‘Avonturier’ in Drakensberge vermis

Johann van Coller (32) het vermis geraak nadat hy in die Drakensberge gaan stap het. (Foto: Facebook / Barefootmagicman)

ʼn 32-jarige avonturier wat sowat twee weke gelede ʼn staptog deur die Drakensberge onderneem het, word nou vermis.

Johann van Coller het hom op 18 Oktober saam met ander stappers by die Witsieshoek Mountain Lodge aangemeld voordat hy met sy staptog sou begin. Hy het egter alleen gestap en die ander het ʼn ander rigting ingeslaan.

Sy ma, Madeleine de Villiers, sê sover sy weet, het haar seun beplan om tot by Giant’s Castle te stap.

Hoewel De Villiers op 16 Oktober laas met haar seun gepraat het, het verskeie mense hom by Witsieshoek gesien en ook foto’s van hom geneem.

Van Coller se ooreenkoms met sy gesin was dat hy elke drie dae met sy ma of suster, Lizanne van Coller, sou kontak maak – hetsy telefonies of op sosiale media.

Dié foto is op 18 Oktober geneem toe Johann van Coller by die Witsieshoek Mountain Lodge aangemeld het voordat hy met sy staptog sou begin. (Foto: Verskaf)

“Ek dink sy foon is dalk stukkend, óf daar het moontlik iets ernstigs gebeur. Die meeste mense met wie ons gepraat het, sê indien sy foon wel gebreek het, sou hy lankal iewers uitgekom het waar hy kontak met mense kon maak.”

De Villiers sê dit is ook uiters ongewoon van haar seun om nie met sy gesin en vriende te kommunikeer nie.

“Ons is almal verskriklik na aan mekaar. Hy is ook baie erg oor sy ouma, Kitty van Schalkwyk (80), en bel haar gereeld. Ons probeer haar in dié stadium net gerusstel sodat sy nie bekommerd moet wees nie.”

Boonop, sê De Villiers, het haar man kort nadat Van Coller vir sy staptoer vertrek het vir ʼn groot operasie gegaan.

“Hy is na aan sy stiefpa en sou lankal kontak gemaak het om vas te stel hoe die operasie afgeloop het.”

Van Coller sê verskeie soek-en-reddingspanne, asook vrywilligers is die afgelope paar dae onverpoos na haar seun op soek. Hulle het egter nog geen leidrade gevind nie.

Sy het hom twee dae gelede amptelik as vermis by ʼn Nthaba Slope-polisiestasie in Estcourt in KwaZulu-Natal, waar Van Coller die afgelope ruk gewoon het, aangemeld. Volgens De Villiers het die polisie onderneem om ondersoek in te stel, maar sy wag steeds op terugvoer én ʼn saaknommer.

Van Coller is oorspronklik van Alberton in Gauteng.

Johann van Coller (32) het vermis geraak nadat hy in die Drakensberge gaan stap het.

Volgens De Villiers vorm die roete deur die Drakensberge deel van Van Coller se maande lange avontuur om van Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, tot by Kilimandjaro, die hoogste bergpiek in Afrika, te stap.

Maroela Media het in Maart vanjaar berig dat Van Coller sowat agt maande sal neem om dié reis te voltooi.

“My seun is ʼn absolute avonturier. Boonop sien hy net die goeie in die mensdom raak. In sy oë is die wêreld wonderlik en is almal fantasties.”

Van Coller deel gereeld foto’s, video’s en inligting van sy reise op sosiale media onder die naam “Barefootmagicman”.

Sy laaste plasing op Instagram was op 14 Oktober – enkele dae voor sy vertrek na Witsieshoek.

“Ek vertrou die reddingspanne weet wat hulle doen en dat hulle hom veilig sal opspoor.”

Enigiemand met inligting kan De Villiers by 072 074 5394 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Dis deesdae te gevaarlik om alleen staptogte aan te pak. As die persoon iets oorkom is daar niemand om te help of om hulp te gaan kry nie. Hoop van harte dat hy ongedeerd is en hulle hom spoedig sal opspoor. Sterkte aan sy familie!

Skappie ·

Hoop hy word veilig gekry. Sterkte aan sy gesin met hierdie onsekerheid waarmee hulle nou mee saam leef.

Shakespeare ·

Alleen stap in die Nuwe Suid Afrika is totaal taboe. Al is jy in n stad of dorp maar gladnie in n beboste gebied nie.

Charl ·

‘n Mooi, sterk jongman, ek hoop van harte hy word gou en ongedeerd gevind. Sterkte aan sy moeder en gesin.

madels ·

Ek kan nie verstaan hoe kan enigiemand in vandag se tyd alleen in die berge gaan stap nie. So baie dinge kan gebeur. Ek bid regtig dat hy vinnig gevind gaan word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.