Baaise betogers warm onder die kraag oor bendes

Drie skole in die stad se noordelike gebiede is onlangs gesluit weens ‘n skietery tussen opposisiebendes. (Argieffoto: ANA)

Betogers is Woensdag vroegoggend in Nelson Mandelabaai met traangas en skokgranate deur die polisie verjaag.

Dít kom te midde van protesaksie deur ontstoke gemeenskapslede oor toenemende bendebedrywighede en gewelddadige misdaad in die stad.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het bevestig die plaaslike polisie het betogers in die vroeë oggendure by Marikana en Timothy Valley in Booysenspark verjaag.

Volgens Yolande le Roux, bedryfsdirekteur by Northern Areas Survivors en Ambassadors Against Gangsterism, wou gemeenskapslede die reg in eie hande neem aangesien hul bekommernisse oor bendebedrywighede in hul onderskeie woonbuurte op dowe ore val.

Le Roux het gesê die gemeenskap het ʼn beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om aandag aan kwessies in die noordelike gebiede van die stad te gee.

Die gemeenskap vrees ook dat die onlangse ontplooiing van die weermag in die Wes-Kaap bloot bendebedrywighede in die Oos-Kaap gaan laat toeneem.

“Daar is ’n voortdurende vlaag van geweld in die noordelike gebiede en die gemeenskap het genoeg gehad. Niemand gee aandag aan wat die oorsaak [van bendegeweld] in ons gebiede is nie. Iemand moet eers geskiet word of bloed moet eers vergiet word voordat daar tot optrede oorgegaan word,” vertel sy.

Volgens Le Roux het die polisie die gemeenskap se vertroue verloor en dit is moontlik dat sommige polisiebeamptes selfs saam met bendes werk.

“Die gemeenskap het die provinsie se optrede afgedwing sodat die departement van onderwys heinings kon voorsien om kinders by Strelitzia Primêre Skool te beskerm. As die gemeenskap nie optree nie, sit die polisie bloot terug en wag vir iemand om dood te gaan.”

Le Roux het reeds aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) geskryf en gevra dat die kommissie ondersoek na bendebedrywighede in Nelson Mandelabaai instel. Die kommissie het egter gesê die provinsiale polisiekommissaris behoort verantwoordelikheid daarvoor te neem.

Sy beplan om dus nou aan die presidensie te skryf met die hoop dat hulle ondersoek sal instel. Sy glo dat die regering meer behoort te doen.

Die betoging volg slegs ’n dag nadat Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, die noordelike gebiede van die stad besoek het. Mabuyane het gedurende sy besoek gesê geen weermaglede gaan in die provinsie ontplooi word nie, aangesien die polisie goeie vordering toon teen bendebedrywighede in die provinsie.

Strelitzia Primêre Skool is sedert verlede week as veiligheidsmaatreël gesluit nadat ’n bende-skietvoorval nie ver van die skool plaasgevind het nie.

Opposisiebendes het ook in Mei vanjaar by ’n skoolhek in die stad op mekaar geskiet en in die proses die skoolterrein betree. Clifton Jantjies, ’n skoolhoof in die stad, het toe gesê dit is egter nie ongewoon nie en dat skole dringend heinings nodig het om leerders teen bendelede te beskerm.

Verskeie skole in die noordelike gebiede het die afgelope twee maande weens ’n vlaag bendebedrywighede gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Slagyster ·

Hoeveel van hulle wat nou kla het vir die ANC gestem????

Kobus ·

Is Bendelede nie deel van die ” gemeenskap” nie. Moontlik ook saam betoog. Betoog as die Polisie nie optree nie en betoog as die Polisie wel optree. Jip die ” MRK” sal net die regte van die ” bendelid” ondersoek indien die Polisie bietjie hardhandig optree.

Attie. ·

Bendelede is baie veilig aangesien die Weermag eers die Vaalrivier skoonmaak, daarna gaan hulle Kaap toe en eers daarna kom PE aan die beurt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.