ATNS ontken rassisme teen lugverkeerbeheerders

Argieffoto (cnn.com)

Argieffoto (cnn.com)

Air Traffic and Navigation Services (ATNS), die regeringsinstansie wat lugverkeer in Suid-Afrika beheer, het Maandag sy skok uitgespreek oor bewerings dat hy twee van sy bestuurders valslik van rassisme beskuldig het.

“ATNS is nie ʼn in ʼn posisie om die meriete van ʼn interne dissiplinêre proses teen Johnny Smit en Leon Altree te bespreek nie,” het ATNS in ʼn verklaring gesê. “Selfs al sou ons hoegenaamd dit wou doen, kan ons nie, aangesien die sub judice-reël van toepassing is. Ons kan egter bevestig dat die twee individue van baie ernstige bewerings aangekla word en dit kan tot hul skorsing lei.”

Die vakbond Solidariteit, wat Smit en Altree verteenwoordig, het Sondag gesê die aanklagte van rassisme hou verband met afsonderlike voorvalle waartydens lugverkeerbeheerders deur foutiewe optrede lugveiligheid in gevaar gestel het.

Smit (bestuurder van lugverkeerbeheerders) en Altree (waarnemende operasionele bestuurder), het dissiplinêre optrede teen vier lugverkeerbeheerders aanbeveel. “Eerder as om die aanbevole dissiplinêre stappe teen die lugverkeerbeheerders te doen, het ATNS Smit en Altree van rassisme aangekla en geskors,” het Piet le Roux, woordvoerder van Solidariteit, in ʼn verklaring gesê. “Die feit dat die betrokke bestuurders wit en die lugverkeerbeheerders (wat lugvaartveiligheidsreëls oortree het) swart is, behoort geen rol te speel nie. Om van die saak ’n rassekwessie te maak, is ’n onreg teen ons lede. Daarbenewens word die publiek se veiligheid in gevaar gestel wanneer ernstige oortredings oor die hoof gesien word.”

Smit en Altree se dissiplinêre verhore het in Oktober ’n aanvang geneem en word einde November voortgesit. Een van die klagtes, waaroor getuienis reeds gelei is, hou verband met ’n voorval wat in Junie 2013 op die OR Tambo Internasionale Lughawe plaasgevind het. In die voorval het die betrokke lugverkeerbeheerder byna ’n noodlottige vliegramp veroorsaak deur aan ’n Boeing 777-200 van ’n internasionale lugredery opdrag te gee om op te styg en ’n kleiner vliegtuig toestemming te gee om terselfdertyd op dieselfde aanloopbaan te land.

Om sake te vererger, is dit uit die klankopname van die gebeure duidelik dat die lugverkeerbeheerder, nadat hy die teenstrydige instruksies gegee het, bewus geword het dat sy instruksies tot ’n ongeluk sou lei, maar stilgebly het in plaas daarvan om noodmaatreëls te tref. ’n Moontlike ongeluk en lewensverlies is op die laaste nippertjie afgeweer deur die inisiatief van die vlieënier van die kleiner vliegtuig wat die landing met ’n riskante uitwykbeweging afgebreek het.

Die voorval is as ʼn klas A2-insident, slegs twee vlakke onder die ernstigste insident op die rangorde van lugvaartinsidente, geklassifiseer – waar die ernstigste insident ’n volskaalse vliegongeluk is. Weens die erns van die voorval en die feit dat dieselfde lugverkeerbeheerder al voorheen ook ernstige foute begaan het, het Smit en Altree dissiplinêre stappe teen hom aanbeveel.

Dana Viljoen, wat die lede namens Solidariteit in hul verhore bystaan, verwerp ATNS se aantyging dat Altree en Smit dubbele standaarde vir wit en swart beheerders toepas. “ATNS beweer dat ons lede rassisties is omdat hulle verskillende aanbevelings ten opsigte van oortredings waar onderskeidelik wit en swart lugverkeerbeheerders betrokke was gedoen het, maar ignoreer die verskille in aard en erns van die onderskeie oortredings.”

Viljoen sê ATNS voer aan dat die aanbeveling van remediërende opleiding vir ’n wit, vroulike lugverkeerbeheerder wat ʼn aansienlik minder ernstige fout begaan het, in plaas van dissiplinêre optrede ’n bewys van die Solidariteit-lede se rassisme is. “ATNS maak hierdie aantyging, hoewel dié voorval slegs as ’n klas B2-insident, vyf plekke laer op die lys van ernstigheid as die A2-insident, geklassifiseer is. Boonop het die betrokke lugverkeerbeheerder die fout onmiddellik volgens die standaardprosedure reggestel en dit nie aan die vlieëniers oorgelaat nie,” volgens Viljoen.

Viljoen meen die dissiplinêre proses teen Smit en Altree is buitendien prosedureel onreëlmatig. “Die betrokke lede word byvoorbeeld reeds in die klagstate, waarin hulle boonop deur die maatskappy sélf eerder as deur gegriefde kollegas verkla word, aan rassisme skuldig bevind.”

ATNS het gesê hy wil dit duidelik stel dat alle lugvaartverwante veiligheidsvoorvalle by die Burgerlike Lugvaartowerheid aangemeld word en gevolglik ondersoek word. “Ons wil die publiek ook verseker dat hul lewens nie in enige stadium in gevaar gestel is tydens die voorvalle nie,” het ATNS gesê. “ATNS sal in ʼn posisie wees om kommentaar te lewer sodra die bogenoemde dissiplinêre prosesse teen Smit en Altree afgehandel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Patat ·

Jammer ATNS, ek glo julle nie. Hoe kan julle vir my sê my lewe is nie in gevaar as ek in een van julle vliegtuie klim, met die berig wat ek so pas gelees het nie?

As ons nou van rassisme beskuldig word, kan ons net so wel almal onttrek, van instrukteurs tot passasiers, en julle aan julle lot oorlaat. Dan sal ons sien hoe val die vliegtuie soos “Doomed” vlieë uit die lug!

Joe64 ·

“Ons wil die publiek ook verseker dat hul lewens nie in enige stadium in gevaar gestel is tydens die voorvalle nie,” het ATNS gesê.
Is dit nie juis duidelik dat ATNS reeds redelike denke verloor het nie? Gelukig vir lugvaart gebruikers moet burger lugvaart aan internasionale standaarde voldoen, anders verloor hulle die status. Mens kan sowat 48 lande in Afrika noem wat die selfde pad geloop het.
Sterkte, mens kan dink dat ons eendag die kinders vertel van “toe ander lande se vliegtuie nog hier geland het”.

zahn ·

Kom ons kyk na die kruks van die saak, twee bewegende tuie op een aanloopbaan in aankomende rigtings.

So ‘n oortreding KAN lewensgevaar inhou. Ek glo skok het ingetree, iewers, al is dit in ‘n neusgat. Ek glo nie “soorrie” sou hier gehelp het nie, en kan nie gesien word as kwytskelding nie. Die verantwoordelikheid wat saam met die pos gaan, kan nie oor die hoof gesien word nie.

Waar is die rassisme? Toe booetie sien wat hy gedoen het, was sy eerste reaksie om homself van blaam te onthef, en die eerste stok wat hy in die hande kon kry? You racist bastard!…

scalla ·

Die tor het seker op daai stadium van die prop afgeval, verstaan tog as jy onbevoeg is vir die taak, moenie die rede/oorsaak op n ander plek gaan soek en die skuld oor te skuif na iemand anders, vat jou eie verantwoordelikheid!!

ai ai ·

Nee kyk, hoop Solidariteit wen die saak, daar is baie lewens wat in hulle hande gelaat word!!

Nonnie ·

Is dit nie ironies dat, sodra die onbevoegdes uitgevang word met lewensgevaarlike dade, dan draai hulle om en roep luidkeels “Rassisme!!!!!” Ai foetog, hoe uiters belaglik……. Is daar nie ‘n ander word wat nou weer gemisbruik kan word nie????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.