Baba Aiden: ‘Hy het altyd gelag’ sê ma

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

“Aiden was ʼn vriendelike, uitspattige seuntjie wat altyd ʼn glimlag op sy gesig gehad het. Hy was woelig, maar ʼn rustige kind wat altyd gelag het. Hy was net so gelukkig en die heel mooiste kind.”

Só het Clarise Roberts haar 18 maande oue seuntjie, Aiden, wat verlede week oorlede is nadat hy in ʼn swembad beland het Maandag aan Maroela Media beskryf.

Aiden het op 5 Mei in die swembad by sy ouerhuis in Middelburg, Mpumalanga, beland toe sy oupa per ongeluk die hek na die agtertuin oopgelos het omdat hy onder die indruk was dat Aiden saam met sy ouers winkel toe is. Clarise het kort daarna by die huis gekom en haar kind in die swembad sien dryf met sy gesig na onder.

Hy is sedert die voorval in die waakeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel, maar het verlede week ʼn septiese infeksie ontwikkel en inwendig begin bloei. Hy is kort daarna oorlede.

Clarise het gesê geen begrafnisreëlings is nog getref nie, omdat die familie wag vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word. “Ons weet nog nie wanneer ons sy liggaampie gaan kry nie, so ons wag om te hoor. Ons het klaar besluit om hom te laat veras, want ek wil sy assies vir ewig by my hou,” het ʼn emosionele Clarise gesê.

Aiden het nie ʼn mediese fonds gehad nie en die familie het ʼn trustfonds gestig om sy mediese onkoste te dek. Volgens Clarise is daar steeds R300 000 op die hospitaalrekening uitstaande en verskeie geldinsamelingsaksies word gehou om hierdie bedrag in te samel.

Daar sal Saterdag ʼn musiekvertoning met stalletjies by die Eagle Inn in Middelburg gehou word, asook ʼn Colours for Aiden-veldtog waartydens die publiek hul hare met verskillende kleure kan spuit. Intussen word daar ook kolwyntjies en strikkies verkoop waarvan alle wins aan die Aiden Roberts-trustfonds geskenk sal word.

Klik hier vir meer inligting of om tot die trustfonds by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gina ·

Ai dis darem vreeslik tragies. Clarise moet net nooit n vinger na Oupa toe wys nie. Hierdie is net n hartseer storie en ek hoop jul kan almal bymekaar staan en bly. God sal al jul trane opdroog. Glo en vertrou net op HOM. HY het n tyd en nplek gekies vir ons elke een. Baie sterkte aan hele gesin en familie

Annemarie Zandberg ·

Weet julle ek wil vir julle se daardie gebeur in enige huis en ek hoop almal leer daaruit. Dit so vinnig wat n ongeluk gebeur. Maar Middelburg se mense is fantasties….hulle samel geld in om daardie ouers te help. Dis n Goddelike gebaar. Ons is trots om n Middelburger te wees

CHRISTA ·

Sy ouers moet uitvind HOE hy die septiese infeksie opgedoen het. Dit lyk vir my die hospital dalk nalatig was.

Alison ·

Regtig? Dit is ‘n feit dat sy ouers nalatig was. Dit is nie die hospitaal wat hom sonder toesig alleen by die swembad gelos het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.