Baba beseer in ongeluk buite Potchefstroom

Die ongelukstoneel. (Foto: ER24)

Agt mense, van wie een ’n agt maande oue baba, is Donderdagoggend beseer in ’n motorongeluk op die N12 buite Potchefstroom in die rigting van Klerksdorp in Noordwes. Vier motors was in dié botsing betrokke.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het in ’n verklaring gesê paramedici het by hul aankoms op die toneel die wrakke van vier motors verspreid oor die toneel aangetref. Verskeie mense het in dié stadium op die toneel rondgeloop.

Volgens Meiring het twee mense ernstige beserings in die botsing opgedoen. Hulle is pynmedikasie toegedien voordat hulle na ’n hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.

Nog ses ander, van wie een die baba, het ligte tot matige beserings in die botsing opgedoen. Hulle is ook na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Volgens Meiring het die rook van ’n veldbrand in die omgewing moontlik ’n rol in die botsing gespeel. Die toepaslike owerhede was vanoggend op die toneel om ondersoek in te stel.

Dié botsing volg kort nadat ’n ongeluk in Dobsonville in Johannesburg Woensdagmiddag die lewe van twee vroue geëis het. Nog agt mense is in dié voorval beseer, een van hulle ’n tweejarige kind.

ER24-paramedici was op die toneel (Foto: ArriveAlive via Twitter)

Maroela Media het vroeër berig paramedici het by hul aankoms op die toneel net voor 17:00 drie voertuie in die middel van die pad aangetref. Drie vroue was in die voertuie vasgevang. Die ander insittendes het verspreid oor die pad gelê.

Paramedici het die vroue wat in die een voertuig vasgevang was met gespesialiseerde reddingstoerusting uitgekry. Die een vrou is op die toneel dood verklaar.

Vyf insittendes was in ʼn kritieke toestand. Een van dié was ʼn tweejarige meisie. Vier ander het matige beserings opgedoen.

Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel. Hulle is daarna per ambulans na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.

Een vrou het op pad na die hospitaal ook aan haar beserings beswyk.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Sjo…dit wat die virus gespaar het gaan nou so uitgewis word…hoe tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.