Atletiek: Manyonga wen verspot maklik

Luvo Manyonga by ‘n vorige geleentheid. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Die 12de Diamantliga-byeenkoms is Saterdag (18 Augustus) in die Alexander-stadion in Birmingham afgehandel. Dit was die sesde laaste byeenkoms in die 2018-reeks.

Sewe Suid-Afrikaners was Saterdag in aksie.

In die verspring vir mans het Luvo Manyonga gemaklik geseëvier met ʼn sprong van 8,53 m, net 5 cm kort van sy beste afstand van die seisoen naamlik 8,58 m. Die tweede atleet was ver agter Manyonga met ʼn afstand van 8,17 m. Zarck Visser het vierde geëindig met ʼn afstand van 7,90 m.

In die 100 vir mans het Suid-Afrika se Akani Simbine die eerste uitdun in 10,07 sekondes gewen. In die eindwedloop het Simbine sesde oor die eindstreep gehardloop. Die wenner was Christian Coleman in ʼn tyd van 9,94 sekondes.

Antonio Alkana kon net sesde eindig in die 110 m hekkies uitdun vir mans en hy kon nie kwalifiseer vir die finaal nie. Orlando Ortega van Spanje het die finaal in 13,08 sekondes gewen. Die gunsteling in die wedloop, Ronald Levy van Jamaika, was tweede in 13,12 sekondes.

Ander Suid-Afrikaners wat in aksie was sluit in Wenda Nel wat sesde in die 400 m hekkies vir vroue geëindig het. Haar tyd was 57,15 sekondes. Dominique Scott was 17de in 3000 m vir vroue in ʼn tyd van 9:01,64 sekondes.

Die drievoudige wêreldkampioen en dubbel Olimpiese-kampioen, Caster Semenya, was toe nie in aksie in die 1500 m vir vroue nie.

Daar word 32 items tydens die seisoen se byeenkomste aangebied. Sommige items word ses keer en die ander vier keer by die 12 kwalifiseringsbyeenkomste aangebied. Atlete verdien agt punte vir ʼn eerste plek tot by een punt vir die agtste posisie.

Ná Saterdag bly daar nou net die twee finale byeenkomste in die reeks oor. Die byeenkomste word in Zürich op 30 Augustus en in Brussel op 31 Augustus aangebied.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.diamondleague.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.