‘Baasbrein’ in Mooinooi-saak nie oorlede

Koos Strydom tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Landi Slatter

Jongste: Koos Strydom is Vrydagmiddag om 13:20 oorlede. Lees meer.

Koos Strydom, die vermeende baasbrein in die moord op Joey en Anisha van Niekerk, word steeds in ʼn Pretoriase hospitaal behandel.

Zandile Mabunda, Gautengse woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het gesê gerugte dat Strydom intussen oorlede is, is nie waar nie. Strydom se regsverteenwoordiger, Heinrich Moldenhauer, het ook gesê sy kliënt is nie oorlede nie.

ʼn Bron het aan Maroela Media gesê een van Strydom se seuns het ʼn stemboodskap uitgestuur waarin hy sê sy pa is oorlede. Volgens ander bronne word Strydom deur masjiene aan die lewe gehou en moet besluit word of die masjiene afgeskakel gaan word.

Daar is intussen ook bewerings dat Strydom gif of pille ingekry het en dat hy sy eie lewe probeer neem het. Mabunda het gesê dié bewerings word deur die departement ondersoek.

Strydom (54) is Maandag na ʼn hospitaal geneem nadat hy die oggend bewusteloos in sy enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangetref is. Sy vrou, Mercia, het hom later in die hospitaal besoek en sy het hier gesien hy is aan ʼn ventilator gekoppel. “Die hospitaal wil egter nie vir ons sê wat fout is met hom nie,” het Moldenhauer vroeër gesê.

Koos Strydom en sy medebeskuldigdes se verhoor het in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria begin. Strydom staan saam met sy vrou, Mercia (23), Alex Modau en twee broers, Aaron James (26) en Jack Chinkinya Sithole (19), tereg vir die moord op die Van Niekerk-egpaar. Die broers word ook van verkragting aangekla. Die saak gaan later vanjaar voort.

Maroela Media het vroeër berig agt mense is aanvanklik aangekla in verband met die moord op Joey en Anisha. Die aanklagte is egter later teen drie van die beskuldigdes teruggetrek.

Die Van Niekerk-egpaar het in Desember 2017 spoorloos uit die huis waarin hulle gewoon het op ʼn kleinhoewe in die Mooinooi-omgewing verdwyn. ʼn Soektog na die vroue is van stapel gestuur en ongeveer ʼn week later is die twee vroue se wit Nissan X-trail-sportnutsvoertuig in die Magaliesburg-omgewing gevind. Dit het later aan die lig gekom hulle is op grusame wyse verkrag en vermoor.

Die staat beweer Koos was die baasbrein agter die moord en die motief was na bewering omdat hy die twee vroue se kleinhoewe wou bekom.

Daar is in Junie vanjaar berig dat Strydom na bewering ʼn medegevangene geld aangebied het om die ondersoekbeampte in een van die moordsake teen hom te vermoor.

Strydom staan ook tereg vir die moord op Mandie Jansen van Rensburg in Junie 2014. Jansen van Rensburg is op 24 Junie 2014 doodgeskiet in wat aanvanklik as ʼn “plaasaanval” bestempel is. Die staat het vroeër aan die hof gesê dat Jansen van Rensburg ʼn deel van haar kleinhoewe aan Strydom sou verkoop en die twee het lewenspolisse ter waarde van R1,8 miljoen op die ander uitgeneem as sekuriteit. Strydom het gevolglik ná Jansen van Rensburg se dood die R1,8 miljoen ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

charmaine ·

Het hulle nou regtig gedink na die moorde gaan hulle rustig in daai vrouens se juis intrek vir altyd gelukkig lewe? Dit is siek verby, en as hy so afgrem lyk wonder hoe lyk die 23jarige vrou?

Christi ·

Sy vrou kon hom besoek, is sy nie ook veronderstel om in aanhouding te wees nie?

Pikkie ·

Koos is oorlede. My innige meegevoel aan sy kinders.Die berig is foutief

LIEZL ·

Christi, het ek nou dieselfde gedink. Sy moet mos ook in aanhouding wees. maar, dis maar hoe dit mos is. Hulle kan vry rondloop jong!

SjN ·

Lyk my daar word nie net met dwelms gesmokkel in die tronk nie, rotte gif raak glo nou gewild.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.