Aurora-uitspraak vandag gelewer

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Ná ʼn uitgerekte regstryd van langer as vyf jaar sal die Noord-Gautengse hooggeregshof Donderdag uitspraak lewer in die omstrede hofsaak teen verskeie direkteure van Aurora Empowerment Systems.

Die hofsaak hou verband met die direkteure se wanbestuur van twee voormalige Pamodzi-myne in Springs en Orkney wat uiteindelik tot die sluiting van dié myne gelei het. Meer as 5 000 mense het gevolglik hul werk verloor.

Die direkteure, onder wie Khulubuse Zuma, Zondwa Mandela, Solly en Fazel Bhana, asook Thulani Ngubani, staan almal tereg op verskeie aanklagte van onder meer korrupsie en die wanbestuur van die twee Pamodzi-myne.

Hulle staar ook ʼn skadevergoedingseis van R1,7 miljard, wat deur die voormalige Pamodzi-likwidateurs aanhangig gemaak is, in die gesig. Aurora Empowerment Systems is die moedermaatskappy wat destyds deur likwidateurs aangestel is om die genoemde Pamodzi-myne te bestuur.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het die hoop uitgespreek dat die Aurora-direkteure uiteindelik aan die pen sal ry vir hul wandade. “Sedert Aurora se oorname van die Pamodzi-myne in 2009 het die maatskappy se direkteure hulself onregmatig uit die myne, en ten koste van werkers, verryk. Dié direkteure behoort daarom in hul persoonlike hoedanigheid vir hul skaamtelose nalatigheid en korrupsie te boet. Dit is vir ons ook baie belangrik dat die voormalige Pamodzi-mynwerkers vir die skade en verlies aan inkomste wat hulle sedertdien ly, vergoed word,” het Du Plessis gesê.

“Solidariteit is hoopvol dat regter Eberhard Bertelsmann ʼn regverdige uitspraak sal lewer wat vry van enige politieke beïnvloeding sal wees”. Du Plessis meen verder die skuldigbevinding van die Aurora-direkteure sal die weg baan dat Michael Hulley, president Jacob Zuma se regsadviseur en voormalige Aurora-direkteur, van dieselfde klagte aangekla kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Hoekom het so n vuil gevoel dat dit op niks gaan uitdraai en uitgerek gaan word vir nog n paar jaar.Ons moet net onthou dat Michael Hulley ook nog moontlik betrokke is en ons ken mos sy reputasie hy gaan goed keer met elke triek in die boek tot sy beskikking.

Se Maar Net ·

Daar gaan net mooi niks van die saak kom nie, Geld maak Reg wat skeef en KROM is!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.