Baba Ayden vier dalk eerste verjaardag in hospitaal

Ayden van Niekerk is reeds die afgelope vier maande in die hospitaal en het verskeie terugslae beleef. (Foto: Facebook / Bid vir baba Ayden)

Die 10 maande oue Ayden van Niekerk sal waarskynlik sy eerste verjaardag op 1 November in ʼn rehabilitasiekliniek in Aucklandpark in Johannesburg deurbring.

Hoop om Ayden vóór dan tuis te hê, is deur verskeie terugslae oor die afgelope vier maande gekelder.

Volgens sy ma, Estelle, sal haar seuntjie hopelik einde Desember na sy ouerhuis op Lydenburg in  Mpumalanga kan terugkeer indien alles voortaan vlot verloop.

Hy het onlangs die sitomegalovirus – vermoedelik tydens ʼn bloedoortapping – opgedoen, waarvoor hy tans in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel word. Dié virus kom redelik algemeen voor en veroorsaak gewoonlik net ligte verkoue-simptome by gesonde kinders en volwassenes.

“Dis nie ʼn lewensbedreigende virus nie en baie algemeen, maar sy immuunstelsel is maar swak en dus is dit harder op sy lyfie,” sê Van Niekerk.

Estelle sê dié virus is aan die herpes-virus verwant en veroorsaak klein blasies binne Ayden se lyfie.

“Dít is moontlik ook die rede vir sy vergrote lewer, want die virus tas jou organe aan.”

Maroela Media het vroeër berig dat Ayden vroeër vanjaar ’n toeval gehad het wat sy brein aangetas het.

Ayden was lank in ʼn koma en aan ʼn ventilator gekoppel. Hy moes in Junie ʼn operasie ondergaan om trageotomiebuis in sy keel en ’n voedingsbuis in sy maag te sit.

Ayden het ʼn rukkie gelede ook sepsis opgedoen, maar volgens Van Niekerk het dit vandeesweek heeltemal opgeklaar.

“Hy is maar baie huilerig en het pyn. Nietemin maak hy elke dag vordering. Hy is baie meer paraat en beweeg lekker baie. Hy begin ons en ook meer mense herken en maak dadelik sy ogies oop as ons [die gesin] hom besoek.

“Hy haal ook self asem en het in dié stadium nie die ventilator nodig nie.”

Ayden is nou al vier maande in die hospitaal, waarvan hy drie weke by ʼn rehabilitasiekliniek deurgebring het.

Ayden het vroeër vanjaar ’n toeval gehad wat sy brein aangetas het. (Foto: Verskaf)

“Die huis voel so leeg sonder hom. Dis regtig moeilik om hom so min te sien.”

Die gesin pendel tans om die beurt tussen hul huis in Lydenburg en huurwoonstel in Randburg.

“Ek kan nie nou bekostig om nié te werk nie. Ek het op die oomblik  ʼn reëling met my werkgewer om 10 dae aaneen te werk en dan vyf dae af te wees. In die tydperk wat ek werk, bly Ayden se ouma, Elize van Niekerk, in die huurwoonstel sodat sy hom gereeld kan besoek.

“Sy kom huis toe wanneer ek af is en dan bly ek en my man, Sarel, in die woonstel. So maak ons maar gereeld beurte.”

Die gesin moet R7 000 per maand vir dié woonstel opdok terwyl mediese rekeninge voortdurend ophoop.

Familie en vriende hou gereeld fondsinsamelingsinisiatiewe op die Bid vir baba Ayden-blad op Facebook om uitgawes te help dek, en het onlangs R6 000 tydens ʼn pretloop in Lydenburg ingesamel.

Handgemaakte armbande word ook deurlopend op hierdie blad verkoop en daar is onlangs ʼn fotokompetisie gehou wat ʼn verdere R5 000 ingebring het.

Geliefdes het destyds ook ʼn Back a Buddy-fonds vir Ayden op die been gebring, wat sowat R30 000 gegenereer het.

“Dié fonds staan op die oomblik ʼn bietjie stil en daar is baie uitgawes, maar ons is baie dankbaar vir elke persoon wat sedert dag een hulle harte en beursies vir Ayden oopgemaak het.

“Mense moet asseblief nie ophou om vir ons seuntjie te bid nie. Ons hoop dat hy vinnig sal herstel en gou weer by die huis sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mel

Jy is ‘n ou vegtertjie liefste Ayden

Kokerboom

Mag die Vader hom gesond na sy ouerhuis laat terugkeer. Bid vir hom

Marzanne Aletha

In die naam van die Here sal jy gesond word baba Ayden en dit sal gebeur voor jou verjaardag. Ek spreek dit in die naam van die Here ons Almagtige Vader

Karina

Mag hy sommer gou gou gesond word en huis toe gaan.