Athlone-verdagte skiet homself toe polisie opdaag

Argieffoto

Argieffoto

Die beweerde “gyselaarsituasie” in Athlone buite Kaapstad het Woensdag tot ʼn dramatiese einde gekom toe die verdagte (61) homself in sy huis geskiet het.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Die polisie is Dinsdag omstreeks 18:30 na die huis in Athlone ontbied nadat ʼn inwoner ʼn klag by die polisie gemaak het dat een van die man se honde iemand aangeval het. Volgens Van Wyk is die polisie na die perseel om die honde te verwyder. Die man het glo meer as 13 honde op die erf aangehou.

Toe die polisie by die huis opdaag, is skote uit die huis op die beamptes gevuur. “’n 27-jarige konstabel is gewond en is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal,” het Van Wyk gesê. Die beamptes was sedert die voorval op die toneel met die plan om die man in hegtenis te neem vir poging tot moord. ʼn Onderhandelaar is ontbied om die man te probeer oortuig om homself oor te gee.

Gerugte het sedertdien die ronde gedoen dat die man moontlik ander mense in die huis aangehou het en dat dit moontlik ’n gyselaarsituasie was.

Die saak het tot ʼn einde gekom toe die verdagte homself geskiet het en die polisie die huis kon binnegaan. “Die ondersoekspan is steeds op die toneel om die huis te fynkam,” het Van Wyk gesê. “Lede van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) is ook daar om die honde te verwyder.”

Van Wyk kon nie bewerings dat die man vroeër een van sy honde geskiet het bevestig nie. Hy het ook gesê bewerings dat die man geestelik versteurd was, kan nie bevestig word nie.

Totdat sy naasbestaandes van sy dood ingelig is kan die verdagte se naam nie bekendgemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.