Familie steier na man in heli-ongeluk sterf

Nico Brink en sy vrou, Brooke. (Foto: Facebook)

Nico Brink (36), ʼn vlieginstrukteur van Suid-Afrika wat die afgelope paar jaar in Australië woon en werk, se familie is verpletter nadat hy die afgelope week in ʼn gru-ongeluk naby Marulan dood is.

“Dit is net verskriklik,” het Nico se pa, Vic, Saterdag gesê.

Nico het vir Hughes Helicopters gewerk en was saam met ʼn leerlingvlieënier, Andrew Goldman (54), besig met ʼn opleidingsvlug toe hulle helikopter Woensdagmiddag neergestort het. Goldman het ook in die ongeluk omgekom.

Die twee het omstreeks 15:00 by die Goulburn-lughawe opgestyg, maar het nooit weer teruggekeer nie. Reddingspanne het weens gure weer ure lank te voet in die donker na die ongelukstoneel gesoek.

Volgens Vic kon Nico en Goldman se liggame eers die volgende oggend uit die wrak gehaal word. Die helikopter het heeltemal uitgebrand nadat dit neergestort het.

Nico is oorspronklik van Stellenbosch waar Vic en sy vrou, Thea, voor hul aftrede op Kleinmond gewoon het.

“Ons vat dit swaar. Dis nie een van daai goed wat ʼn mens …

“Hy sou oor ʼn week 37 jaar oud geword het,” het Vic gesê oor die jong man wat hy as hulle “avontuurkind” beskryf het.

Nico Brink het honderde vliegure agter die blad gehad. (Foto: Hughes Helicopters/Facebook)

Nico is getroud met ʼn Australiese vrou, Brooke, en die egpaar het twee kinders, ʼn eenjarige dogtertjie en ʼn driejarige seuntjie. Die egpaar het mekaar op ʼn avontuur-toer in Oos-Afrika ontmoet op een van die reise waarop Nico ʼn bemanningslid was.

Vic sê Nico was ʼn avontuurlustige man wat van ʼn jong ouderdom aktiwiteite soos valskermspring en rotsklim geniet het. Brooke is net so lief vir avontuur en die twee het uitstekend bymekaar gepas.

“Ons moet die verlies verwerk, maar sy moet ook met die gevolge saamleef. Haar wêreld is totaal omgekeer,” het Vic gesê.

Vic en Thea het nog ʼn seun wat ook in Australië woon en wat Brooke daar ondersteun. Die Brinks se ander twee kinders woon in onderskeidelik Stellenbosch en Kleinmond. Vic sê hulle kyk na die moontlikheid om na Australië te vlieg, maar die voortslepende pandemie bemoeilik enige reisreëlings.

Vic sê Nico en sy gesin was in Maart in Suid-Afrika om by die familie te kuier. Weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die gevolglike reisbeperkings moes hulle ʼn maand langer, tot die einde van April bly.

“Toe hulle moes terugvlieg, maar nie kon nie, het dit soveel spanning op hulle geplaas. Uiteindelik was dit vir ons ʼn seën.”

Tientalle boodskappe van medelye van oor die wêreld is intussen aan Nico se familie gestuur.

“Ons is verpletter deur Nico se dood. Hy was ʼn ontspanne, rustige siel wat hoogs gerespekteer onder sy studente en sy medevlieëniers was. Ons diepste medelye gaan aan albei gesinne en hulle vriende in hierdie moeilike en hartverskeurende tyd. Ons gedagtes en gebede is by julle,” het Hughes Helicopters in ʼn verklaring gesê.

Odyssey World Overlanders, vir wie Nico tevore gewerk het, het hom as ʼn lid van die familie en vriend bestempel wat geweldig gemis sal word.

Nico Brink tydens die gesin se besoek aan Suid-Afrika vroeër vanjaar. (Foto: Facebook)

“Ons bly agter met wonderlike herinneringe aan sy sin vir humor, sy geesdrif vir die lewe en die buitelewe, die laatnageselsies oor ʼn glas of twee rooies.

“Ons gedagtes is saam met sy familie en vriende en veral by Brooke en hul twee jong kinders. Nico, mag jou siel in vrede rus.”

Vic sê Nico was ʼn ervare vlieënier met honderde vliegure agter die blad.

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat tot die ongeluk met die Robinson R44-helikopter gelei het. Australië se 7News het berig volgens ooggetuies het hulle die helikopter oor die gebied gehoor vlieg, maar daar was geen aanduiding dat dit enigsins probleme ondervind het nie.

Hoofspeurinsp. Brendan Bernie het gesê die Australiese Buro vir Vervoerveiligheid (ATSB) en die polisie sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.

“Die gemeenskap van Goulburn is baie na aan mekaar en ek is seker hulle voel almal die verlies van hierdie tragiese voorval,” het hy gesê.

Vic sê hy en Thea het die afgelope paar dae geweldige ondersteuning van die gemeenskap en vriende ontvang.

“As ʼn familie is ons verpletter. Die pyn is onbeskryflik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

johanf ·

My innige simpatie aan die familes en naasbestaandes, dit is baie tragies.

Tanniepetoors ·

Tragies. Simpatie aan beide families. Mag julle vertroosting vind in die nabyheid van familie en vriende.

Gert ·

Sterkte aan die familie in hierdie moeilike tyd. Ons paaie het paar keer gekruis tydens sy toer jare in Afrika. Een aardse troos, Nico het voluit geleef!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.