Baanbreker-hartprosedure ʼn eerste vir Afrika

Dr. Chris Zambakides (middel) en dr. Jean-Paul Theron (links) saam met Suzanne Wallace, direkteur: mediese onderrig en wetenskaplike kommunikasie by Shockwave Medical. (Foto: Verskaf)

ʼn Nuwe gevorderde prosedure om pasiënte met koronêre hartsiekte te behandel, is pas vir die eerste keer in Afrika by die Netcare Unie-hospitaal in Alberton, naby Johannesburg, gedoen.

Dié prosedure, bekend as skokgolf intravaskulêre litotripsie (shockwave intravascular lithotripsy) (IVL), gebruik ultraklank-skokgolwe om erg verkalkte stukke en blokkasies in kroonslagare te kraak. Die prosedure is op ʼn 79-jarige man van Gauteng gedoen wat met ernstige koronêre hartsiekte gediagnoseer is en al voorheen ʼn hartaanval gehad het.

Luidens ʼn verklaring is die span wat die prosedure gedoen het, gelei deur die kardioloë, dr. Chris Zambakides en dr. Jean-Paul Theron. Die dokters verduidelik dat dié prosedure die span in staat gestel het om ruimte binne die pasiënt se erg verkalkte en geblokkeerde kroonslagare te skep sodat stents ingesit kon word om die verswakte en vernoude are te behandel.

“Die span is baie beïndruk met die resultate van hierdie nuwe prosedure. Die skokgolf IVL-stelsel sal ons in staat stel om selfs die uitdagendste verkalkte kroonslagare te takel, en verminder die risiko’s wat gepaardgaan met tradisionele koronêre angioplastie en stents in pasiënte met ernstige hartsiektes,” het Zambakides gesê.

“Die pasiënt was ook uiters beïndruk met die resultate van die prosedure, wat 90 minute geneem het om te voltooi. Hy het gesê hy het byna onmiddellik verligting gevoel van die pyn op sy bors, moegheid en ander aftakelende simptome wat hy ervaar het. Toe ons die teater ná die prosedure verlaat, het hy ons almal verras deur te sê hy voel gereed om huis toe te gaan.”

Zambakides verduidelik erg verkalkte en verswakte slagare maak koronêre ingryping soos tradisionele angioplastie en die inplanting van stents baie moeiliker en komplekser. Behalwe dat daar hoër risiko is vir komplikasies soos ʼn skeuring in die aar, is die langtermynresultate ook swakker.

Vir dié betrokke pasiënt was chirurgie nie ʼn opsie nie weens sy ouderdom en die feit dat hy meer as een chroniese siekte het. Dokters kon ook nie die tradisionele hoëdruk‑angioplastie-ballon gebruik om die kalsiumneerslae op te breek nie, omdat die kans vir komplikasies te groot was met die groot hoeveelheid kalsiumneerslae teenwoordig.

“Die skokgolf IVL-stelsel gebruik ʼn spesiale geïntegreerde ballon met elektrodes daaraan gekoppel om gelokaliseerde soniese drukgolwe te skep om aan die kalsium teen die wand van die aar te ‘hamer’ en dit so op te breek. Hierna word die IVL se geïntegreerde ballon opgeblaas, wat die plasing van die stents aansienlik makliker en veiliger maak. Omdat die tegnologie self die kalsium identifiseer en opbreek, is trauma aan die sagte weefsel geminimaliseer,” verduidelik Zambakides.

Glenda Pakes, direkteur van Paragmed, die verspreiders van die skokgolf IVL-stelsel in Suid-Afrika, sê daar is tot op hede meer as 3 000 van hierdie prosedures wêreldwyd gedoen, maar dié was die eerste in Afrika. Die meeste van die prosedures is in Europa en Nieu-Seeland gedoen op pasiënte tussen 60 en 80 jaar oud, en die stelsel spog tans met ʼn sukseskoers van 99%.

Esmé Abrahams, algemene bestuurder van die Netcare Unie-hospitaal, het drs. Zambakides en Theron gelukgewens met die prosedure en gesê hulle het hierdeur dié gevorderde behandelingsopsies vir ander pasiënte beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stormrider ·

Ek kry sommer ‘n knop in die keel. Knap gedaan! Julle is ongelooflik!

Mornay van Vuurren ·

Very well done. The two best Dr’s. Not only saveing my life once but a couple of times. I am very privileged to say that I am one of your patients. Knowing that I get the best care possible.

Hannes Marx ·

Skuilnaam asb: Patient

Baie dankie aan hierdie twee dokters vir hulle lewensreddende prosedure!

sylvia ·

Fantasties, Dr Chris Barnard het die pad oopgemaak vir eerstes, wonderlik dat daar chirurge is wat ons naam hoog hou, baie geluk, mag dié pasiënt goeie vordering maak

George in Bloem ·

Hahaha!!Jy’t my voorgespring met jou kommentaar. Die BLF of EFF sal seker later die “waarheid”,volgens hulle, uitbasuin.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.