Baas van R699-skema dagvaar klant oor laster

Argieffoto

Argieffoto

Albert Venter, uitvoerende hoof van Satinsky, die maatskappy wat in die hof gedaag word oor die R699-motorverkoopskema, dagvaar ʼn klant vir R1 miljoen oor naamskending, berig die Business Times.

Venter het die dagvaarding bedien op Cornelia Maria Nel, administrateur van die Facebook-blad, “I have been done in by Drive a New Car from R699 per month”.

Volgens die koerant is Nel een van 29 000 klante wat glo die slagoffers was van die motorskema. Die klante is vir R2.8 miljard deur Standard Bank, Nedbank en Absa gefinansier. Die skema het onderneem om terugbetalings op nuwe motors tot so min as R699 per maand te verminder indien die motoriste ʼn minimum afstand aflê met advertensieplakkers van die skema op die motor.

Die skema het egter in Julie in duie gestort en banke eis nou volle terugbetalings – bedrae wat die persone wat die motors besit, nie kan bekostig nie.

Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Port Elizabeth het uitspraak voorbehou in die saak.

Die Business Times berig ontstoke klante het die Facebook-groep gestig.

Venter voer in sy eis aan die kommentaar op die Facebook-blad is “vals, verkeerd en lasterlik” en skep die indruk dat hy “onbehoorlik voordeel getrek het uit die skema”. Venter het veral na een spesifieke plasing op die blad verwys: “Venter beplan om uit Suid-Afrika na die Russiese Federasie te vlug”.

Nel het glo lede van die groep versoek om persoonlik ʼn foto van Venter se vliegtuig by haar aan te vra. “Albert Venter het ons vandag oor hierdie foto gedreig. Hoekom is dié vliegtuig so groot geheim?” het sy geskryf.

Volgens die koerant het Nel gesê Venter gaan moontlik die vliegtuig gebruik om uit Suid-Afrika te vlug en die GPS-koördinate van sy luukse woning in Mooikloof, Pretoria, verskaf.

Die saak sal in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word, maar die koerant het gesê dit is nog nie duidelik wanneer die saak sal voorkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie ·

Dagvaar maar ou bees. As jy ‘n onwettige skema bedryf is jy skuldig.

Peter Says ·

Reg was nog nooit verkeerd nie, verkeerd was nog nooit reg nie. Dra die gevolge.

Belinda ·

Baie gou om die verkeerd op iemand anders te pak………………………as mens skuldig is mens skuldig en klaar!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.