Baba Ayden haal self asem

Ayden van Niekerk is al vir langer as ’n maand in die hospitaal nadat hy aan ’n stukkie biltong verstik het. (Foto: Facebook)

Die ses maande oue Ayden van Niekerk kan ná ’n maand in die hospitaal weer op sy eie asemhaal.

Maroela Media het berig dat Ayden vroeër verlede maand met ’n noodhelikopter van Lydenburg na die Garden City-hospitaal in Johannesburg gehaas is, nadat hy aan ’n stukkie biltong gestik het.

Ayden se ma, Estelle, het vroeër aan Maroela Media gesê dat Ayden aan ’n stuk biltong gekou het om die jeukerigheid wat met tandesny gepaardgaan, te verlig. ’n Stukkie het vermoedelik afgebreek en in sy mond agtergebly en later, toe sy pa hom neerlê, in sy keel gaan sit.

Die suurstofpyp is die afgelope naweek uitgehaal en sy het Maandag gesê dat hy nou op sy eie asemhaal. Sy kon ook vir die eerste keer in 32 dae haar babaseuntjie vashou.

Estelle van Niekerk kon Maandag vir die eerste keer in 32 dae haar babaseuntjie vashou. (Foto: Verskaf)

Ayden is die afgelope paar weke onder verdowing geplaas en het deurlopend suurstof ontvang. Hy het onder meer ook swelling op sy brein gehad en ’n bloed- en longinfeksie opgedoen.

Hoewel Ayden nog nie heeltemal wakker is nie, het Estelle verlede week op die Facebook-groep, Bid vir baba Ayden, aangedui dat sy verdowing stelselmatig gelig is en dat hy nou self moet ontwaak.

Dit blyk egter dat Ayden se stryd nog nie verby is nie.

“Hulle [die dokters] is bekommerd, want as hy wakker is, huil hy baie en haal nie mooi asem nie, maar sodra hy slaap en rustig is, gaan dinge beter,” skryf Estelle op Facebook.

Sy sê dat Ayden onder meer ook met slym op sy bors sukkel.

“Dié mamma se hart voel swaar vanoggend – ek wil baie graag net die mannetjie vashou en vir hom sê alles gaan oukei wees, hy moet nie ophou fight nie.

“Ek bid vandag hard vir my baba en dat die Here hom rustig sal hou en sy bors aanraak sodat hy mooi asemhaal.”

Die gesin woon en werk in Lydenburg, maar waak sedert die voorval dag en nag langs Ayden se bed.

Sodra dokters tevrede is met sy vordering sal daar met ’n rehabilitasieproses begin word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nella ·

Ons bid vir jou Kleinman. Jy gaan groot en sterk anderkant uitkom. Mag jy van nou af net beter en beter raak en een van die dae is jy perdfris en gesond en hardloop die wêreld vol

LANA is ELANè ·

Ek glo aan ‘n Lewende God wat bemoeienis met die mensdom maak en ek glo dat Ayden se lewe in Sy hand is, daar is hy veilig en weet die Liewe Heer alleen wat Hy met Ayden se lewe vorentoe beplan.
Sterkte aan sy ouers, oupas en oumas en sommer al sy geliefdes ~ die magteloos rondom sy herstel moet vreesaanjaend wees op die beste van tye.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.