Aucamp: ‘Msimanga het my nooit gevra om te bedank’

Marietha Aucamp. Foto: Facebook

Marietha Aucamp, die Stad Tshwane se personeelhoof wat Donderdagaand te midde van ʼn mediastorm bedank het, het Vrydag gesê dis onwaar dat Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, vir haar gevra het om te bedank.

Aucamp het gesê sy sal nie reageer op die verklaring wat vrygestel is deur Msimanga dat hy haar glo gevra het om te bedank nie.

“Dit is nie hoe ek die gesprek onthou nie. Die gesprek was gebaseer op waar ons in die oomblik in die stad is, wat die politieke risiko is en wat die risiko verbonde is as die administrasie voortgaan,” het sy in ʼn onderhoud aan Talk Radio 702 gesê.

Toe sy gevra is of sy voel dat sy bedrieg is aangesien die burgemeester se verklaring anders beweer, het sy weereens volgehou sy is nooit gevra om te bedank nie.

“Ek weet die burgemeester het nie daardie verklaring geskryf nie, so ek voel nie bedrieg deur hom nie.”

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, het gesê die verklaring was in oorleg met die burgemeester geformuleer en die korrekte proses is gevolg.

Mgobozi hou vol die verklaring is uitgereik met die burgemeester se goedkeuring.

Maroela Media het vroeër berig News24 het berig dat Aucamp die pos van R1,2 miljoen per jaar losgeslaan het ten spyte van die feit dat sy moontlik nie oor die gepaste kwalifikasies vir die pos beskik nie. Volgens die berig het die posadvertensie dit uiteengesit dat die kandidaat ʼn Baccalaureus-graad of gelykstaande kwalifikasie moet hê.

Toe Aucamp gevra is hoekom haar persoonlike assesseringsvorm aandui dat sy ʼn Baccalaureus-graad het, het sy geantwoord dat sy nie weet wie daardie dokumente ingevul het nie, want sy het in haar aansoek aangedui dat sy net matriek het.

“Ek dink daar was persoonlike lêers van myself en ander kandidate van die stadsbestuur-pos wat gelek het. Ek weet daar is ʼn ondersoek aan die gang in verband met die lek daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ben ·

Daar is baie mense wat in poste sit wat nie die regte kwalifikasies het nie en daar is baie mense met vervalste grade. Meeste van vandag se gegradueerders het net n teoretiese opleiding. Ek stel liewer iemand aan met ondervinding, wat kan bewys hy kan die werk doen en wat die werk wil doen. Die wil om die werk te doen beteken baie meer as ‘n persoon met die regte kwalifikasie wat dit al vir vyf jaar gedoen het en eintlik nie meer daarin belang stel nie.

Cherokee ·

Ben, ek is in ‘n beroep waar ingenieurs, kontrakteurs met verskeidenheid van ambagte en faktotums somtyds om werk by my aansoek doen. En omdat ek vele van die omgewing se vakmanne ken stel ek somtyds eerder ‘n ervare faktotum (lees handyman) aan om ‘n spesifieke werk te doen teenoor gekwalifiseerde ambagsmanne. Wanneer ek om kwotasies vra ignoreer ek somtyds kwalifikasies tensy dit gesofistikeerde werk soos elektriese installasies behels.

Antoinette ·

So byt ons mekaar se hakskene. Kan nie die son sien opkom oor n ander ou nie. Oioi

Ek stem ·

Ek stem saam Ben. Goed en wel ‘n univ.graad maar die ruggraat om die werk te doen is hoofsaak. Ek kan sien dat Marietha beslis die ruggraat het.

Cherokee ·

Slegs matriek toegegee, maar as ek dit reg verstaan was daar geen klagtes oor die kwaliteit van haar werk nie. Respekteer ‘n matriekmeisiekind wat ‘n 1.2m werk bekom en dit skynbaar na wense gehanteer het. Volgens my beskeie mening was die enigste fout wat sy gedoen het, om DA te stem. As sy nou verder gaan leer sal sy vir ‘n blanke party stem en dan kan die VF haar ‘n pos aanbied want sy is slim.

Reti ·

Stem saam. Wat nou van die ding as jy ‘potensiaal’ het kan jy vir pos aansoek doen? Ek is seker syt haar werk gedoen. Ek het nie probleem as iemand aangestel is sonder ‘kwalifikasie’ en werk kan doen eerder as ou mét die papiere en BOGGEROL werd is nie.

BB ·

90% indien nie meer van die minister in die kabinet het nie die nodige kwalifikasies nie. Hoe kan n kabinet skommeling dan verseker dat die gewese minister van finansies Gicaba van min van Binnelandesake min van finansies geword het?? Ag kom nou ons gewese president het nie eers matriek gehad nie, en hy SA net in die grond in geboor!!! Sy is wit en mou is dit n groot probleem. As dit iemand van die ANC was dan was dit heeltemaal anders gewees.

Oom Kalahari ·

Marietha, dit gaan nie werklikoor jou kwalifikasie nie, maar die gehalte van suksesvolle diens wat jy verskaf het. Daar was natuurlik bronne wat wou weet en ondersoek hoe kry die vrou dinge so voldaan en toe skielik jou kwalifiserende vermoens ondersoek.
Wel ek het ook ‘n graad -Engineurs graad. “Ek tel die Engin hier op en sit hom daar neer”

ben ·

Iets maak nie lekker sin in die storie nie.
Dink ons hoor nie alles nie.

Cherokee ·

Ag jong, waarna soek jy nog? Alles maak sin. Dar is niks vreemd in die verloop nie.

Koos ·

Meisie swyg nou maar liewer, voor jy nog meer skade aan ou Solly aanrig…

Francois ·

Hoekom gaan hul nie sommer al die poste na vanaf funksionele hoofde en professionele posissies na , en sien hoeveel honderde is aangestel in poste sonder kwalifikasies nie. Julle sal verbaas wees.

WitBlits ·

JZ het geen formele skoolopleiding gehad nie en tog president geword, maar kyk in watse gemors ons land is!!!
Opleiding of kundigheid gee die fondament vir sukses en omdat dit ontbreek in staatsinstansies is daar min dinge wat effektief werk.
Stel gekwalifiseerde en bekwame mens aan en raak ontslae van politiekery in aanstellings!!

Andrea van Vuren ·

Sover ek weet het pres. Paul Kruger feitlik geen skoolopleiding gehad nie.

jaco ·

sy is al n paar jaar ‘n DA raadslid. met n INTREESALARIS van R400 000 per jaar (dis meer vir voorsitters van komitees ens), PLUS ‘n luukse motor, PLUS ‘n petroltoelaag PLUS ‘n selfoonkontrak, is klomp alledaagse goed wat duur is vir ons gewone mense, nie duur vir haar nie. Petroltoelaag beteken ook GEEN uitgawe op duur petrol nie. So baie van daardie R400 000 per jaar word gespaar. Sy het dus reeds ‘n lekker neseier – iets wat die meeste gewone DA -kiesers wat maar ewe getrou vir die DA stem, NIE het nie.
Hierdie verkose politici van ALLE politieke partye lewe ALMAL op vlakke VER bo ons gewone mense wat mooi gevra word om vir hulle te stem “vir ‘n beter lewe”, wat ook nooit vir ons aanbreek nie.

Pikkewyn ·

Ek stem 100% saam met Cherokee en oom Kalahari.Marietha hierdie het niks met jou kwalifikasies te doen nie maar omdat jy jou werk ” te goed gedoen het” en dit di enigste manier was om jou uit jou stoel te lig deur afgunstige mense wat andersins nooit jou pos sou kon kry ni
Just my 2 cent

Boerseun ·

DA weet nie wie en wat hy moet wees nie. Maak te veel staat op die kastige reenboognasie pypdroom met al die korrekte hoeveelhede veskillende gesigte. Die lae DA kieser talle onder swart volke wys duidelik dat die keuse van 65-70% van die land nie vir reenboognasie pypdroom is nie maar eerder n welsyn staat waar die bevooregtes wat nie vir die staat werk nie hulle goed moet deel.

Henrico ·

In my vorige werk as hoof van eksamenafdeling in Oos Kaap was ek die opdrag gegee om onderwysers wat aansoek doen om te merk se gr 12 sertifikate te laat verifieer by die Sertifikaat afdeling…….10% van n totaal van 31 411 aansoeke was vervals en onderwysers het nie matriek gehad nie….dws verdere implikasies is dat hul ander kwalifikasies wat aangeheg was,ook vervals was……grade en ander diplomas…toe die hoofde die omvang van bedrog agterkom,is ek dadelik bevraagteken wie het my die reg gegee om die ondersoek te doen…..onthou….dit is net die wat aansoek gedoen het…..hoeveel ander sit daar by skole met vervalste kwalifikasies……..die storie het net daar doodgeloop

Joe Hall ·

Wat is die verskil tussen JZ en die ANC se herontplooide vlooie wat uitsoek djoppies met miljoen Rand en meer salarisse as burokrate ontvang en die DA se herontplooide vlooie en voormalige politici, wat ‘n sagte donsveer omsoomde landing in ‘n burokratiese nessie met ‘n miljoen Rand troosprysie ontvang?
Newwirmaaind vorige ervaring en vir seker geen noodsaak vir regte egte kwalifikasies nie.

Magda Grundling ·

Ek het ook by munisipaliteit gewerk en daar was n paar jaloerse dames wat gedurig in groepsverband mense beinvloed het met leuens en my manier van dissipline. Die een dame se man het my gedurig van oneerlikheid beskuldig en gedurig my cv bespreek en opmerkings gemaak. Gelukkig het ek my sertifikate baie goed bewaar. Tipies van mense.

jakes ·

Maak nie saak wat sy verkeerd gedoen het nie, sy is baie mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.