Baaise man met panga in huis aangeval

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

’n 38-jarige man van Port Elizabeth in die Oos-Kaap is Woensdagoggend na ’n hospitaal gehaas nadat hy in die vroeë oggendure tydens ’n struweling met huisrowers met ’n panga in sy huis in Brymore aangerand is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die man se vrou (37) het omstreeks 02:20 wakker geword om ’n draai te gaan loop toe sy deur ’n verdagte oorval is wat deur die badkamervenster toegang tot die egpaar se huis verkry het.

Die vrou het om hulp geskree waarna haar man wakker geword en haar te hulp gesnel het. Die man het in ’n struweling met die huisrower betrokke geraak waarna nóg drie verdagtes deur ’n skuifdeur toegang tot die huis verkry het en by hul makker aangesluit het.

Die man is met ’n panga aangerand voordat die verdagtes met ’n skootrekenaar en twee selfone op die vlug geslaan het.

Die man het ernstige beserings aan sy bene en lyf in die voorval opgedoen. Sy vrou is egter ongedeerd.

Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.