ATKV-Woordveertjies: Hiér is die wenners

Irma Joubert het gewen in die kategorie Prys vir Liefdesroman. Foto: Nardus Engelbrecht

Die land se beste skrywers, digters en dramaturge is Vrydagaand by die ATKV se Woordveertjies-toekenningsgeleentheid in Stellenbosch vereer.

Dit is die 11de keer dat die ATKV-Woordveertjies aangebied is en vanjaar se geleentheid is by die H.B. Thom-teater gehou.

Volgens Nita Cronjé, bestuurder: kunste en produksies by die ATKV, lewer al die ontvangers van vanjaar se Woordveertjies ʼn enorme bydrae tot die letterkunde-landskap en is dit daarom ʼn voorreg om die talentvolle skrywers te vereer.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Cronjé. “Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum. Van woordeboeke tot prosawerke.”

Sy sê die hoofdoel van die toekennings is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek. “Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Cronjé is 12 digbundels vanjaar ingeskryf. “Dit is verblydend om agter te kom dat so baie skrywers woeker met hul woorde as jy ook kyk na die 23 nuutgeskepte dramatekste wat ingeskryf is. Die ATKV-Woordveertjies moet skrywers motiveer om aan te hou om tot die Afrikaanse letterkunde-omgewing by te dra.”

Etienne van Heerden het gewen in die kategorie ATKV-Prosaprys. Foto: Nardus Engelbrecht

Cronjé het ook spesifiek verwys na die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering wat sy meen ’n inspirerende kategorie is wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes.

“Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.”

Volgens Cronjé word hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Die wenners van die ATKV-Woordveertjies 2018 is soos volg:

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Prys vir poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Prys vir romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Prys vir spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Prys vir dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart en Braam van der Vyver

Prys vir niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

ATKV-Kinderboektoekennings

Die wenners in die ATKV-Kinderboektoekennings het ook hul pryse tydens die ATKV-Woordveertjies ontvang. Dié kompetisie word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die boeke wat vir hierdie toekennings in aanmerking kom, word deur die kinders self beoordeel.

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie 

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule 

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.