B-graad, met lof, op 19

Kialan Pillay het van kleins af op skool uitgeblink en het die hoërskool op tien aangedurf. (Foto: Universiteit van Kaapstad)

Op net 19 jaar oud sal Kialan Pillay eersdaags met ’n baccalaureus-graad in rekenaarwetenskap en wiskundige statistiek van die Universiteit van Kaapstad spog.

Met dié graad, wat hy met lof behaal het, is hy gerat om die nimmereindigende geleenthede wat ’n geglobaliseerde en digitale wêreld bied aan te gryp.

Kialan is van jongs af deur rekenaarwetenskappe betower en het op die ouderdom van 11 reeds geweet dat hy eendag in dié beroep wil staan nadat hy aan programmering en inligtingstegnologie blootgestel is.

Kialan Pillay het van kleins af op skool uitgeblink en het die hoërskool op tien aangedurf. (Foto: Universiteit van Kaapstad)

“In ’n toenemend geglobaliseerde, geoutomatiseerde en digitale samelewing het rekenaarwetenskaplikes die geleentheid om ware impak op verskeie terreine te maak,” sê hy.

Hy het ook ’n belangstelling in kunsmatige intelligensie en hoop om in die toekoms dieper kennis in dié veld op te doen.

“Ek het die geleentheid op my passie uit te leef,” sê Kialan.

Dié slimkop se akademiese loopbaan het vroeg reeds posgevat en hy het op die ouderdom van 15 as die topstudent in KwaZulu-Natal gematrikuleer nadat hy as tienjarige seuntjie sy hoërskoolloopbaan aangepak het.

Kialan Pillay het van kleins af op skool uitgeblink en het die hoërskool op tien aangedurf. (Universiteit van Kaapstad)

Op ’n ouderdom waar baie kinders nog moes leer om volsinne te bemeester het Kialan al met sy neus tussen leesboeke gesit. Hy kon ook op ’n jong ouderdom skaak en klavier speel.

Hoewel daar al na hom as “die volgende Einstein” verwys is, skryf Kialan sy prestasie aan harde werk en toewyding toe.

“Om myself deurlopend te druk en holisties te groei ongeag die uitkomste of prestasie was nog altyd ’n kerntema in my lewe.

“Ek het nog nooit toegelaat dat my ouderdom my terughou óf my ego opblaas nie. Hoewel ek dalk eksterne druk om te presteer ervaar het, het dit nooit my koers dikteer nie.”

Sy “formule” vir sukses, sê Kialan, is ’n kombinasie van ywer en ’n konsekwente groei-ingesteldheid.

Kialan erken ook dat hy nooit sy doelwitte sonder sy ma en sy oorlede pa sou kon bereik nie.

“My sukses is net soveel hulle sukses. Danksy hulle harde werk was ek met ongelooflike leergeleenthede in my lewe geseën.”

Sodra hy graad gevang het, sal Kialan by die maatskappy Amazon Web Services aansluit. Hy beoog om sy meestersgraad aan ’n universiteit in die buiteland te behaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
E

Baie geluk en mooi gedaan.

Belinda

WOW… hierdie seun se ouers moet ekstra trots wees op hom. Wel gedaan seun. Jy gaan net n helder toekoms he.

JM

Uitsonderlik!

Maggies

Well done Kialan.