Baba al maande in hospitaal ná hartaanval

Die agt maande oue Demi-Lee Putter is al 55 dae in die hospitaal ná sy ʼn hartaanval op ʼn operasietafel gekry het. (Foto: Verskaf)

ʼn Agt maande oue baba van Springs in die Oos-Rand het ernstige breinskade opgedoen toe sy onlangs vir die tweede keer ʼn hartaanval gehad het.

Demi-Lee Putter is tans in die hoësorgeenheid van die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg, waar sy al die afgelope 55 dae behandel word.

Sy sou op 30 Julie ʼn operasie ondergaan om ʼn skedeldefek te herstel, maar het kort nadat sy narkose ontvang het op die operasietafel ʼn hartaanval gekry. Die aanval is veroorsaak deur ʼn lugborrel wat deur haar hart beweeg het, maar dokters is nie seker hoekom dit gebeur het nie.

Sedertdien voer dié dogtertjie ʼn opdraande stryd.

Demi-Lee is intussen met die outo-immuunsiekte, Sjögren se sindroom, gediagnoseer.

Sy is met kraniosinostose gebore, ʼn geboortedefek waar die bene in ʼn baba se skedel te vroeg aanmekaarheg.

Dít gebeur voordat die baba se brein volledig gevorm het en namate die brein groei, kan die skedel meer misvorm word.

Volgens haar ouma, Petro, het Demi-Lee egter doodnormaal ontwikkel en al haar ouderdomsmylpale behaal.

“Sy het niks makeer voor sy vir die operasie sou gaan nie.

“Sy het pas die narkose ontvang en die dokter was nog besig om op haar kop te teken waar hy gaan opereer toe haar bloeddruk skielik styg.

“Toetse het later onthul dat ʼn lugborrel in ʼn aar deur haar linkerkantse hartkamer beweeg en die hartaanval veroorsaak het.”

Volgens Putter het Demi-Lee se hart gevolglik gaan staan, maar sy is kort daarna deur ʼn kardiochirurg bygebring.

“Ons weet tot vandag toe nie wat die lugborrel veroorsaak het nie. Dit kan wees dat die bloedprobleem wat kort daarna by haar gediagnoseer is reeds voor die prosedure aanwesig was; ons het net nie daarvan geweet nie.

“Die dokter sê hy doen dié operasie al 16 jaar lank, maar dis die eerste keer dat hy so iets beleef het.”

Ná die voorval, sê Putter, het Demi-Lee baie gesukkel.

Die agt maande oue Demi-Lee Putter is al 55 dae in die hospitaal ná sy ʼn hartaanval op ʼn operasietafel gekry het. (Foto: Verskaf)

“In die eerste week van Augustus het sy bloedklonte begin ontwikkel, waarvan twee deur haar longe geskiet het. Een van dié bloedklonte het erge skade aan haar regterlong aangerig, gevolglik werk 40% van dié long nie meer nie.”

Putter sê die dokters het op 8 Augustus vasgestel dat Demi-Lee ook ʼn ernstige bloedprobleem het.

“Bloedklonte vorm deurlopend en kort ná hierdie diagnose het ʼn derde bloedklont deur haar long geskiet, wat erge bloeding veroorsaak het.”

Op 17 Augustus het ʼn bloedklont deur Demi-Lee se hart geskiet en ʼn tweede hartaanval veroorsaak.

“Weens suurstoftekort het sy breinskade opgedoen. Die dokters sê haar brein het so gekrimp dat die skedeloperasie nou nie eens meer nodig is nie.

“Hulle [dokters] sê daar is ʼn groot kans dat sy gestrem sal wees, maar ons sal moet wag om te sien hoe ernstig die skade is.

“Vir eers veg ons net dag vir dag om haar aan die lewe te hou.”

Putter sê Demi-Lee is in dié stadium wakker, maar kan nie ʼn geluid maak nie en reageer ook nie ten volle nie.

“Sy beweeg wel haar handjies en voetjies as ons met haar praat.”

Putter sê die gesin bestee elke week sowat R1 000 aan brandstof om van hul huis aan die Oos-Rand na die hospitaal in Johannesburg te ry, om Demi-Lee vir ʼn uur per dag in die hospitaal te besoek.

“My seun en sy vrou het ʼn mediese fonds, maar die fonds dek nie al die onkoste nie. Ons sit tans met uitstaande mediese rekeninge van sowat R400 000.”

Die agt maande oue Demi-Lee Putter is al 55 dae in die hospitaal ná sy ʼn hartaanval op ʼn operasietafel gekry het. (Foto: Verskaf)

Geliefdes het intussen ʼn geldinsamelingsinisiatief op Back a Buddy van stapel gestuur.

Demi-Lee se ma, Bronwyn, moes intussen ook uit haar werk bedank sodat sy haar dogtertjie elke dag kan besoek.

Sy en Demi-Lee se pa, Diego, het ook twee ander kinders, ʼn 19 maande oue dogtertjie en ʼn sesjarige seuntjie.

“Ons weet nie hoe lank Demi-Lee nog in die hospitaal gaan wees nie. Die dokters sê dit kan maande duur voordat sy ontslaan word.”

Putter sê hulle verlang na hulle borrelende blouoog-dogtertjie.

“Sy is die mooiste kind met die mooiste blou ogies. Hulle kyk deur jou siel.

“Sy is altyd supervriendelik en was nog nooit ʼn huilerige baba nie. Ek weet almal sê dit van hulle kinders, maar sy was regtig ʼn modelbaba.”

Putter sê sy kry haar kleinkind uiters jammer.

“Sy is nog so klein. Sy het nog nie eens ʼn kans gehad om te sondig nie, maar nou moet sy vir die res van haar lewe ly. Dit voel so onregverdig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blomme ·

Jy is ń ware vegtertjie Demi Lee. Spoedige herstel vir jou.

SomeOne ·

ek glo dat daar duisende mense vir haar herstel bid, glo net dat die Here na haar sal omsien en genees

Boerenooi ·

Ek sê nie dis wat hier gebeur het nie. Ek waarsku net: Deesdae word daar nie altyd in die hospitale geëvalueer of daar lugborrels in pasiënte se drip pypies is nie. Dis baie gevaarlik, want dit gaan in die pasiënt se are in en kan sodoende ʼn embolis deur die longe, hart, ens veroorsaak. Óf die lugborrels word in die pypie af geforseer na die pasiënt se arm of hand, ens. waar die drip in is. Sodoende gaan dit ook in die are in. Hou maar dop indien u ʼn drip op het as u in die hospitaal is.

Darts girl ·

Demi Lee in die naam van ons Hemelse Vader spreek ek dat jy ten volle gaan herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.