Baasspeurder-Samaritaan van die Waterberge

Sakkie Louwrens vertel vir wildboere by ‘n WRSA-boeredag van sy nuwe app om plaaswerkers se data te boekstaaf. (Foto: Du Preez de Villiers)

Bitter min mense sal kans sien vir die werk wat Gawie (Sakkie) Louwrens doen. Hy bedryf ’n niewinsgewende organisasie wat plaasaanvalle ondersoek. Hy is wel genadeloos gefokus as hy op die spoor van ʼn misdadiger is, maar hy het ʼn hart van goud teenoor die slagoffers wat hy gratis help.

Sakkie is vroeg in 1970 in die destydse Rhodesië gebore en op agt jaar het sy gesin in Suid-Afrika kom woon. Op skool het hy hom as sportman onderskei. Sy ouer broer, Kubaan, het ná skool by die polisie aangesluit en Sakkie het besluit dat dit ook sy loopbaan sal wees.

“Ek was nie lank in die polisie nie toe skuif ek in 1990 na die klein polisiestasie in Tuinplaas naby Nylstroom. In 1991 is ek Warmbad toe en in 1992 het ek daar by die speurtak aangesluit waar ek baie by die gesoute manne geleer het,” sê hy.

Daar het ʼn behoefte ontwikkel het om ernstige misdade te bestry en op 1 Maart 1996 het Sakkie en agt manne Bosveld Moord en Roof gestig.

“Die streek wat ons gedek het, staan as die Waterberge bekend. Ons het al die ernstige misdade soos plaasmoorde, transitorooftogte, asook huis- en gewapende roof ondersoek.”

Sakkie het ʼn liefde vir die platteland en sy mense ontwikkel en dit was veral plaasaanvalle wat hom diep geraak het. Hy het derhalwe hierop begin fokus en in 2000 is hy tot kaptein en speurtakbevelvoerder in Thabazimbi bevorder.

In 2006 is hy terug Nylstroom toe waar hy in 2008 die berugte reeksmoordenaar David Randitsheni, wat 18 mense verkrag het, aangekeer het. Randitsheni het tien van die 18 vermoor waarvan almal tussen die ouderdom van drie en 13 was.

Daarna is hy na verskeie stasies in Limpopo verskuif waaronder Pietersburg, waar hy saam met spesiale taakspanne aan ernstige gevalle gewerk het. In 2010 is hy Dennilton toe en tot luitenant-kolonel bevorder. In 2012 het hy gaan help om die 29-jarige Petrus Madiba in Groblersdal aan te keer. Hy het saam met sy taakspan dié reeksmoordenaar binne vier dae en sewe uur in hegtenis geneem.

Die provinsiale kommissaris het dié taakspan met vyf lede, onder Sakkie se bevel begin aanwend om hoëprofielsake in Limpopo te ondersoek.  “Ons het op plaas-, reeks- en moetiemoorde, huisroof, hoëprofielmoorde en ander roof gefokus.”

In 2015 het sake so versleg dat die polisie nie meer eenhede gehad het om op plaasaanvalle te konsentreer nie en Sakkie was genoop om buite die boks te dink.

Kort daarna het hy ʼn organisasie, Heritage Protection Group (HPG) gestig.

“Ek het later weggebreek en in 2020 het ons Bosveld Misdaad Ondersoeke (BMO) gestig wat in ondersoeke spesialiseer.

“Ek en twee ander direkteure, oom Dries Visser (’n groot naam in die wildbedryf) en Anton Barnard, ʼn bekende sakeman in Thabazimbi, het hierdie niewinsgewende maatskappy gestig wat slegs op skenkings staatmaak en op geweldsmisdade fokus. Ons wou die slagoffers help. Jy kry ou mense wat op ’n plaas aangeval is en mense wat nie finansieel kan bekostig om hulp te kry nie. Ek voel dis eties om daardie mense gratis te help. Ek kan nie die mense in die oë kyk en hul geld vat as ek weet hulle kan dit nie bekostig nie.”

Tans is die plaasaanvalle in die Waterberge baie stiller en BMO begin nou wyer werk.

Sakkie is ook betrokke by sake wat nie met plaasmoorde verband hou nie. Hy het met die Deacon-moorde in Pietersburg gehelp, asook met die saak van die ou tannie wat verkrag en vermoor is in Koraal, ook in Pietersburg.

In Groblersdal is hy steeds met die plaasvoorman, Raymond Papapavlou, se moordsaak besig wat toe later as ʼn moontlike gesinsmoord blootgelê is.

“Die saak is nog hangende, so ek kan myself nie veel daaroor uitlaat nie.

“Ek het ’n baie goeie verhouding met die polisie in Limpopo, van die offisiere met hoë range tot die ouens op grondvlak. Die manne van die provinsiale speurtak bel my soms nou nog om te kom help as daar voorvalle is,” sê hy.

Sakkie Louwrens en sy honde, Koevoet en Millah. (Foto verskaf)

Só gaan Sakkie te werk

“Gewoonlik stel die polisie my in kennis van ʼn voorval en dan kry ek die inligting by die ondersoekbeampte en ek verseker hom of haar dat ek daar is om te help en nie die saak wil oorneem nie. Dan kry ek die feite van die saak agtermekaar en begin na leidrade soek soos selfoonaktiwiteite, vingerafdrukke en DNS-monsters. Ek praat met mense wat in die omgewing was, asook inwoners van die gebied om te hoor of hulle iets gewaar het. Dan moet ek natuurlik op my informante steun, want niemand kan sonder hulle werk nie. Hulle is jou oë en ore op die grond.”

Die ander kant van plaasaanvalle is dat dit geleenthede vir ondernemings skep. Syntell is ʼn maatskappy wat, onder meer, kameras langs die snelweë en belangrike provinsiale paaie aanbring.

“Hulle bou ʼn databasis op van al die voertuie wat in die gebied inkom en dit help ontsaglik baie om verdagte voertuie te identifiseer. Ons het juis onlangs ’n reusesukses met hul hulp behaal.”

Sakkie se ander medewerkers is sekuriteitsmaatskappye en plaaswagte soos Matlabas Plaaswag wat in Thabazimbi gevestig is, maar wat meer as ʼn miljoen hektaar dek – vanaf Dwaalboom, Northam reg deur tot by Ellisras en Steenbokpan.

“Ek doen ook ernstige sake vir hulle en hulle is getroue donateurs.”

Om een saak te ondersoek, kan maklik R60 000 per week of meer kos. Dit is nie geld wat jy agter elke bos uitskop nie.

“Die tipiese persoon wat ’n debietorder vir BMO teken, is wildboere en sakemanne, wat ʼn groot verskil tot ons voortbestaan maak. Senyaka Nyaka Security op Naboomspruit en Tom Burke skenk vir my diesel. Anton Barnard, een van BMO se direkteure, skenk kantoorruimte en hanteer al ons administrasie en finansies. Dan doen Ilze Knoetze, ʼn wildhandelaar, ons bemarking.”

As die werk baie word, sal Sakkie ook ervare konsultante inkry wat hy per dag betaal.

“Ons kan nie ʼn groot mannekrag bekostig wat ʼn salaris verdien nie. Ek trek hulle in soos hulle benodig word.”

Sakkie Louwrens en sy vrou Mariska. (Foto verskaf)

Plaasmoorde

Sakkie het al meer as 300 plaasaanvalle ondersoek en hy het mettertyd geleer dat daar ʼn 99,9%-kans is dat die plaasaanvaller bekend is met die plaas se opset.

“ʼn Vreemdeling kan nie net ʼn plaas aanval nie. Hulle moet êrens binne-inligting kry. Dit moet iemand wees wat daar werk of gewerk het of ’n kontrakteur wat draad gespan of dakke kom bou of verfwerk gedoen het.”

Sakkie is wel baie skepties oor die heersende persepsie dat boere hul werkers sleg behandel en dat dít tot die aanvalle en wrede moorde lei.

“Ons moet verstaan dat die misdaad in Suid-Afrika heeltemal handuit geruk het. Dit is die grootste probleem. Plase is afgeleë en opportuniste dink dat daar baie kontant en wapens op plase is. Dit is merendeels die rede vir die wreedheid en martelings. Hulle probeer die inwoners forseer om dit aan hulle te gee, of dit nou daar is of nie.”

Maar Sakkie kan nie die verkragting en uitgestrekte marteling van oumense en babas verklaar nie. Verder is hy nie oortuig dat die politieke situasie en gepaardgaande slagspreuke enigsins geen invloed op plaasmoorde het nie.

“ʼn Boer moet ook onthou dat geen sekuriteitsmaatskappy ’n plaas heeltemal kan beveilig nie. Jy kan slegs metodes gebruik en maatreëls tref om jouself so goed as moontlik te beskerm.

“Die spesiale eenhede in die polisie is ook toegemaak, wat ’n groot probleem is. My oudkollegas se hande is afgekap en hulle is op hul eie aangewese. Die bestuur en logistieke ondersteuning is nie meer wat dit was nie. Alhoewel daar baie lede is wat nog die werk wil doen, kan ek hulle nie kwalik neem as hulle swak presteer nie.”

Sakkie het ʼn blink plan bedink om voorkomend teen plaasmoorde op te tree.

“Johan Ellis het my kollega geword in ʼn projek om elke plaaswerker se inligting op te neem. Hy het ʼn maatskappy wat ʼn databasis ontwerp het waarmee jy van plaas tot plaas kan gaan om elke werker se foto, vingerafdrukke, ID, selfoon se IMEI-nommer en toepaslike persoonlike besonderhede te boekstaaf. Dit word alles op ʼn app gelaai wat ʼn boer ook kan aflaai. Wanneer ’n werker hom skuldig maak aan wangedrag of ʼn misdaad word sy profiel gemerk. Betroubare werkers word ook gemerk. Sodoende kan ʼn boer maklik sien of ʼn nuwe werkaansoeker betroubaar is of probleme gaan veroorsaak.

“Die doel daaragter is om so veel as moontlik van die arbeidsmag op die stelsel te kry. Dit gaan wel ʼn lang proses wees en is duur om uit te rol. Ons is tans daarmee besig in Groblersdal en Tom Burke.

“In die meeste gevalle lig die polisie darem die vingerafdrukke op ʼn misdaadtoneel en ek het vingerafdrukdeskundiges wat ek kan inkry om my te help.

“Met die insameling van DNS-monsters is dit ʼn ander storie, die situasie is haglik. Dit is al so erg dat klaers soms self moet opdok om hulle uitslae te kry sodat sake bespoedig kan word.”

  • Indien jy meer oor Bosveld Misdaad Ondersoeke wil weet of betrokke wil raak, kontak Sakkie by 071 798 7954.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Realis Thailand ·

Dit is nou n man so na aan my hart
Hy is die soort mens wie die mense in SA moet ondersteun
Ek wens hom net voorspoed en sukses toe

Debbie ·

Baie dankbaar aan hom dat hy die boere wil help. Stem net nie saam dat alle plaas aanvalle is deur hulle geld en wapens soek nie. Hoeveel mense is net nie gemartel en vermoor vir niks nie

Tiptol ·

Dankie Sakkie, vir jou harde werk. Die databasis met inligting is ‘n baie goeie idee. Dit sal boere baie help met nuwe werkers wat aansoek doen. Dieselfde prinsiep soos wanneer ‘n huurder ‘n eiendom wil huur en daar gekyk kan word sy kredietwaardigheid.

Pablo ·

Die plaasaanvalle is duidelik polities en rassisties gedrewe. Die aanvallers weet hulle optrede teen die oordrewe wit boere word stilweg deur die ANC gesteun.

Alexander ·

Die ANC en EFF beslis betrokke by beplanning van plaasaanvalle en ander rooftogte. Hulle blymaar in wese terroriste. Ons kan maar net hoop dat dit eendag op die lappe sal kom. Nietemin moet hierdie organisasie geloof word vir die goeie werk wat hulle doen.

JohanR ·

Hello ou Rhodesie-aanner. Jy was maar 5 toe ek my 20 maande in die mag gaan doen het in November 1975. Dit was ‘n tyd toe boere ook maar sterk onder skoot was. Die huise is versterk binne en buite sodat handgranate nie deur die vensters kon gegooi word nie. Elke persoon in die huis van kind tot ouer,oupa’s en ouma’s het geweet hoe om te skiet, en met elke geweer en pistool wat beskikbaar was. Die terroriste se lekkerte was om mortiere deur die plaas se dak te sit, soe skuiling was maar altyd in die gang gesoek. Daar was radio kommunikasie met bure, polisie en die naaste weermag soe in soe aanval was daar altyd redelik gou op die terroriste se spoor. Ander gevaar was die land myne wat op die plaas paaie gestel is. Ons het darem nog nie soe ver gewoorder nie maar boere hier in SA is ook in ‘n oorlog betrokke. Sterkte aan jou en jou manne Sakkie.

Karina ·

Dankie Sakkie en sy manne wat plaasmoorde ondersoek. Voorspoed, Sukses en mag jy elke moordenaar vang op wie se spoor jy is.

Gato ·

Dit is regtig goed om te weet daar is iemand met kundigheid wat die plaasmoorde en ander moorde ondersoek. Die Polisie is oor die algemeen maar n onbevoegde spul deesdae en die wat nog kan en wil word deur die stelsel ingeperk. Sterkte vir jou werk Sakkie.
MM gee meer inligting oor die App asb. Naam van die App.
Werk dit op Android en Apple fone?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.