
Fikile Mbalula, minister van vervoer, het vir hom ‘n BMW 5-reeks aangeskaf teen ‘n koste van byna R750 000. (Foto: BMW/Verskaf)
Terwyl al hoe meer Suid-Afrikaners sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou, reis die land se groot gros ministers en hul adjunkte grootliks in styl.
Volgens ʼn reeks parlementêre vrae wat die DA aan verskeie departemente gestel het, het 22 van die land se altesame 59 ministers en adjunkministers die afgelope twee jaar nuwe voertuie aangekoop – en dit teen ʼn allemintige gesamentlike koste van byna R19 miljoen.
Ingevolge riglyne kan elke minister en adjunk ʼn luukse voertuig aankoop vir gebruik in Pretoria en Kaapstad – en die belastingbetaler moet hiervoor opdok. Die koste van brandstof, instandhouding, bande en tolgeld hiervoor kom ook uit hardwerkende Suid-Afrikaners se sakke.
Die ministers het oënskynlik ʼn voorliefde vir veral Volvo, Audi en BMW. Net die voormalige minister van finansies, Tito Mboweni, het in 2019 vir hom ʼn Mercedes-Benz C180 teen ʼn kortkop anderkant R650 000 aangeskaf. Altesame 11 van die voertuie kos boonop meer as R700 000-bestedingslimiet wat gewoonlik ingestel word.
Stella Ndabeni-Abrahams, minister vir kleinsakeontwikkeling, het in Desember verlede jaar ʼn 2021-model Audi Q5 TDi teen ʼn prys van R726 469,25 gekoop.
Die minister van openbare werke, Pravin Gordhan, en die adjunk Phumulo Masualle, het in Maart verlede jaar elk ʼn Audi A6 aangeskaf. Die koste verbonde aan elk van die voertuie is net meer as R780 000.
By die departement van indiensneming en arbeid het Boitumelo Moloi ʼn Audi Q5 teen R748 000 aangekoop, terwyl Maggie Sotyu, by omgewingsake, bosbou en visserye, in Julie verlede jaar dieselfde model aangeskaf het.

By die departement van menslike nedersettings het twee Audi S8-voertuie die belastingbetaler meer as R3 miljoen gekos. (Foto: Audi/Verskaf)
By menslike nedersettings het diegene aan stuur van sake duidelik ʼn aptyt vir supermotors en minister Nomaindia Mfeketo en haar adjunk, Zou Kota-Fredericks, het in Maart 2019 elk ʼn Audi S8 teen ʼn gesamentlike koste van net meer as R3 miljoen (sowat R1 560 000 per voertuig) gekoop.
Die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, het in Maart 2020 twee Volvo’s vir haar gebruik in Kaapstad en Pretoria aangeskaf. Die XC60 D4 AWD kom teen R700 000 per voertuig.
Sisulu se adjunk, Fish Mahlalela, het ook twee van dieselfde Volvo’s vir gebruik in Kaapstad en Pretoria aangeskaf.
Bheki Cele, die land se minister van polisie, wou nie ʼn antwoord verskaf oor watter voertuig hy aangekoop het nie. Volgens die minister is dit “geklassifiseerde inligting” en sal dit die “veiligheid van die minister en adjunkminister, asook alle baie belangrike persone (BBP’s) wat deur die polisie beskerm word, in die gedrang bring”.
Só lyk die aankope: (volgens die ministers of adjunkte wat in daardie stadium die poste beklee het)
Departement | Minister/adjunk (tydens aankoop) | Bedrag bestee | Model | Datum van aankoop |
Menslike nedersettings | Nomaindia Mfeketo | R1 560 602,80 | Audi S8 | Maart 2019 |
Zou Kota-Fredericks | R1 560 125,45 | Audi S8 | Maart 2019 | |
Samewerkende regering | Nkosazana Dlamini-Zuma | R806 699,96 | Volvo XC60 | Maart 2020 |
Handel, nywerheid, mededinging | Fikile Majola | R799 910,00 | BMW 5 Series | Oktober 2021 |
Openbare ondernemings | Pravin Gordhan | R783 909,98 | Audi A6 | Maart 2021 |
Phumulo Masualle | R783 909,98 | Audi A6 | Maart 2021 | |
Hoër onderwys | Buti Manamela | R761 199,40 | BMW X3 | Oktober 2021 |
Gesondheid | Joe Phaahla | R756 489,83 | Audi Q5 | September 2021 |
Vervoer | Fikile Mbalula | R748 624,04 | BMW 5-reeks | Januarie 2022 |
Indiensneming en arbeid | Boitumelo Moloi | R748 018,65 | Audi Q5 | Oktober 2021 |
Kleinsake-ontwikkeling | Khumbudzo Ndaveni | R726 469,25 | Volvo XC40 | Maart 2021 |
Toerisme | Mmamoloko Kubayi-Ngubane | R700 000 | Volvo XC60 | Maart 2020 |
Fish Mahlalela | R700 000 | Volvo XC60 | Maart 2021 | |
Vroue, jeug, mense met gestremdhede | Maite Nkoana-Mashabane | R690 000 | Audi Q5 | Januarie 2020 |
Hlengiwe Mkhize | R690 000 | Audi Q5 | Maart 2020 | |
Binnelandse sake | Njabulo Nzuza | R668 000 | BMW 520d | Desember 2019 |
Maatskaplike ontwikkeling | Hendrietta Bogopane-Zulu | R664 723 | Lexus NX300 | Maart 2020 |
Finansies | Tito Mboweni | R653 943,27 | Mercedes-Benz C180 | Junie 2019 |
Sport, kuns en kultuur | Nocawe Mafu | R649 000 | BMW 520 | Januarie 2020 |
Polisie | Bheki Cele | Weier om te antwoord | ||
Bedrag bestee | R18 953 682,61 | |||
Brandstof & instandhouding | R1 083 115,32 | |||
Totaal | R20 036 797,93 |
Uiteindelik is altesame 24 voertuie by 16 verskillende departemente aangekoop, terwyl die algehele koste hieraan verbonde – brandstof en instandhoudingskoste ingesluit – net meer as R20 miljoen beloop.
Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê terwyl kinders van die honger omkom, blaas die ANC-kabinet R20 miljoen op luukse voertuie en brandstof.

Volvo is ook ‘n gunsteling onder die land se ministers wat graag in weelde reis. (Foto: Volvo/Verskaf)
Hy sê miljoene Suid-Afrikaners is die afgelope drie jaar in hongersnood, armoede en ongekende lyding gedompel – ʼn situasie wat veroorsaak is deur die verwoestende en soms sinlose inperkingsmaatreëls en die prys van brandstof en kos wat die hoogte ingeskiet het. Dít skryf hy toe aan die “chroniese korrupsie en wanbestuur” van pres. Cyril Ramaphosa se kabinet, wat meer Suid-Afrikaners as ooit in armoede, honger en werkloosheid gedompel het.
“Terwyl elke ander burger dié pyn daagliks by die taxistaanplek, brandstofpomp en kasregister voel, is daar ʼn elite klas Suid-Afrikaners wat uitgesluit word van dié lewenskostekrisis wat ons land in die gesig staar: die ANC-kabinet wat in die eerste plek die oorsaak van die armoedekrisis is,” sê Schreiber.
Schreiber sê omdat sommige van die aankope moontlik strydig met regulasies is, berei die DA voor om ʼn klagte by die Openbare Beskermer daaroor in te dien. Amptelike voertuie mag ook net ná 120 000 km of vyf jaar vervang word, of as dit ernstige meganiese probleme ondervind en in ʼn swak toestand is.
Die DA gaan ook ondersoek instel oor of enige van die voertuie te vroeg vervang is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
26 Kommentare
Bheki Cele. Interesant, baie interesant….Hulle werk vir die publiek maar lewe soos konings…
Skande
Dis een van die redes hoekom die ANC moet weg uit die land se politiek. Hulle plunder nou nog steeds, almal van hulle wil net die beste hê en vir wat? Hulle verdien reeds astronomiese salarisse en steeds wil hulle die voosbetaalde belastingbetaler laat betaal vir hul luukshede en dan nog hul hardverdiende geld weggee ook vir hul vriende in Kuba. Tyd vir hulle om te gaan. Die mense wat hulle elke keer instem is regtig nie baie slim nie want terwyl hulle soos konings lewe van ander af krepeer die res van die land se mense.
Mens kan verstaan waarom Jesus hom by die arme geskaar het, die waansin van die magtige, ryk mens is om van naar te word.
As daar nie geld is om paaie reg te maak nie, is daar nie geld vir luukse voertuie nie.