. “Die meeste mense het dit net vermy om verby sy huis te loop as gevolg van die honde. Die brakke is genadeloos. Daar was talle aanvalle van klein tot ernstig, maar niemand het hom ooit daaroor aangevat nie.”

Volkwyn is deur sommige inwoners as ʼn kluisenaar beskryf. Sy interaksie met sy bure was nooit “vriendskaplik” nie, het een omstander gesê. “Almal het hom geken as die man wat na bewering Herschelle Gibbs se ma met ʼn tuisgemaakte kruisboog geskiet het. Dit was vir ons genoeg rede om weg te bly van hom af.”

Volkwyn is glo in 2000 vir poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy na bewering Barbara Gibbs met ʼn kruisboog geskiet het. Die aanklag is later laat vaar as gevolg van ʼn tekort aan bewyse.

“Hoewel Volkwyn nie die aangenaamste of gewildste persoon was nie, was hy uiters intelligent en gerespekteer in die gemeenskap. Dit is hartseer dat dit gebeur het,” het ʼn inwoner gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.