Ná ʼn uitgerekte regstryd van langer as vyf jaar, het die hof beslis dat die direkteure van Aurora aanspreeklik is vir die wanbestuur van twee voormalige Pamodzi-myne in Springs en Orkney wat uiteindelik tot die sluiting van dié myne gelei het. Meer as 5 000 mense het gevolglik hul werk verloor.
Gideon du Plessis, hoofsektretaris van Solidariteit, het gesê kragtens die uitspraak is Khulubuse Zuma, Zondwa Mandela, Solly en Fazel Bhana, asook Thulani Ngubani, gesamentlik en afsonderlik vir honderde miljoene rande in skadevergoeding aanspreeklik. Indien hulle nie finansieel daartoe in staat is om die skadevergoeding te betaal nie, kan ’n aansoek om hul sekwestrasie gebring word en die hof gelas dat daar op hul bates beslag gelê word.
“Die hofbeslissing… bring uiteindelik geregtigheid vir duisende voormalige Pamodzi-werkers,” het Du Plessis gesê. “Die uitspraak baan ook die weg dat Michael Hulley, president Jacob Zuma se regsadviseur wat destyds by die omstrede maatskappy betrokke was, ook nou siviel aangekla kan word. Hy het tot op hede aangevoer dat hy nie regsaanspreeklik is vir die Aurora- direkteure se optrede nie.”Du Plessis het gesê die vakbond is verheug oor die uitspraak en hul vertroue in die regsgesag is herstel, veral in die lig daarvan dat die uitspraak bewys diegene met sterk politieke bande kan wel regsaanspreeklik gehou word.
“Ons is egter in die besonder dankbaar vir die voormalige Aurora-werkers se onthalwe. Hoewel niks kan vergoed vir die verlies wat hulle gely het nie en hoewel nog regsprosesse moet volg voordat geld ingewin word, bring hierdie uitspraak ten minste geregtigheid vir hulle. Boonop is daar nog ’n hof-aansoek oor ander onreëlmatighede wat teen die omstrede Bhana-familie aangehoor moet word,” het hy gesê.
“Die Aurora-saak sal nog vir lank onthou word as een van die grootste korrupsie-skandale in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse mynwese.”
Dis té eienaardig dat die naam Zuma = korrupsie! So sal dit maar altyd wees.
Hennie,die nuwe woord vir korrupsie is nou Zurupsie.
Gaan dit gebeur? Die terug betaling?? Dit sal ‘n eerste wees!!
Hier kom nog ‘n mediese parool…
nog ‘n klomp miljoene wat op onverklaarbare wyse uit die staatskas gaan verdwyn
Lewer hulle uit aan die wat honger gely het deur hul skelmstreke, hulle sal met hul gal werk
Hulle moet kaal uitgetrek word en hopenlik lank tronk toe Maar ek twyfel sterk daaroor
Hou die uitslag van die saak met verwagting dop .!