Baanbrekersoperasie vir SA red baba se oog

Erica Croxford en haar seuntjie, AJ, kort na die operasie. (Foto: Netcare)

Dit was blote moedersinstink wat gevaarligte vir Erica Croxford laat flikker het oor ʼn klein merkie wat sy kort ná sy geboorte op haar seuntjie, AJ, se gesig opgemerk het.

“Ek was bewus van die merk op sy wang vandat AJ maar twee dae oud was en ek het ʼn gevoel gehad dat iets nie heeltemal reg is nie. Die dokters met wie ek gepraat het, kon nie vir my sê wat dit was nie, maar was ook nie te bekommerd nie, so ek het probeer om nie daaraan te dink nie,” sê Croxford.

In Desember verlede jaar het Croxford egter nog ʼn merkie in AJ se armholte opgemerk. Kort ná Nuwejaar het hy een oggend met ʼn vreeslike geswelde en melkerige ogie wakker geword en sy pupil het glad nie beweeg nie.

Croxford het klein AJ inderhaas na ʼn dokter geneem, waar die seuntjie se stryd begin het teen wat uiteindelik as jeugdige xanthogranuloma, ʼn seldsame velafwyking wat hoofsaaklik by kinders onder een jaar voorkom, geïdentifiseer is. Hy was destyds maar vier maande oud.

Die weke en maande daarna was ʼn opdraande stryd vir AJ en sy gesin. Hy is verwys na ʼn oftalmoloog wat, nadat ʼn biopsie van die merk onder AJ se arm gedoen is, die toestand gediagnoseer het.

In hierdie stadium het die druk in AJ se ogie egter beduidend toegeneem en hy moes vier operasies ondergaan om die gloukoom en die gewas in sy oog te behandel. Ten spyte van dié pogings het die membraan van AJ se oog onbeheersd gegroei en hy is na dr. Hamzah Mustak, ʼn okulêre onkoloog en okuloplastiese spesialis by Netcare se UK Private Akademiese Hospitaal in Kaapstad verwys.

Jeugdige xanthogranuloma is gewoonlik nie rede tot kommer nie, maar meer as een letsel op die vel, tesame met ʼn letsel in die oog, kan ernstig wees. In AJ se geval het die gelei tot ʼn vergroeisel wat gloukoom, of ernstige druk in die oog, veroorsaak. Dit kan eindelik tot ʼn verlies van sig of selfs ʼn verlies van die oog self lei.

Na ʼn aanvanklike afspraak vroeg in Junie was dit vir Mustak duidelik dat hy bragiterapie sou moes probeer, die behandeling van sekere soorte kanker, wat die kanse dat ongeraakte weefsel bestraling ondervind, verminder.

“Dit is ʼn soort interne bestralingsterapie waartydens die bestraling tydelik ingeplant of in die geraakte gebied geplaas word. Hoewel die vergroeisel in AJ se oog nie kankeragtig was nie, moes dit verwyder word om die uiteindelik verlies van sy oog te voorkom,” sê Mustak.

Baba AJ en sy ma, Erica. (Foto: Netcare)

Hoewel Mustak bragiterapie as ʼn vorm van behandeling vir gewasse van die oog gebruik, was dit die eerste keer dat dit in Suid-Afrika vir die behandeling van ʼn pasiënt met dié toestand gebruik sou word.

Die unieke samewerkingsooreenkoms tussen die UK Private Akademiese Hospitaal en die Groote Schuur-hospitaal verseker hoogs gespesialiseerde sorg is by die fasiliteit beskikbaar.

“Ons is die enigste eenheid in Suid-Afrika wat doelgerigte bragiterapie vir die oë aanbied en dit was nodig om die bestralingsimplantaat vir AJ spesifiek te ontwerp. Dit is gedoen in samewerking met my kollega by die hospitaal, die bestralingsonkoloog dr. Julie Wetter.

“Die proses begin met ʼn ondersoek van die oog, die neem van mate en die ontwerp van ʼn profielvorm. ʼn Dosis word dan bereken vir die aflewering van gefokusde bestraling op die gewas,” verduidelik Mustak.

Van daar word ʼn reeks ingewikkelde wiskundige berekeninge gedoen om die planne vir die vervaardiging van die implantaat op te stel. In hierdie geval is dit van vlekvrye staal gemaak, met die presiese dosis bestraling binne-in.

“Wanneer dit kom by bragiterapie van die oog, is dit ekstra ingewikkeld omdat dit ʼn orgaan is wat baie beweeg. Ons moes dus ʼn spesifieke ontwerp gebruik, soos ʼn groot ring, om die implantaat stewig te hou sodat dit aan die oogspiere vasbly wanneer daar beweging is.

“Dit het nagenoeg 40 minute geduur om die prosedure op AJ te doen, waarna die implantaat vir 17 uur lank in sy oogbank gehou is sodat die bestraling van die gewas gedoen kon word, voordat dit weer verwyder is. Die sukseskoers vir bragiterapie in die oog is meer as 90%, so ons hoop dus dat die gewas nie sal teruggroei nie en dat AJ weer sig in daardie oog sal hê,” sê Mustak.

Dit is nou net meer as drie weke sedert klein AJ die behandeling ondergaan het en nadat hy reeds twee drukkingstoetse in sy tuisprovinsie van KwaZulu-Natal ondergaan het, is die druk in sy oog bestendig en op ʼn gesonde vlak.

“Dit is egter nog nie die einde van die pad nie. AJ sal binnekort ʼn katarakoperasie moet ondergaan.

“Eers na ʼn jaar sal ons regtig weet presies wat sy sig in daardie klein ogie gaan wees. Die vooruitsigte lyk egter goed, danksy die ongelooflike werk van dr. Mustak en sy kollegas, asook die wonderlike span by die UK Private Akademiese Hospitaal,” sê Croxford.

“Julle is werklik besonders.”

Duur behandeling

Vir AJ om dié ingrypende behandeling te ontvang het egter die sak geruk en lank voor die operasie plaasgevind het, was dit reeds duidelik dat dit ʼn uitdaging vir die Croxford-gesin sou wees. Die UK Private Akademiese Hospitaal vorm nie deel van die gekontrakteerde hospitaalnetwerk van hulle mediese fonds nie. Dit het beteken die koste van die operasie sou nie ten volle gedek word nie en dit sou haas onmoontlik vir hulle wees om te bekostig.

Maar daar was geen ander oplossing om te verseker AJ kry die sorg wat hy so desperaat benodig het nie. Hierdie was die enigste opsie.

“Ek het dit onder die aandag van die hospitaalbestuur gebring en na beraadslaging het ons ʼn manier gevind om te verseker AJ het ʼn kans dat sy sig gered kan word,” sê Mustak.

Lizl Rodriques, hospitaalbestuurder by die UK Private Akademiese Hospitaal, sê die fasiliteit en sy personeel was geëerd om ʼn rol te speel in die kans om AJ se sig te help herstel.

“Ons is so bevoorreg dat hierdie hoogs gespesialiseerde vorm van behandeling net deur ons hospitaal verskaf kon word en dat ons kon help om dit meer toeganklik vir dié klein pasiëntjie en sy gesin te maak.

“Ons wens AJ alles van die beste op sy pad na herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ons bid A J dat jou sig heeltemal.sal herstel.Dankie aan almal wat ‘n rol gespeel het om dit wat sover bereik is moontlik te maak.

Ny ·

‘n Moedersintink is die stemmetjie waarna elke ma moet luister! Dis daar vir ‘n rede!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.