Atlantis-man moet opdok vir skade aan MyCiTi-bus

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

ʼn 22-jarige werklose man van Atlantis in Kaapstad het in ʼn pleitooreenkoms ingestem om R9 000 aan die stad oor te betaal vir skade wat hy aan ʼn MyCiTi-bus aangerig het.

Die bus is met klippe bestook. “Die werklike skade aan die kantvenster van die bus, asook die verlies aan inkomste toe die bus drie dae lank nie in werking was nie, beloop meer as R9 000,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer in Kaapstad, Sondag gesê. Die stad het egter op hierdie bedrag ooreengekom uit simpatie met die jong man se ma wat ʼn lening aangegaan het om die skade namens haar seun te betaal.

“Ek waarsku vandale in Kaapstad dat die stad nie enige kriminele skade aan ons busse sal duld nie en dat ons aktief persone sal vervolg wat sulke misdrywe pleeg,” het Herron gesê. “Die persone wat in hegtenis geneem en suksesvol vervolg word, sal die gevolge dra van hul oortredings.”

Die man het op Sondag, 6 September, die kantvenster van ʼn nege meter laevloer MyCiTi-bus gebreek toe die busbestuurder in Hoopsingel in Saxonsea in Atlantis gery het. “Danksy die bystand van die plaaslike buurtwag en ooggetuies, is wetstoepassers na sy huis gelei en hy is in hegtenis geneem,” het Herron verduidelik.

Hy het gesê tot 17 voorvalle waar busse met klippe bestook word, word maandeliks aan Vervoer vir Kaapstad, die stad se vervoerowerheid, aangemeld. Die ergste gebiede is Atlantis, Khayelitsha, Mitchells Plain en Table View.

“Twee minderjariges, onderskeidelik 14 en 15 jaar oud, is op 5 November in hegtenis geneem toe hulle ʼn MyCiTi-bus in Khayelitsha met klippe bestook het. Hulle is aangekla van opsetlike saakbeskadiging aan stadseiendom. In meeste gevalle is die vandale bekend aan die gemeenskap en ek doen ʼn beroep op die inwoners om die stad se wetstoepassers te help om die oortreders uit te ken,” het Herron gesê.

Skade aan MyCiTi-busse weens misdadigers wat die voertuie met klippe bestook, het tussen 1 Januarie en 6 November nagenoeg R1.6 miljoen beloop. “Dit kan tot R2 miljoen styg teen die einde van die jaar indien hierdie sinnelose gedrag nie hanteer word nie. Ons het inwoners se hulp nodig om ons van inligting te voorsien sodat hierdie voorvalle verhoed kan word, of dat ons die oortreders kan vervolg. Die MyCiTi-busdiens behoort aan ons almal wat in Kaapstad bly en dit is ons almal se plig om daarna om te sien.”

Herron het gesê nóg ʼn probleem was vandalisme by MyCiTi-bushaltes met die hoogste aantal voorvalle wat in Atlantis, Mitchells Plain, Khayelitsha, Table View en die middestad plaasvind. Tot 23%, of nagenoeg een uit elke vier, bushaltes in Atlantis het in Oktober onder vandale deurgeloop. In Mitchells Plain en Khayelitsha was dit 15%, 5% in die middestad, en 3% van bushaltes op roetes in Table View. In Junie vanjaar het drie uit elke vier (74%) van MyCiTi-bushaltes in Mitchells Plain en Khayelitsha onder vandale deurgeloop. “Dit is ongelukkig die pendelaars in hierdie gemeenskappe wat die ergste daaronder ly. Hulle is die persone wat by bushaltes moet staan en wag waar die dakke of glaspanele gebreek is wat veronderstel was om hulle teen reën, wind en son te beskerm,” het hy bygevoeg.

Enigiemand met inligting oor vandalisme of misdadigers word versoek om die Vervoer-inligtingsentrum te skakel by 0800 65 64 63 of hul naaste polisiestasie te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Sou dit my kind wees sou ek die volle skade moes betaal of ek n inkomste het of nie. Deur simpatie met sulke misdadigers te wys sterk jy hulle net in hul kwaad.

heni seemann ·

mag wees… maar dan is jy ook in n ander loonklas…

GES ·

heni – Ek het dan gedag ons is onderworpe aan die selfde wet en almal word onder die selfde kam geskeer. Hoe nou?

heni seemann ·

ek reken as jy in so ‘n lae loonklas beweeg, dan sou jou boete ook diensooreenkomstig wees…

Peet Schabort ·

Nou staan sy ma in vir sy nonsens. Lyfstraf en werk sonder betaling by die busdepot sou beter gewees het. Gee hom ‘n handpomp om ook die busse se bande te pomp.

susan ·

Sal maar my kommentaar vir myself hou. Maroela plaas mos net “sekeres”

Winston ·

Ek beter ook my bek hou Susan. Psigopatiese gedrag. Remedieer met rottang en werk sonder vergoeding.

Sarel Strydom ·

Vergeet van sy ma, hy moes die skuld afgewerk ht himself. ou is y ma weer I die skuld en hy rumoer nog steeds.

Sarie. ·

Èk glo die “tieners” behoort kort gevat te word. As sekere kinders ordentlike lyfstraf van jongs af sou kry, sou dit beter gaan in ons land. Dis duidelik dat die sielkundige “roete”, gèèn impak op die meeste kinders het nie. Buig die boompie,, terwyl hy nog jonk is…. Stel ‘n goeie voorbeeld met gepaardgaande reëls (moets & moenies). Daar moet vasgestelde straf wees vir sekere oortredings; & hoù daarby… Bring sò, orde, roetine & respek terug. Ouers moet òòk by die reëls hou. Dît bepaal jou vertrouenswaardigheid & laat kinders veilig voel… Bv: “My pa het gesê hy kom laai my 3 uur op. Èk kan hòm niè laat wag nie, & anders om….

heni seemann ·

alleen deur wedersydse respek leer kinders respek… lyfstraf is vernederend…

GES ·

heni – Dit is dan ‘n Bybelse voorskrif. Dit moet net reg toegepas word. Dissipline is die wagwoord.

heni seemann ·

ook hier moet ons die bybel in die regte konteks lees…
dissipline kan mens alleen toepas as mens self dissiplineerd is…
n kind moet uit die gevolge van sy handeling leer wat die onderskeid tussen reg en verkeerd is…
as ons dit regkry, het ons n kans dat die kind insien as hy fouteer en kan sy selfwaarde behou… juis dié ervaring kan vir ouers en kinders help, n besonder verhouding vir die toekoms op te bou…
dissipline en lyfstraf is vir my nie sinoniem nie… ons as volwassenes leer mos ook uit ons foute of pas ons wedersydse lyfstraf toe?

Lynette ·

Tyd dat dieselfde met die vernielsugtige studente gebeur.

elize naude ·

kinders kan veel lyfstraf uithou… dink maar aan die wat mishandel is…
kinders het mense nodig wat n goeie voorbeeld VOORLEEF…
kinders het liefde, geborgenheid en die gevoel dat hulle welkom is nodig…
as hulle verbrou, moet die konsenkwensies n leerproses wees…
geweld produseer geweld en as mens daaraan gewoond raak en straf bloot vernedering inhou is mens ook nie meer bewus wat dit aan andere doen nie, omdat hul dit as “normaliteit” beleef…

heni seemann ·

kinders en jongmense wat “geleefde” voorbeeld, geen selfrespek of perspektiewe het nie…?
ledigheid is die duiwel se oorkussing…
lyfstraf??? is die “maklikste” metode waarna mens in onmag en vertwyfeling gryp…
kinders is taai… dink maar aan al die kinders wat mishandeling oor jare verduur…
“straf” moet positiewe gevolge hê… anders kweek mens net nog meer haat…

Gideon ·

Hennie en Elize, julle is seker met sielkunde grootgemaak. Ek het 3 kinders en het 1x gepraat, en gesê hoekom ek hulle gedrag nie aanvaarbaar vind. Die volgende was minder aangenaam vir hulle. Dalk een of twee houe. My kinders is van die bes gemanierde jongmense wat ek nog gesien het!! Ek kry altyd hierdie pluimpies oor my kinders se maniere. Die staat en ouers is verantwoordelik vir hierdie wanorde waarin ons land is! Alles is mos toelaatbaar, en daar is geen behoorlike riglyne vir die mense van hierdie mooi land nie!

Manie ·

Hier is ‘n trotse Ma wat haar kind seker weer uit die penarie red. Hoe vernederd is sy nie vandag asgevolg van haar seun se dade nie. Hy het dalk ‘n goeie opvoeding, maar was meegesleur in die massa vernielsug van sy mede studente.
Êrens in die proses van student wees het die anargie opgebou en tot uitbarsting gekom. Beloftes is gemaak aan arm mense vir geldlike hulp vir hulle studies. Dit het nie realiseer nie.

heni seemann ·

ek gee toe ek moes partykeer meer as “1 x praat”… dit het meer geduld, tyd en wilskrag van my as ouer geverg, om hulle in dialoog te oortuig dat hul gedrag nie aanvaarbaar was nie… maar dit was die moeite werd…
so terloops, kinders leer daardeur ook om n diskussie te voer en ek as ouer het nie alle wysheid met die lepel ingekry nie… daar was etlike oomblikke waar ek as ouer moes toegee dat my kind met n ander siening, reg had…
vandag is hulle 2 gebalanseerde selfstandige volwassenes…
dit het niks met sielkunde te doen die, maar met n positiewe houding en wedersydse respek… behandel ander soos wat jy ook graag van andere behandel wil word…
mense verskil van mekaar… so ook ouers en kinders… elkeen moet sy/haar manier van opvoeding vind…

Dee ·

En wat het die stadsraad(e) gedoen aan vandale wat skade aangerig het by universiteite? Sweet Blou Bôggerol.

sanet ·

@heni – My pa het ook net een keer gepraat dan is ons gewuks! Daarna is ons presies verduidelik hoekom en waarom! Twee vliee plat en siedaar ons weet vandag wat verantwoordelikheid ens. is …

RITA ·

Ek het twee dogters alleen groot gemaak. Ek het net eenkeer gepraat dan het hulle geluister. Daar was dae wat die pap lepel gepraat het, maar dit was min. Hulle het die grootste respek vir my gehad en ek vir hulle. My ma het altyd gese my kinders het die mooiste maniere van al haar kleinkinders. Vandag is hulle getroud met elk twee kinders. Die kleinkinders word ook groot gemaak soos hulle mammas. God “eerste” dan kom onvoorwaardelike liefde en respek.

arie plaasboer ·

Ek hoop en vertrou dat hierdie optrede die dun punt van die wig kan word om die grootskaalse vernietiging van openbare EN privaat eiendom tydens oproer en optogte aan bande te le.
Hierdie optrede is al jarelank te laat om vernietiging van eiendom hok te slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.