ATKV-Tienertoneel 2020: Wenners aangewys

Nichola Viviers (Foto: ATKV)

Ná 223 nuutgeskrewe tekste, 478 mentorskapsessies en die fyn beoordeling van 255 video’s deur die beoordelingspaneel is die wenners van die ATKV-Tienertoneel 2020 Saterdagaand digitaal aangekondig.

Nichola Viviers (18), ’n matriekleerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het die beoordelaars oorrompel met haar vertolking in Bonuspunt, ʼn stuk wat sy self geskryf het. Sy is as die wenner aangewys.

Jeanne-Marie Koekemoer (16) van die Hoërskool Stellenbosch is as die naaswenner aangewys vir haar spel in Val, ʼn stuk wat sy self geskryf het, en Merwe van Gent (18) van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was derde met Ingeperk, ʼn stuk wat deur Ilne Fourie geskryf is. Van Gent se monoloog is ook tydens die kykerskeusekompetisie as die gunsteling aangewys.

Jeanne-Marie Koekemoer (Foto: ATKV)

Deelnemers is vanjaar meer as voorheen uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (huis, isolasie, ingeperk, staties, alleen) in te skryf.

Merwe van Gent (Foto: ATKV)

Hierdie nuutskeppings moes dan voor ’n kamera lewe kry en sewe mentors beïndruk. Dié mentors was Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg.

Viviers, wat volgende jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê sy was al aan die begin van die jaar reg om aan ATKV-Tienertoneel deel te neem, maar toe tref Covid-19 die wêreld.

“Ek moes ’n monoloog skryf [vir die aangepaste ATKV-Tienertoneelkompetisie] en het algehele paniek ervaar.

“My eindproduk is maar eintlik ’n bewys van wat ek deur is. Bonuspunt is beslis ’n rebellie teen die aannames wat daar rondom drama is en teen mense wat amper neerkyk op drama.”

Viviers droom daarvan om eendag ’n goeie Afrikaanse riller te skep.

Die bekende aktrise Amalia Uys, wat ook een van die beoordelaars was, beskryf Bonuspunt as ’n baie intelligente teks.

“Nichola is ’n baie natuurlike aktrise wat ’n heerlike aanvoeling vir komedie het. Ek het die stuk baie geniet.”

Die beste nuutgeskrewe tekste in 2019 is ook tydens die prysuitdeling aangewys.

Pierre André Vivier het weggestap met die prys vir die beste nuutgeskrewe teks van 2019 vir Forte’ F: Har(t)d. Dit is aangebied deur Helpmekaar Kollege. Forte’ F: Har(t)d is ook tydens die 2019 ATKV-Tienertoneelfinaal in die Adam Small-teater in Stellenbosch aangebied.

Die naaswenner vir die beste nuutgeskrewe teks in 2019 is Jo-Aithne Stemmet met haar teks Karnaval en Johann Spies se Met engel gesout was derde.

Volgens Vivier was die nuus dat hy dié prys gewen vir hom heerlik. Veral in ’n jaar waarin almal so na die teater verlang het.

“Die skryfdeel is maar die moeilikste proses van teatermaak. Dit is so alleen en uitmergelend. Wanneer ’n mens hierdie tipe van erkenning kry, gee dit jou weer die moed om agter daai rekenaar te gaan sit.”

Beoordelaars het dié teks beskryf as ’n pragtige stuk werk gevul met empatie, eerlikheid en gevoel en beslis ’n aanwins vir die letterkunde.

Vanjaar het die ATKV ook vir die eerste keer die ATKV-Tienertoneel- digitale monoloogbundel bekend gestel.

Hierdie digitale bundel bestaan uit die 48 top-tekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90 – 100%] toekenning) tydens vanjaar se kompetisie ontvang het.

Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, het die skryf van nuwe tekste as voorvereiste nuwe stemme na die voorgrond gebring wat nie geïgnoreer kan word nie.

“Dit gaan nou stories in die volksmond word wat vlerke kry en ook die eiendom van ander word.”

Die bundel is gratis op die ATKV se webwerf beskikbaar.

Kyk hier na die ATKV-Tienertoneelfinaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariana ·

Baie geluk aan al die wenners asook deelnemers. Aanhouer wen.

Misky ·

Baie geluk aan julle almal!!!! Voorwaar om op trots te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.