Atul Gupta staan bevriesingsbevel teen

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal na verwagting Donderdag Atul Gupta se aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein teenstaan om ‘n bevel te betwis om R10 miljoen van sy persoonlike bankrekening te laat bevries.

Die batebeslagleggingseenheid het gesê die geld is betaal uit die Estina-suiwelprojek wat bedoel was om arm boere in die Vrystaat te bevoordeel.

Die omstrede sakeman het op 19 Februarie ʼn hofaansoek ingedien om te probeer om die NVG te verhoed om R10 miljoen van sy persoonlike bankrekening te bevries.

“Ek wil dit sommer uit die staanspoor duidelik stel dat ek tans nie in Suid-Afrika is nie. Ek het op of rondom 2 Februarie 2018 deur die ander geaffekteerde partye bewus geword dat ʼn bevel uitgereik is om ʼn bedrag van R10 miljoen wat na bewering in ʼn onbekende bankrekening van my is te bevries,” lui sy verklaring.

“Geen so ʼn bevel is op my bedien nie en ek het slegs rofweg van die feite rondom die bevel kennis geneem deur my regsverteenwoordigers. Ek ontken dat ek R10 miljoen ontvang het soos beweer word. Ek het egter nie die geleentheid gehad om die hofdokumente te lees nie, wat soos ek verstaan lywig is.”

Hy het gesê sy verklaring is “uiters haastig” op 7 Februarie voorberei en is op 8 Februarie by die Suid-Afrikaanse konsulaat in Dubai geteken en beëdig.

Die Valke het op 14 Februarie drie mense in hegtenis geneem tydens ʼn klopjag op die Gupta-familie se huis in Johannesburg. Die Valke het na afloop hiervan gesê operasies by nog persele word gedoen en nog inhegtenisnemings word verwag.

Die Valke se klopjag op die Guptas se luukse huis in Saxonwold hou verband met die familie se beweerde verduistering van geld wat bedoel was vir ʼn suiwelplaasprojek in die Vrystaat.

Op 15 Februarie het altesaam agt verdagtes, wat in hegtenis geneem is na afloop van dié klopjagte, in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Hulle is Peter Thabethe, oudhoof van die Vrystaatse departement van landbou, Seipate Sylvia Dlamini, personeelhoof in die toe minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane se kantoor, Takisi Masiteng, distriksdienstebestuurder van die departement van landbou, Ashu Chawla, uitvoerende hoof van Sahara, Nazeem Howa, voormalige uitvoerende hoof van Oakbay Investments, Varun Gupta, neef van die Gupta-broers en voormalige uitvoerende hoof van Oakbay, Ronica Ragavan, waarnemende uitvoerende hoof van Oakbay, en Kamal Vasram.

Sewe van die beskuldigdes is op borgtog van onderskeidelik R10 000 en R200 000 elk vrygelaat. Die saak is tot 17 Augustus uitgestel.

Die Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh, is in die buiteland. Die Valke het vroeër bevestig dat Ajay ʼn voortvlugtige is, maar het gesê hy word gesoek vir ʼn korrupsiesaak wat nie verband hou met die omstrede Estina-suiwelplaasprojek nie.

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal.

Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

ASMUUS? Hys n voortvlugtige, daars n lasbrief teen hom uit, EN HY STAP BY DIE DUBAI KONSELAAT UN en handig dokumentasie in TEEN die beslag bevel…. EN STAP WEER UIT? Ja wel no fine lekker in die ANC KADER se onbevoegdheid regime.

marous ·

Die arme onskuldige man . Waarom kom hy nie dadelik terug om sy naam in ere te herstel nie ? Hy kan sommer ‘n groot ope vergadering by Soweto stadion hou….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.