Baaiers gevra om olifantrob nie te steur

Buffel kuier al sedert Januarie op Vishoek se strand waar hy lê en vervel. Foto: Stad Kaapstad.

Die Stad Kaapstad en die nasionale departement van omgewingsake het klagtes ontvang dat ʼn Suidelike olifantrob, wat vervel op Vishoek se strand, geteister word.

Die olifantrob, wat Buffel gedoop is, het hom al sedert middel Januarie op dié strand tuis gemaak terwyl hy besig is om te vervel.

Olifantrobbe ondergaan dié proses jaarliks en verloor al hulle hare en naels. Hulle eet nie tydens die proses nie en verloor baie gewig terwyl hulle in dié tyd net op hul vetreserwe oorleef.

Kenners meen die olifantrob kom waarskynlik van Marion-eiland, sowat 1 200 km van Kaapstad.

“Ons vra inwoners en besoekers om die olifantrob se ruimte te respekteer terwyl hy die strand besoek,” het Marian Nieuwoudt, burgermeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, gesê.

Nieuwoudt meen baaiers kan verwag om die olifantrob vir nog ʼn paar weke op die strand te sien. Die vervelproses maak die olifantrobbe sensitief vir enige veranderinge in temperatuur en daarom vermy hulle eerder die water in dié tyd.

Die Stad en die departement het die publiek versoek om deurentyd minstens 10 meter van die olifantrob af weg te bly terwyl hulle hom bekyk en foto’s neem. Die gebied om die rob is nou ook afgebaken.

“Ons vra veral dat ouers hul kinders onder streng toesig hou wanneer hulle die olifantrob besoek. Baaiers wat met hul honde gaan stap word gevra om hulle aan leibande te hou en ʼn afstand van 50 meter tussen die diere te handhaaf.

“Moet asseblief ook nie die olifantrob voer, water op hom gooi of enige onnodige geraas naby hom maak nie.”

Die owerhede het ook die neem van selfies saam met die olifantrob verbied.

“Dit is gevaarlik om met jou rug na die dier te staan. Hierdie olifantrobbe kan bedrieglik vinnig beweeg as hulle op die strand is en is uiters gevaarlik as hulle bedreig of vasgekeer voel.

“Hierdie olifantrob lyk nou ontspanne maar hy bly steeds ʼn wilde dier wat kan byt en sy gedrag bly onvoorspelbaar,” het Nieuwoudt benadruk.

Die Stad het die veiligheidsorganisasie Shark Spotters gevra om ʼn lid by die olifantrob te plaas om te verseker die dier word beskerm terwyl hy die strand besoek.

Buffel is al ʼn ou bekende op Suid-Afrika se strande en lê gereeld hier besoek af om te vervel. Volgens Animal Ocean se webtuiste het Steve Kirkman Buffel in November 2014 in Buffelsbaai met die nommer 165 77 gemerk. Hy is ook al voorheen op Duikereiland naby Houtbaai, by Paternoster en by Hermanus gesien.

Buffel is amper sewe jaar oud en het die kenmerkende slurp wat die diere so besonders maak. Sy linkeroog is beseer en hy het ook ʼn litteteken bokant die oog.

Buffel the Elephant Seal was first seen on Fish Hoek Beach on Friday 25 January 2019. He has lost all his fur but will probably still be here for another two weeks until his new coat develops. Thanks for videos received – Buffel is probably the most photographed seal in the world at the moment!

Posted by Fish Hoek Beach on Tuesday, February 5, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jaco ·

is ons mense nou al so misdadig dat nie net buitelandse toeriste nie maar selfs buitelandse diere aangeval word? Asseblief mense, die rob het nie n beursie of selfoon of fiets of motor nie.

HPV ·

Ek wonder of die dier weet hy is in die anc se nuwe Suid Afrika waar 50 mense per dag vermoor word, wat is ‘n diers e lewe dan werd? Hy beter spore maak terwyl hy nog kan.

Ida Kriel ·

Baie dankie aan MM vir hierdie nuttige stukkie inligting oor Buffel. Ek het nie n idee gehad dis hoe hul vervel en dat hul wel vervel nie. Pragtige fotos en mag Buffel se verblyf aangenaam wees, sodat hy weer ons strande besoek. Wens so mense wil Leer om in harmonie en respek met diere om te gaan. Gun hom sy tyd om die siklus in sy bestaan ongehinderd en in vrede te beleef.

ANA ·

ARME,ARME DIER…seil eerder terug ini see en gaan soek ñ ánder land, om in VREDE EN VEILIGHEID te gaan vervel as SA waar jou lewe iets werd is❗❗❗❗

Friskat ·

Praat so van robbe. Ons was Desember bietjie in die Kaap om te kuier. En ons het baie dooie robbe gesien wat uitspoel op die strande en net daar lê. Wat die vissermanne hulle dood geskiet het. Dis verskriklik wreed. Is daar nie iets wat daaraan gedoen kan word nie?

Olivia ·

In Nambie word jaarliks duisende baba pelsrobbe doodgeslaan en die mannetjies geskiet en dit vir hul pelse en organe. Daar gebeur niks nie maak nie saak hoeveel petisies ons teken of mense ons vertel nie. Mense gee nie om nie en vissermanne voel die robbe bedreig hul vangs en dit is eintlik nie so nie want die robbe kan nie soveel eet dat hulle ‘n bedreiging kan wees nie. Ons regering gaan dit nie stop sit nie en ek weet nie van ouens wat daar is wat iets kan doen nie. Dalk by die SPCA uitvind of daar iets is soos ‘n Seal Watch of iets.

Sandy ·

Mense sal hom nie uitlos nie, hoekom sit hulle nie ‘n beurtwag by hom om die situasie te monitor nie, voordat die hele ding op ‘n gemors uitloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.