Baasbrein Rassie kan nou ook spog met eredoktorsgraad

Rassie Erasmus word met ‘n eredoktorsgraad vereers vir sy uitsonderlike posisie in die internasionale rugby-afrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Op die veld word hy beskou as ʼn meesterlike rugbystrateeg en Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke, ontvang nou ook ʼn eredoktorsgraad vir sy bydrae tot die spel.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het Vrydag aangekondig hy gaan ʼn eredoktorsgraad aan Erasmus, ook die Springbokke se voormalige direkteur van rugby, toeken vir sy bydrae om die manne in groen-en-goud te help om die Wêreldbeker-rugbytoernooi te wen.

Die NWU-raad het die besluit in November al goedgekeur nadat die versoek vir die toekenning van die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in Afrigtingkunde, deur die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingedien is.

Die universiteit sê die eredoktorsgraad word aan Erasmus toegeken ter erkenning van sy innoverende en buitengewone bestuur van die Springbokke tydens hul oorwinnings in 2019 en 2023 in die Wêreldbeker-toernooi, sy besondere posisie in die internasionale rugby-afrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid.

“Benewens sy visionêre leierskap het hy ook ʼn onwankelbare verbintenis tot die Sporttransformasiehandves – wat by die strategiese plan van die departement van sport en ontspanning ingesluit is – wat ʼn sistematiese verandering in die ontwikkeling van talent en vaardighede regoor die nasionale rugbyspektrum meegebring het,” sê die universiteit.

Erasmus het getoon dat hy ʼn “nasiebouer is op wie die land trots kan wees”.

“Rassie verpersoonlik die beginsels van veerkragtigheid, vasberadenheid en spanwerk wat vir ons by die Noordwes-Universiteit in ons opvoedkundige missie van groot waarde is. Sy bydrae aan Suid-Afrika – as rugbystrateeg en ook nasiebouer – dien as ʼn skitterende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer passie, toewyding en visioenêre leierskap saamgevoeg word,” sê Bert Sorgdrager, raadsvoorsitter.

“Hierdie gesogte erkenning is nie net welverdiend nie, maar ook ʼn getuienis van die merkwaardige bydraes en buitengewone impak wat Rassie op die gebied van sport en innoverende sportbestuur gemaak het.”

Sorgdrager sê Erasmus se verbintenis tot inklusiwiteit en transformasie in sport het nie net aan rugby nuwe lewe gegee nie, maar gedien as ʼn kragtige simbool van versoening en eenheid in ʼn nasie met ʼn komplekse geskiedenis.

“Onder sy leiding het die Springbokke nie net rugbyroem verwerf nie, maar ʼn verenigende krag geword wat mense van alle agtergronde en oortuigings byeenbring. Sy klem op spanwerk, dissipline en toewyding strek baie verder as die sportarena, en bied lewenslesse wat nie net aspirerende atlete inspireer nie, maar ook gewone mense in hulle daaglikse lewens.

“Hy gebruik sy invloedsfeer sinvol om maatskaplike verandering te bepleit, ʼn omgewing aan te moedig waar diversiteit en inklusiwiteit gevier word, en om verskille as sterk punte eerder as swakhede te sien,” sê Sorgdrager.

Erasmus het die eer Donderdag “met baie waardering” aanvaar. Die seremonie word binne die volgende paar maande op die Potchefstroom-kampus van die NWU gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mariana ·

Baie geluk Rassie, jy verdien dit. Dankie vir jou besonderse bydrae tot ons rugby.

Lettie ·

Baie geluk Rassie. Jy verdien die toekenning met lof. Dankie vir jou bydrae om SA trots te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net ‘n poging om Afrikaners vertroue in NWU te gee. Sowel as die Christie ondersteuners. Nou is almal weer gelukkig.

Jacobus ·

Baie geluk Rassie jy het reggekry wat geen vorige Springbokafrigter kon regkry nie. Jy verdien dit.

Martie Smartie ·

Wat ‘n joke. Mense swoeg 6 jr en doen regte navorsing en ‘n rugby afrigter word mahala ‘n doktor. BIG FAT JOKE NWU

Martie Smartie ·

So elke afrigter /wenner wereldwyd moet n doktor word. Hoe funny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.