Baanbrekerprojek moet ietermagogs help red

Studies het bevind dat tot soveel as ʼn duisend ietermagogs elke jaar per ongeluk deur elektriese heinings doodgeskok word. (Foto: Pangolin.Africa/Facebook)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel. 

Hoewel die smokkel van hoogs bedreigde ietermagogs gewoonlik die hoofopskrifte haal, is dit elektriese heinings wat hulle per ongeluk doodskok wat ʼn ewe groot gevaar vir die diere inhou.

Studies het bevind dat tot soveel as ʼn duisend ietermagogs elke jaar per ongeluk deur elektriese heinings doodgeskok word, ʼn syfer wat die onwettige handel in die diere as bedreiging vir hul voortbestaan in die streek heeltemal oorskadu.

Die organisasie Pangolin.Africa het nou ʼn baanbrekerprojek in samewerking met die Tikki Hywood-stigting, die Kalahari-wildleweprojek en die maatskappy Stafix van stapel gestuur om ʼn nuwe stelsel te ontwikkel, te toets en in werking te stel om die doodskok van die diere beduidend te verminder – indien vrektes nie heeltemal voorkom kan word nie – terwyl die elektriese heinings steeds heeltemal doeltreffend werk.

Studies het bevind dat tot soveel as ʼn duisend ietermagogs elke jaar per ongeluk deur elektriese heinings doodgeskok word. (Foto: Pangolin.Africa)

Elektriese heinings is ʼn algemene gesig op wildreservate, plase, natuurreservate en selfs kommersiële veeplase in suidelike Afrika. Nie net word dit ingespan vir die beheer van diere nie, dit hou ook ongewenste roofdiere én mense uit. En hoewel dit dus ekonomies en doeltreffend is, veroorsaak die heinings ook die dood van spesies wat juis nié geteiken wil word nie.

Die grond-ietermagog (Smutsia temminckii) is tweevoetig en stap op sy agterbene, terwyl sy voorbene en stert in die lug gehou word.

Lede van die span werskaf om die elektriese heinings veiliger vir ietermagogs te help maak. (Foto: Pangolin.Africa)

Wanneer ʼn ietermagog dus ʼn elektriese heining teëkom, is dit gewoonlik sy kop of onbeskermde pens wat aanvanklik geskok word. Die ietermagog begin instinktief in ʼn beskermende balletjie rol en terwyl hy dít doen, krul die dier dikwels onbedoeld om die elektriese heining. Elke gevolglike skok veroorsaak dat die ietermagog al hoe stywer om die draad krul, tot die skokke eindelik tot die dood lei.

Loodsprojekte om die heinings minder dodelik vir ietermagogs te maak, sal nou in veldproewe by onder andere die Timbavati- private natuurreservaat in Limpopo, die Glen Lyon- Kalahari-natuurreservaat en verskeie veeplase in die Noord-Kaap van stapel gestuur word.

Die versorging van ‘n klein ietermagog is ‘n voltydse werk. (Foto: Tikki Hywood Foundation/Facebook)

Die gebiede verteenwoordig die verskeie habitatte van ietermagogs, asook verskillende grondgebruike en maak dit ideaal om die nuwe stelsel te toets.

Pangolin.Africa sê die eerste fase van die plan behels die installering van ʼn nuwe energiewekker-ontwerp op bestaande heinings, terwyl die tweede fase basiese veranderings aan heinings behels. Die installering by die meeste plekke is afgehandel en die stelsels word reeds gemonitor.

Indien dit suksesvol is, sal grondeienaars landwyd ondersteun word om die nuwe stelsels op hul elektriese heinings te installeer.

Ietermagogs is egter nie die enigste diere wat deur elektriese heinings beseer of gedood word nie. In Suid-Afrika is skilpaaie, slange, verkleurmannetjies en klein bokkies dikwels ook die onbedoelde slagoffers van elektriese heinings.

Kyk ook hier na ‘n dokumentêr van Pangolin.Africa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dit is goeie nuus. Ek sal plaaslik navrae doen m.b.t. die stelsel. Hier is dit veral verkleurmannetjies wat op die heining dood skok.

Elke persoon wat aan die projek werk verdien ‘n baie groot DANKIE

Loulou ·

Dis hartseer. eerstens omdat ons elektriese heinings moet gebruik om stropers te probeer uithou. en dat so unieke diertjie daaronder lei. Party mensie is net siek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.