Baaise sakeman gewond toe hy kaping wou keer

Argieffoto

ʼn Baaise winkeleienaar is Dinsdagoggend in ʼn skietery gewond toe hy ʼn motoris gedurende ʼn motorkaping te hulp gesnel het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het ʼn plaaslike koerier (42) en ’n passasier (19) in Govan Mbeki-laan in die stad parkeer waarna hulle na verskillende ondernemings is om pakkies af te lewer.

Die koerier het eerste na die voertuig teruggekeer waarna ʼn verdagte hom van agter oorval het, vertel Naidu.

Die verdagte het daarna ʼn vuurwapen op die koerier gerig en hom aangesê om die voertuig se sleutel te oorhandig. Nog drie verdagtes het hulle in dié stadium by die verdagte aangesluit.

Presies op daardie oomblik het die eienaar van ʼn nabygeleë winkel die voorval gewaar en die koerier te hulp gesnel, verduidelik Naidu.

Die winkeleienaar het glo geskree waarna drie verdagtes laat spaander het.

Die vierde verdagte en die winkeleienaar het albei geweerskote afgevuur waarna twee van dié skote die winkeleienaar in onderskeidelik sy maag en been getref het.

Dit is onduidelik of die verdagte ook in die spervuur beseer is.

Die winkeleienaar is ná afloop van die gebeure na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord asook poging tot kaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snowball ·

SA – die land van skobbejakke, kriminele, kapers, moordenaars, plunderaars, en verkragters. Waar gewone, wetsgehoorsame mense daagliks geteister word en in vrees moet lewe.
Met dank aan 25 jaar se ANC regering…..”A better life for all” so belowe die verkiesingsbordjies mos. Seker net vir almal IN DIE ANC.

Muffin ·

Knap gedaan winkeleienaar. Jy was baie braaf en min mense sou dit doen. Hoop nie jou wonde is baie ernstig nie en hoop ook die rower was gewond.

Mads ·

Mnr die Winkeleienaar,

Ek “SALUTE” JOU!

Baie min mense sou dit doen. Net jammer jy is gewond. Ek hoop jy sal sommer vinnig weer op die been wees.

Ek dink nie ek sou so braaf soos jy kon wees nie.

PJC ·

Baie braaf van die winkelier. Net jammer hy is nie ń beter skut nie.

Stripes ·

Al wat die teken “hijacking hotspot” vir my sê is dat die regering onbevoeg is om orde in die land te handhaaf.
Om in-die-hardloop dodelik kan wees met ‘n vuurwapen klink baie makliker as wat dit is.
Reg so winkeleienaar en spoedige beterskap. Ons moet na onsself kyk want daar is nie iemand anders om dit te doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.