Atul Gupta ‘word onregverdig behandel’

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die omstrede sakeman, Atul Kumar Gupta, en ses ander aansoekers, waaronder die Indies staatsbeheerde Bank of Baroda, het Donderdag bewaringsbevele wat op hulle beteken is in die Vrystaatse hooggeregshof betwis.

Atul Gupta, wat ʼn nabye sakevennoot van voormalige pres. Jacob Zuma is, het die aansoek in samewerking met Aerohaven Trading, Oakbay Investments, Westdawn Investments, Annex Distribution, Islandsite Investments One Hundred, en Eighty by die hof ingedien.

Die aansoekers versoek die hooggeregshof om die bewaringsbevele, wat insluit om R10 miljoen in Gupta se persoonlike bankrekening te bevries, ter syde te stel. Hulle voer aan geen eiendom wat in die bevele genoem word, behels wins uit ʼn misdaad nie.

Motlalekhotso Knorx Molelle, die waarnemende direkteur van openbare vervolging, het die aansoek egter teengestaan omdat “ʼn aansienlike aantal bewyse deur die ondersoek bekom is”.

Die aansoekers het aan die hof gesê daar is geen bewyse voor die hof dat die eiendom wat onder bewaring geplaas is, op onwettige wyse bekom is nie.

Atul Gupta, wat nie in die land is nie, is deur adv. Rafik Bhana verteenwoordig. Die Bank of Baroda is deur Luc Spiller verteenwoordig, terwyl adv. Michael Hellens vir Aerohaven, Oakbay, Westdawn en Annex Distribution opgetree het.

Adv. Michael Hellens. Foto: ANA

Dié drie regsverteenwoordigers het aangevoer hul kliënte word onregverdig behandel deurdat hul geldbates bevries is in reaksie op die hofbevel, ten spyte daarvan dat daar geen duidelike aanduiding van hul betrokkenheid is nie.

Adv. Thato Ntimutse tree op vir die staat.

Die saak hou verband met ʼn suiwelplaasprojek naby Vrede in die Vrystaat waar miljoene rande wat bedoel was om arm boere te bevoordeel na bewering na die Guptas herlei is.

Verlede maand het agt mense in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en korrupsie in verband met die suiwelplaasprojek. Dit het die staatsamptenare Peter Thabethe, Sylvia Dlamini en Takisi Masiteng ingesluit wat op R10 000 borgtog elk vrygelaat is.

Varun Gupta, Ronica Ragavan, Nazeem Howa en Ashu Chawla is op R200 000 borgtog elk vrygelaat. Kamal Vasram, direkteur van Estina, was ook in die beskuldigdebank.

Die saak is vanoggend hervat met die staat wat sy kant van die saak stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KP ·

Die hof moet hom beveel om self teenwoordig te wees. Hoekom wegkruip as hy beweer hy niks verkeerd gedoen het nie.

Hansie slim ·

Kan nie glo hulle dink hulle word onregverdig behandel nie.. Hoe arrogant kan jy kry?
Sluit toe en gooi die sleutel weg!

I ·

Waarom pik op die besigheids mense. Die staat het meer as genoeg regulasies om uitbuiting te voorkom. Politisie en kiesers is verantwoordelik vir die wanspandering.

E.K. die eerste ·

Enigeen met meer as twee breinselle weet ook dat Abrahms gesloer het met vervolging sodat alle spore kan uitgevee word. Natuurlik is Guptas betrokke en skuldig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.