Baba by padblokkade gebore

Argieffoto: Pixabay.com

ʼn Babadogtertjie het Sondagoggend kort ná middernag onverwags haar opwagting by ʼn padblokkade tussen Beaufort-Wes en Laingsburg in die Wes-Kaap gemaak.

Kenny Africa, woordvoerder van die Wes-Kaapse verkeersdienste, sê die padblokkade was een van verskeie “moegheidsbestuur-padblokkades” wat die verkeersdepartement reg oor die provinsie ingestel het om uitgeputte motoriste kans te gee om te rus eerder as om moeg agter die stuur te wees.

“’n Taxibestuurder het by die padblokkade stilgehou en vir hulp gevra omdat een van sy passasiers in kraam gegaan het. Beamptes van die plaaslike nooddienste het gehelp en die babadogtertjie is in die ambulans gebore,” sê Africa.

Hy het die mediese span geloof vir hul pogings om te verseker dat ma en baba gesond is.

Volgens Africa was daar geen ernstige gevalle op die provinsie se paaie deur die nag nie en het verkeersbeamptes gefokus op die moegheidsbestuur-padblokkades op paaie wat berug is vir noodlottige ongelukke. “Talle motoriste het van hierdie padblokkades gebruik gemaak om af te trek en te rus. Nooddienspersoneel het hul vrye tyd opgeoffer om by die padblokkades te help deur motoriste se bloeddruk, cholesterol- en suikervlakke te toets,” sê hy.

ʼn Tragiese voorval het hom wel Saterdag omstreeks 14:00 op die N1 tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka afgespeel toe ʼn vrou uit ʼn motor geklim het om haarself te verlig. Volgens Africa het die 34-jarige vrou die pad oorgesteek met haar baba op haar rug en is sy deur ʼn voertuig getref. Die vrou is op die toneel dood en die baba is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

… onverwags ne? Dis nou nuus! Hier uit die bloute… Wat sal Beaufort-Wes en Laingsburg nog oplewer. Miskien moet die ma ook ‘n boetekaartjie kry omdat sy nie geweet het of hoe ver sy trek nie en vir spoed. So spaar sy ook lekker mediese kostes… Die idee kan dalk posvat… Go Laingsburg for free deliveries…

Anti-John ·

John jou kommentaar is onvanpas. Soms kom ‘n baba vroeër as beplan; my eie kind is deur ‘n noodkeisersnee in die lewe gebring omdat sy onverwags 25 dae vroeër as die “due date” haar opwagting gemaak het. Ek is seker daarvan as hierdie mamma kon kies sou sy ‘n gemakliker plek gekies het om geboorte te skenk. Gelukkig was die mense wat haar gehelp het nie so bevooroordeeld en veroordelend soos jy nie.

Penellope Jones ·

Gelukkig tog was daar iemand wat haar kon help!
Voorspoed met die nuwe babatjie!

Anti.... ·

My dogtertjie is 3weke voor die due date gebore en glo my dit was onverwags aangesien my 1ste kind paar dae later as die due date gebore is! Ek moes nog gaan werk het aangesien dit “nog nie tyd was” vir haar om te kom nie, en dis toesighouer vir studente wat heeldag op jou voete behels! Werkgewer was maar ook so gevoelloos soos john! Maar nou ja, daar sal altyd n man wees wat sy onvanpaste opinie lig, wanneer hy nie n idee het waarvan hy praat nie!

RHG ·

John, nie alle vroue het die luukse van monitering met swangerskappe nie.
Dit is ‘n natuurlike proses wat nie noodwendig mediese onkoste het nie, veral nie as jy arm is nie.
Ek stel my voor dit moet benoude oomblikke wees as jou baba kom en jy is in ‘n taxi.
Al wat snaaks is wat jy skryf, is dat sy ‘n spoedkaartjie moet kry, of dan eerder die haastige baba.

Eddy ·

Dis onverskillig om die lang pad Ooskaap toe aan te pak terwyl jy hoogswanger is.Ongeag wanneer jou datum van kraam moet wees.Punt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.